Grondteksbedrog?

Written by Chris van Wyk on 19/01/2012. Posted in Bybel

Print Friendly
Die week in Die Burger was daar twee briewe wat beswaar maak teen die sogenaamde grondteksverskuiwing in die Afrikaanse Bybelvertaling wat afwyk van die Textus Receptus, soos met die 1983 Afrikaanse vertaling gedoen is. In die een  brief word die huidige Bybelvertalers, predikante en selfs Christene aangekla dat hulle die grondteksbedrog aanvaar en word voorgestel dat ’n mens teruggaan na die ouer vertaling van 1933. In die ander brief word die Textus Receptus ook verkies bo ander tekstradisies, anders maak die wiskundige numeriese eienskappe en patrone in die Bybel nie meer sin nie.

’n Paar opmerkings:

  • Ek kan eerstens nie glo dat dit ‘n debat is wat nog relevant is nie, 30 jaar na die 1983 vertaling die lig gesien het, en daar in elk geval ‘n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel op pad is nie. En wat ek al gesien het van die nuwe vertalings, is uitstekend. Daar is al 9 Bybelboeke vertaal en is beskikbaar by: http://www.nuwekerkbybel.co.za/. Dit is juis ‘n bronteksgeoriënteerde vertaling! Gaan kyk gerus – ons eie prof Ernst Kotzé werk ywerig daaraan mee!
  • In die tweede plek: Beide briewe oorvereenvoudig die standpunte hieroor en maak boonop onder andere twee van die navorsers, Westcott en Hort, se navorsing verdag deur hulle van teksbedrog te beskuldig, sonder om dit met enige feite te staaf. Dit is doodgewoon onvanpas en nog onwaar ook! Hulle verswyg gerieflikheidshalwe die werk van Nestlé en Aland, Metzger en vele ander navorsers wat meegewerk het dat ons vandag ’n deeglike nagevorsde grondteks het vir die Bybel!
  • In die derde plek: Die Textus Receptus tradisie is reeds op talle plekke as foutief bewys, selfs deur aanhangers daarvan!  Dit is oorspronklik saamgestel uit Griekse NT tekste wat toe reeds onvolledig was/is.  Dit is toe deur die samesteller, Erasmus, aangevul uit die Latynse vertaling, die Vulgaat, boonop met foute en al.  Een van die foute is in Open 22:19 waar verkeerdelik “boek van die lewe” vertaal is ipv “boom van die lewe”! Die Textus Receptus kan dus glad nie aanspraak maak op ‘n meer oorspronklike teksbasis nie!
  • In die vierde plek: alle tekstradisies is saamgevoegde en geredigeerde tekste van feilbare mense. Nie een van die samestellers of van die tekstradisies kan staatmaak op absolute onfeilbaarheid nie. Die humanis Erasmus wat die Textus Receptus saamgestel het, is ook feilbaar, soos reeds uitgewys is, wat ook die Textus Receptus feilbaar maak . Wat geleerdes eintlik vandag doen, is om nie vas te val in die onvrugbare geveg oor watter tekstradisie nou meer oorspronklik is of nie, maar elke lesing op sy eie terme te beoordeel. Dit sou beter vir die briefskrywers wees om eerder oor die vertalings te praat, en die meriete daarvan te beoordeel, as om oor die oorspronklike teks te gesels, want hulle sal beter moet doen as om net verdag te maak.
  • In die vyfde plek: numerologie kan nie werk in ’n vertaling nie.  Daar is net te veel veranderlikes.  Dit werk ook nie in die Textus Receptus of in die OT Hebreeuse teks nie, want ons het nie die sogenaamde oorspronklike tekste nie.  Alle antieke tekste is oorgelewerde en “oor geskryfde” (gekopieerde) tekste, want die boekdruk kuns het nog nie in daardie tyd bestaan nie. En onthou, net een verandering aan die Textus Receptus is nodig om die hele wiskundige appelkar om te gooi …

Lees meer oor die verskillende standpunte oor die Textus Receptus by http://www.bible-researcher.com/kutilek1.html wat ‘n goeie standpunt hieroor het: “we refuse to be enslaved to the textual criticism opinions of either Erasmus or Westcott and Hort or for that matter any other scholars, whether Nestle, Aland, Metzger, Burgon, Hodges and Farstad, or anyone else. Rather, it is better to evaluate all variants in the text of the Greek New Testament on a reading by reading basis, that is, in those places where there are divergences in the manuscripts and between printed texts, the evidence for and against each reading should be thoroughly and carefully examined and weighed, and the arguments of the various schools of thought considered, and only then a judgment made.”


related post

Pieter Roux liked this post

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed