WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus
Die motto van hierdie Bybelskool
“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house. Give it plenty of room in your lives. Instruct and direct one another using good common sense. And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.
Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:
Om in die Woord te Woon.
My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.
Die evangelie van Markus
Ek wil nou die evangelie van Markus neem en dit saam met jou deur te lees, maar op ‘n baie spesifieke manier. Ek wil dit lees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kan uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.
Werkswyse
Ons gaan die evangelie van Markus in die volgende paar weke deurlees en telkens die tekste ook vergelyk met gedeeltes in die ander evangelies.
- Inleiding - ‘n Paar bydraes oor Markus en leesmetodes – Week 1
- Markus 1:1-3:6 – Die Proloog en Deel 1: Bekendstelling – Week 2
- Markus 3:7-6:6 – Deel 2: Impak op die skares, dissipels en teenstanders – Week 3
- Markus 6:7-8:21 – Deel 2: Vervolg – Week 4
- Markus 8:22-10:45 – Deel 3: Gefokusde aandag aan die dissipels – Week 5
- Markus 10:46-13:37 – Deel 4: Klimaks van die evangelie – Week 6
- Markus 14:1-16:20 – Deel 4: Vervolg en Die Epiloog – Week 7
Lekker lees!
WEEK 1: Bybelskool – Karakters na God se hart in 1 & 2 Samuel
Ons gaan kyk na die verhaal van Samuel, Saul en Dawid aan die hand van 4 hoofperspektiewe.
1. As ‘n verhaal van oorgange:
- van die laaste rigter na die eerste koning;
- van ‘n koning wat sy eie pad volg na ‘n koning wat aan God gehoorsaam is;
2. As ‘n verhaal wat fokus op die ware aanbidding van God:
- waarin Jerusalem en die Ark ‘n belangrike rol speel.
3. As ‘n verhaal wat fokus op ware leierskap:
- Die storie van die konings is die storie van die volk. Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk. Daar is maar net een manier om leierskap te beoefen, en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.
4. As ‘n verhaal wat wys hoe karakter werk:
- Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.
- Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel. Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
- Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd. Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie. En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets. Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
- Saul illustreer baie van die gevare van leierskap. Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
- Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei. En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is. Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm. Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.
Program
Week 1 – 1 Samuel 1-7
Week 2 – 1 Samuel 8-15
Week 3 – 1 Samuel 16-23
Week 4 – 1 Samuel 24-31
Week 5 – 2 Samuel 1-7
Week 6 – 2 Samuel 8-13
Week 7 – 2 Samuel 14-24
Didage
Ons begin die 4de Februarie met Didage op Woensdagaande. Soos gewoonlik eet ons saam om 18:00 (R25 per persoon, bespreek vooruit by die kerkkantoor – Alta Hanekom gaan ons vergas met haar wonderlike resepte!). Daarna begin ons met die Mid-Week aanbiedinge om 18:30.
Die aanbiedinge val in drie kategorieë – 1) ‘n fokus op Bybel en Teologie; 2) ‘n fokus op Geestelike Gewoontes; 3) Geloof in Aksie. Ons beplan om dit mettertyd ook na toerusting in geestelike vaardighede uit te brei, maar dit is nog toekomsmusiek!
Hierdie kwartaal kan jy dus een van die volgende 6 aanbiedinge bywoon:
BYBELSKOOL - Chris van Wyk (Bybel & Teologie fokus)
Ons lees die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels. Geskrywe deur Lukas, die dokter, fokus die evangelie van Lukas op die redding wat Jesus bring vir alle Jode, van die platteland in Galilea tot in die stad Jerusalem. Sy tweede boek, Handelinge, vertel die verhaal van die redding wat deur die werk van die Gees horisontaal versprei van die stad Jerusalem terug na die platteland, maar dan ook verder na Asië, Afrika, Europa en uiteindelik na die groot stad en magsentrum van daardie tyd, Rome.
Koste: R30 vir ‘n begeleiersgids – almal welkom
LECTIO DIVINA – Deon Loots (Geestelike Gewoontes fokus)
Lectio Divina – geestelike lees – is `n baie ou geestelike dissipline. Dit het ontstaan as `n manier van luister na die Woord van God in ‘n tyd van grootskaalse ongeletterdheid. Dit gaan dus oor die kuns om werklik te leer luister na die Woord en die relevansie daarvan vir jou eie lewe.
Tydens ons Lectio Divina sessies gaan ons met jou van die belangrikste beginsels rondom die benadering deel. Dit is alreeds lewensveranderend. Ons gaan dit daarom ook elke week prakties beoefen. Ons gaan dus leer deur dit self te doen en met mekaar te deel wat ons hoor.
Dit geskied in `n atmosfeer van stilte en luister. Ons sal ook gewyde musiek gebruik om onsself in te stem op God se teenwoordigheid.
GEESTELIKE GEWOONTES – Rethie van Niekerk (Geestelike Gewoontes fokus)
Die beoefening van geestelike gewoontes skep ‘n ruimte vir God om ons van binne af te verander. En ons leer dié gewoontes die beste aan in ‘n kleingroep wat dit saam met ons doen.
