Skip to main content

2 Konings 10

Jehu herinner ons daaraan dat God volledige gehoorsaamheid soek

2 Konings 10 gaan voort met die verhaal van Jehu se omverwerping van die huis van Agab, wat almal wat ’n regmatige aanspraak op die troon het – saam met regeringsamptenare, priesters en familievriende – op grusame wyse uitwis. Na Jehu die hele huis van Agab doodgemaak het, vernietig hy ook alle spore van Baäl-aanbidding in Samaria.

Teks en konteks

Jehu gaan voort om op grusame wyse die hele mansgeslag van Agab, 70 prinse in totaal, in Samaria deur die oudstes in Israel te laat “slag”. Hy gee in twee briewe sy opdragte aan hulle om óf iemand uit Agab se nageslag te kies wat hulle teen Jehu kan verdedig, óf om Agab se nageslag uit te wis. Hulle kies dus uit vrees die tweede opsie en maak al die seuns dood. So is ‘n einde gemaak aan die goddelose Omri-dinastie in die Noordryk.

Let op hoe slim Jehu te werk gaan om die amptenare aan sy kant te kry, wat ’n paleisrevolusie veroorsaak. Assirië het immers 3 jaar geneem voor Samaria in die laat 8ste eeu (722/1 vC) geval het en Israel in ballingskap weggevoer is. Jehu oorwin dus baie vinniger deur die amptenary aan sy kant te kry.

Jehu versprei egter op eiesinnige wyse die oordeel ook na die Suidryk toe, en vermoor Ahasia se 42 seuns, waarskynlik weens die verbintenis aan Agab se dogter, Atalia, die koningmoeder, en die Omri-dinastie.

Hoe Jehu egter hieruit enige voordeel kon trek, is onduidelik, en hiervoor is hy deur die nageslagte veroordeel (Hos 1:4). Hy het oorboord gegaan in sy geweld.

Op ’n verdere slinkse manier word die Baäldiens deur Jehu uit Israel verdelg. Jehu en Jonadab, ‘n Regabiet wat baie rein geleef het (vgl Jer 25), wis al die Baäldienaars uit, darem ná hulle seker gemaak het daar is nie mense wat die Here dien onder die aanbidders in die tempel nie.

Van die tempel se oorskot bou hulle kleinhuisies!

Maar, in die beoordeling van sy regering, kom ’n mens agter dat selfs dié grusame uitwissing nie genoeg was nie. Jehu het ongelukkig die goue kalwers in Bet-El en Dan laat voortbestaan, die nalatenskap van Jerobeam, en so nie genoeg gedoen om sy gehoorsaamheid aan die Here end uit te voltooi nie.

Die Here het Jehu gekomplimenteer: “Jy het goed gedoen deur uit te voer wat reg is in my oë. Alles wat Ek in gedagte gehad het vir die huis van Agab, het jy uitgevoer. Daarom sal daar vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

Maar, die kommentaar van Konings is daarby dat Jehu nie dit kon regkry om te hou by die wet van die Here om dit met sy hele hart te volg nie. Hy het gevolglik nie afgewyk van die sondes van Jerobeam waarmee hy Israel laat sondig het nie.

Hoewel die Here dus belowe om Jehu se kinders nog tot in die 4de geslag te seën, word die grondgebied van Israel al hoe kleiner, weens die rol wat Gasael van die Arameërs begin speel, presies dit waaroor Elisa lang trane gehuil het.

Boodskap en betekenis

Jehu se verhaal spel dus onomwonde uit dat die Here volledige gehoorsaamheid soek en niks minder nie. Waar God ‘n opdrag gee, kan ‘n mens nie dit sommer op eiesinnige wyse uitbrei soos Jehu dit gedoen het nie. Hy het byna die Dawid-huis saam met die Agab-huis uitgewis!

Hoewel die Here steeds genade vir Jehu en sy nageslag bewys, kon die Here egter nie verby die ernstige gebreke in sy karakter en gehoorsaamheid kyk nie. Ook nie verby die sondes van sy nageslag nie, want hoewel die vierde koning uit sy nageslag, Jerobeam II (786-746 vC), hulle grondgebied weer kon uitbrei – Jona tree in sy tyd op – het hy steeds gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

Jerobeam II se seun het dus nie koning geword nie, want Jerobeam II is in ‘n sameswering deur Sallum doodgemaak wat vir ‘n kort tyd die troon bestyg het. Skaars 25 jaar later is die Noordryk in ballingskap weggevoer (722/1 vC).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda