Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid
Ons het uitvoerig gisteraand oor die wet gesels. Ek het besluit om ‘n slag deeglik te gaan kyk wat ons belydenisskrifte daaroor sê. Ek wil êrens in die toekoms dan aandag gee aan wat die Bybelse boodskap, meer spesifiek Paulus, daaroor sê.
Die wet word nie in die 3 ekumeniese geloofsbelydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis of 12 artikels, en die Geloofsbelydenisse van Athanatius en Nicea genoem of aangewend om die Christelike geloof te definieer of verduidelik nie. Baie word oor God en die kerk en die geloof bely. Niks oor die wet nie.
Ek vind dit insiggewend. Dit kom vir my baie ooreen met die manier wat Paulus oor die wet skryf in Galasiërs en Romeine, waarin hy hom sterk verset teen die poging van die Joodse Christene om sekere dele van die wet: die Sabbat, die besnydenis en die eetgewoontes op Christene uit die heiden nasies af te forseer. Vir hom is geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees genoegsaam om mense se lewenswandel te rig, en enige poging om die wet hierby te sleep is op sy beste onnodig, en op sy slegste ‘n verdraaiing van die evangelie. Dit kan jou die genade van God laat verbeur.
Maar daaroor sal ek nog verder wil nadink.
Die situasie is egter merkbaar anders in die Gereformeerde wêreld. Die wet word uitvoerig in die 3 Formuliere van Eenheid gebruik, die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK) en die Dordtse Leerreëls (DL). En wat opval is die leerstellige en praktiese gebruik van die wet, dws om aan te dui hoe ons oor die wet en sy funksie moet dink en hoe ons die wet moet toelaat om ons lewens te rig. Daar word egter nie gepoog om ‘n Bybelse teologie van die wet te beskryf nie.
Terloops: die Belhar belydenis beweeg weer weg van die wet as ‘n riglyn, en gee geen aandag aan die wet in sy dogmatiese of Bybelse betekenis nie.
Ek sou graag in die toekoms as deel van die Bybelskool ‘n Bybelse teologie van die wet wou begin skryf, as aanvulling van die leerstellige uitspel daarvan in die belydenisskrifte.
Maar dit nou eers daargelaat. Kom ons kyk na die wyse waarop die wet in ons 3 Gereformeerde belydenisskrifte beskryf word. Want dit het ‘n onmeetbare invloed in ons selfverstaan en begrip van die geestelike lewe gehad. Die tanende invloed daarvan maak die wêreldbeeld wat dit help skep het nie sommer so ongedaan nie. En ek dink die bril wat dit ons gee waardeur ons die Bybel lees – ten regte of ten onregte – kan ons nie onderskat nie.
Galasiërs 5:13-6:17 – dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges
In die laaste deel van die brief aan die Galasiërs fokus Paulus op die Heilige Gees. En die geheim van ’n Geesvervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe en nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie. Dit bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel – óf jy dra al hoe meer die vrug van die Gees, óf jy word beheer deur jou sondige begeertes; óf jy lewe in die kragveld van die Gees óf in die kragveld van die vlees.
Maar ’n mens moet hierdie groei nie in die eerste plek persoonlik opneem nie.
Die lewe onder beheer van die Gees beteken dat sekere sondige praktyke (= meervoud, met die klem op wat mense doen) BINNE die gemeenskap van gelowiges vermy moet word. Let op dat 8 van die 15 sondige praktyke met konflik in die gemeenskap van gelowiges te make het (5:19-21): vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeelheid, skeuring en afguns.
Die res van die sondige praktyke het wel met jou persoonlike lewe te make. Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese waardes: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en uitspattigheid (oordadige etes) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke: afgodsdiens (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).
Die vrug (= enkelvoud, met die klem op hoe mense is) van die Gees[1] het eweneens direk met gedrag BINNE die gemeenskap van die gelowiges te make: liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en nederigheid. Selfs die ander 2 dele van die vrug het ’n impak op die gemeenskap van gelowiges: vreugde, selfbeheersing (vry EN verantwoordelik!), hoewel dit meer met jou persoonlike gedrag te make het. Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees. Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees.
Die lewe in die Gees het dus alles te make met ’n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges. Daarom dat Paulus vervolg in 5:26 met ’n verdere waarskuwing: “moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie,” en dit afsluit met ’n oproep om mekaar se laste (verwys heel moontlik terug na wanneer iemand in versoeking kom) te dra. Selfs wanneer iemand in sonde geval het, moet só ’n persoon met ’n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Alles om die gemeenskap van die gelowiges te beskerm. En daarin moet alle gelowiges volhard: “laat ons nie moeg word om goed te doen nie.”
Soos in van sy ander briewe (1 Kor 16:21; Kol 4:18; 2 Tess 3:17) sluit Paulus dié een af in sy eie handskrif. En dit is heel gepas ’n snydende aanval op die besnydenis voorstanders. Hy wys onder andere uit dat hulle dit eintlik om selfsugtig redes doen, om met hulle beheer oor die liggaam van ander te kan spog. “Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is” (6:15). Hierdie nuwe mense, mense wat vry gemaak is deur Christus, is die ware Israel – die eerste keer dat hy so prontuit hierdie term gebruik en op die kerk van toepassing maak (Romeine 9-11 brei hierop uit).