Adele Calhoun het ‘n unieke boek Spiritual Disciplines Handbook – Practices that transform us geskryf om ons hiermee te help. In plaas daarvan om haar boek net van hoek tot kant deur te lees, help sy mens om jou spesifieke behoefte aan God te verbind aan die geestelike gewoonte wat die beste daarby pas. As jy byvoorbeeld ‘n behoefte het om met meer deernis met ander te praat, woorde wat eg, liefdevol en genesend is, stel sy oefeninge voor om die gewoonte om jou “tong te beheer” te beoefen! As jy behoefte het om die teenwoordigheid van God in alles te kan raaksien, stel sy die gewoonte van kontemplasie voor. En daar is 60 ander …!
Koste: R280 vir Adele Calhoun se boek – net 20 persone
PROJEK EKSODUS – André Killian (Geestelike Gewoontes fokus)
André nooi 9 mense uit om saam met hom ‘n geestelike reis te onderneem aan die hand van die werkboek van John en Adrienne Carr Projek Eksodus (The Pilgrimage Project). Die doel van die reis is om aan die hand van die lewenshoofstukke van ons eie verhale te ontdek wat God se plan met ons lewens is. Hierin speel beide woestyntye sowel as braambostye ‘n belangrike rol. Die reis word afgesluit met ‘n vooruitkyk na die volgende hoofstuk wat God in jou lewe gaan skryf.
Koste: R20 per persoon vir die werkboek
HUWELIKSVOORBEREIDING – Deon Binneman (Geloof in Aksie fokus)
Hierdie praktiese huwelikskursus gee vir elke getroude paartjie die hulpmiddels vir die bou van ‘n sterk en gesonde huwelik wat ‘n leeftyd hou. Oor 8 weke gesels egpare oor belangrike sake wat maklik in die gejaag van die daaglikse lewe nie aandag kry nie. Onderwerpe sluit in: sien mekaar se behoeftes raak; leer om effektief te kommunikeer; hanteer konflik; genees seerkry uit die verlede; weet hoe om mekaar geliefd te laat voel; ouers en skoonouers; goeie seks; maak tyd vir mekaar en hê pret saam.
Elke paartjie se privaatheid word gerespekteer. Daar is geen groepsbespreking nie en niemand hoef enigiets oor hul verhouding bekend te maak nie. Elke aand begin met ‘n kerslig-ete. Daar is ‘n video-praatjie, gevolg deur ‘n geleentheid om die onderwerp as paartjie te bespreek.
Koste: R100 per paartjie vir die werkboek en R25 weekliks per persoon vir die etes
OP PAD MET GOD – Mariette Rossouw (Geestelike Gewoontes fokus)
Die pad saam met God is uniek en vol verrassings. As jy werklik met God leer wandel het, beloon Hy jou met ’n lewe van vreugde en oorwinning. Dan wil jy in toewyding voor Hom as jou Vader leef, en in troue navolging die voorbeeld van Jesus volg.
Op jou geestelike pad is daar verskillende seisoene waarin jou kommitment tot God sal verskil. Tog is dit juis hierdie kommitment wat die hoekpilaar vorm van ‘n lewe saam met God, waarin jy leer om:
- by God tot stilstand te kom: daar by Hom te skuil en van Hom te leer;
- tot God te nader: die dag saam met Hom te begin;
- in God vertroue, troos, beskerming en rus te vind;
- voor God te kom: met jou pyn, emosies en goeters;
- met God te wandel: bewus van die krag van Sy Gees;
- vir God te leef: mense bereik, te dien en te bedien, tot uitbreiding van Sy Koninkryk.
OP PAD MET GOD is “kringwees vir Christus” . Dit is vir jou as jy ‘n soeke na God het, of wil ervaar dat God met jou praat, ‘n nuwe geestelike tuiste of ‘n nuwe visie vir jou lewe soek, geestelike afplatting ervaar of gewoon net geestelik wil groei.
Koste: een foliogrootte hardebandboek vir jou joernaal (gespreksboek met God). Bring ook jou Bybel saam.
Fokus op Geestelike Gewoontes – 1ste kwartaal 09
Hierdie kwartaal gaan ons saam op ‘n reis om meer ruimte te maak vir God in ons lewe. Deur te fokus op GEESTELIKE GEWOONTES gaan ons die Heilige Gees kans gee om ons van binnekant af te verander. Hy is die een wat ons daarmee die DRUPPELS genade gee VIR DIE DORS wat ons na God het – soos ons bemarkingspamflet sê.
Vir elke erediens word daar ‘n Joernaal ontwikkel wat fokus op die geestelike gewoontes wat jou dors na God kan les. Jy kan dit gebruik vir persoonlike nadenke, vir kleingroepbyeenkomste, vir gesprek met geestelike vriende en vir huisgodsdiens. Alles sal ook weekliks op die webtuiste verskyn sodat jy kan bybly waar jy ook al op die aardbol rondreis (www.ngkerksomerstrand.co.za).
Op die blog kan jy ook deelneem aan gesprekke oor die weeklikse temas.
Waarom fokus ons op Geestelike Gewoontes?
Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat ‘n mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê.
Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie. Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.
Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk. Een van die tydbeproefde maniere om ruimte vir God te maak in ‘n mens se lewe, is om spesifieke geestelike gewoontes (of dissiplines) aan elkeen van hierdie begeertes na meer te verbind. Dit gee vir jou ‘n baie innoverende maar ook eg-persoonlike hulpmiddel vir geestelike groei. En só word ‘n mens ingetrek in God se werk wat ons lewens transformeer.
Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week. Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.
Ons nooi jou uit om jou ervarings en vrae deur die loop van dié kwartaal met ons te deel.

April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!