Bybelskool
Die motto van die Bybelskool
“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house. Give it plenty of room in your lives. Instruct and direct one another using good common sense. And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.
Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:
Die Woord is ‘n huis om in te woon
My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.
Aan die einde van 2008 het ons in die gemeente van Somerstrand begin om deur die Pentateug te werk, die eerste 5 boeke van die Bybel. Ons het ook die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, en daarna weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua en Rigters deurgelees.
Aan die einde van 2009 het ons die Bybelskool uitgebrei na die Internet toe en reeds
- 1 en 2 Samuel,
- Markus in vergelyking met die ander evangelies,
- 1 en 2 Konings,
- 1 en 2 Tessalonisense en 1 en 2 Korintiërs,
- Galasiërs, Romeine en Rut,
- Jesaja,
- Johannes en
- Lukas en Handelinge
deurgelees, met ‘n begeleidende bydrae elke weeksdag.
Individuele Internet gebruikers:
Enigiemand is welkom om die 7 vorige reekse wat hier aangebied word, op sy eie tempo deur te werk. Jy kan ook vrae vra, en ek sal so gou as wat ek kan daarop antwoord.
Ons lees in die volgende Bybelskool reeks die Psalms (1-41). Dit sal 13 Oktober 2011 ‘n aanvang neem.
Om die volgende reeks se bydraes per e-pos te ontvang:
- Registreer by hierdie blog.
- Jy sal outomaties die bydraes elke weeksdag ontvang wanneer dit weer begin.
- Lewer kommentaar – so leer ons almal by mekaar.
Gemeentes:
Ek dink julle kan op een van twee maniere inskakel, afhangende of julle lidmate toegang het tot die Internet of nie, en of julle ‘n geleentheid in julle gemeente wil skep óf vir ‘n eie Bybelskool óf vir julle kleingroepe:
- Werk met uitdeel drukstukke
- Druk bv. elke Woensdag daardie week se bydraes uit en versprei dit die Sondag aan deelnemers (gebruik die share button se print icon of die nuwe Print PDF opsie). Gee net erkenning deur die volgende daarby te druk: “met erkenning aan Dr Chris van Wyk by bybelskool.com. Alle regte voorbehou.”
- Laat hulle die Bybelgedeeltes deur die week lees aan die hand van die gedrukte bydraes. Dit sal dan ook telkens die kommentaar van ander insluit en hulle deel laat voel van die gesprek op die Internet.
- Help hulle net spesifiek om een of meer van die metodieke te kies om die Bybelteks te lees – ek het ‘n hele paar op die webtuiste gegee (kyk by Bybellees en druk dit ook vir hulle uit). Ek gee ook met elke wenke oor die lees-metodiek vir die dag.
- Kom weekliks bymekaar vir ‘n bespreking op ‘n aand of geleentheid wat julle pas. Ek vind dat ‘n uur die beste is. Werk die Bybelgedeeltes hoofstuk vir hoofstuk deur en vra telkens: 1) wat het jou getref in die gedeelte? 2) watter vrae het jy? 3) wat beteken die gedeelte vir jou?
- Dit kan of op ‘n gesamentlike plek wees (“Bybelskool”) of in kleingroepe waar julle leiers dit kan begelei, nadat julle hulle ‘n bietjie touwys gemaak het (of werk met ‘n weeklikse toerustingsgeleentheid vir die leiers).
- En bespreek daar die vorige week se leeswerk.
- Enige vrae of kommentaar kan dan deur een van die leiers/leraars self op die web geplaas word en op dié manier word hulle ingetrek in die gesprek op die webtuiste, en ek kan van daar af weer antwoord, in dié mate wat ek kan.
- Laat die deelnemers registreer by die webtuiste en die bydraes daar lees
- Kom steeds weekliks bymekaar vir ‘n bespreking op ‘n geleentheid wat julle pas – sommige doen dit in die oggend (manne groepe) en ander in die aand (gemeente groepe). Onthou net dat die patroon van Donderdag tot Woensdag werk, so beplan julle bespreking net daar rondom.
- Dit kan of op ‘n gesamentlike plek wees (“Bybelskool”) of in kleingroepe waar julle leiers dit kan begelei, nadat julle hulle ‘n bietjie touwys gemaak het (of werk met ‘n weeklikse toerustingsgeleentheid vir die leiers).
- En bespreek daar die vorige week se leeswerk. So kan julle volledig inspeel op wat in julle gemeente gebeur, maar julle is ook deel van ‘n wyer gesprek en kan vrae vra en bydraes lewer.
Laat weet as ek verder van hulp kan wees.


Comments (2)
ek wil meer inligting bekom rakende jul bybelskool
lei jul predikante ook op ?
Hi Dawid. Hierdie Bybelskool lei nie predikante op nie. Ons ontwikkel materiaal waarmee gewone gelowiges met meer insig die Bybel kan lees. Sommige predikante gebruik wel die stof vir ‘n weeklikse bespreking in hulle eie gemeentes of in ‘n soortgelyke Bybelskoolbyeenkoms as wat ek in my gemeente hou. Die grootste gebruikers is Bybelstudiegroepe wat die materiaal vir hulle weeklikse byeenkomste gebruik.