[1] Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word. In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel: 1) Gawes van God: liefde, vreugde, vrede; 2) Gawes vir die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedhartigheid; 3) Gawes vir die gemeenskap: getrouheid, nederigheid, selfbeheersing. Veral die laaste drie, wat as Christelike deugdes verklaar kan word, sou deur die Griekse wysgere hoog aangeslaan word.
Galasiërs 4:21-5:12 – geloof wat deur dade tot liefde oorgaan
Paulus skuif na die onderwerp van die verbond, en probeer in die gedeelte ’n argument daarvoor uitmaak dat die verhouding wat daar tussen hulle en God tot stand gekom het, gekom het deur die geloof en deur Christus, nie deur die wet en die besnydenis nie. Die verhouding kan ook net in stand gehou word deur geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan, nie deur die wet se voorskrifte slaafs na te volg nie.
Verbondskinders deur geloof
Hy begin deur die teologie van die Jode af te skiet wat die nakom van die wet beklemtoon.
Nou ’n mens moet onthou dat daar natuurlik ook ’n positiewe funksie van wette is. Ons het almal waardering vir sekere wette, bv. padreëls. Dit beskerm almal van ons. Dit behoort ’n rit op ons paaie veilig te maak, ten minste in die teorie!
Só ’n funksie het die Tien Gebooie ook. Dit beskerm families deur ouerliefde uit te spel (5de gebod); dit beskerm lewe deur ’n verbod op doodmaak te plaas (6de gebod); dit beskerm die huwelik deur ’n verbod op egbreuk te plaas (7de gebod); ensomeer.
Maar dit is nie waarvan Paulus hier praat nie. Die Joodse wet het ’n negatiewe kant. EEN: Die wet laat jou dink dat jy God se guns kan wen deur die wet na te kom, en dan word jy verras deur jou sondige natuur wat jou nie toelaat om alles in detail na te kom nie. Die wet het geblyk ’n doodloopstraat te wees in terme van ons verhouding met God. Soos Paulus dit hier uitspel – die wet was ’n vloek, want dit kon jou nie red nie (3:10). Net Jesus was in staat om die wet 100% na te kom. Niemand anders kon dit ooit doen nie, nie eers Paulus nie (Paulus gaan hierop uitbrei in Romeine 1-8).
TWEE: Die wet laat jou grense trek tussen dié wat binne is en dié wat buite is. Dit skep ’n eksklusiewe godsdiens. En dan wil jy hê almal moet soos jy wees. In terme van die Joodse wet: almal moet besny wees; almal moet die Sabbat hou; almal moet vark vermy. En só dryf jy mense uit mekaar en eer jy nie die eenheid wat God tussen diverse mense tot stand wil bring nie.
Dit is immers waarvoor Jesus Christus gekom het, sodat ons vry van die vloek van die wet kan word en in ’n verbondsgemeenskap met God kon lewe. En ons het deel aan dié verbond deur geloof en nie deur die wet nie.
Verbondskinders kragtens die belofte
Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy ook nog die wet probeer nakom (5:4), veral deur jou te besny. Want dan moet jy die hele wet nakom – jy kan nie selektief wees en net 1 of 2 goed kies wat jou pas om na te kom nie. Daarom dat hy dit daarteenoor so beklemtoon: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6).
Hy gebruik (moontlik gebaseer op ’n soortgelyke allegorie van die Jode) Hagar en Sara as figuurlike simbole van twee verbonde wat teenoor mekaar staan:
- Hagar, die slavin, staan vir die verbond van die wet; Sara, die vrygeborene, staan vir die verbond van die belofte.
- Hagar het ’n kind gehad volgens hulle eie besluit. Sara het ’n kind gehad volgens God se belofte.
- Hagar staan (volgens Paulus se allegoriese verstaan) vir Sinaiberg wat ’n beeld is van die huidige Jerusalem (as geestelike sentrum); Sara, by implikasie, staan vir die hemelse Jerusalem.
Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte, kinders wat vrygeborenes is, en wat hulle nie weer onder ’n slawejuk moet begeef nie. Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.
Verbondskinders deur Christus
Paulus maak daarom ’n dringende appèl op hulle om nie hulle band met Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie. En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind. Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …
Betekenis
Paulus probeer hiermee dus die volgende regkry:
- Hulle identiteit moet in Christus gesoek word en nie in die Joodse wet- en kultuurgebruike nie, anders loop hulle gevaar om terug te val in ’n eksklusiewe Joodse geloof.
- Hulle gedrag moet in ’n geloofsverhouding met Christus gevestig wees (wat hy in die volgende hoofstuk in terme van die Gees gaan uitspel), anders loop hulle gevaar om te leef asof Christus nog nie gekom het nie.
En moenie dink dat ons vry is van hierdie versoeking nie. Dink net terug aan die sabbatswetgewing wat nog tot onlangs deel van ons land se wette was (nogal toegepas op ’n Sondag!) en in die kerk met oorgawe nagevolg is. Dit berus op ’n Joodse interpretasie van die wet, nogal ’n verskraalde een, want ons het nie die besnydenis toegepas nie! En dan praat ons nie eers van die stig van aparte kerke wat op ’n ras-gebaseerde interpretasie van die Skrif gebaseer was nie, en eweneens ’n wet vir die gemeenskap van gelowiges geword het nie. Ons kerk ly nou nog aan die gevolge van daardie dwaasheid.
Paulus se woorde is dus gemik teen enige reël wat ons van toepassing maak op die gemeenskap van die gelowiges en wat nie met geloof en Christus in die eerste plek te make het nie.
Om dit saam te vat: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6). Dit moet ons in ons eie lewe navolg, en ander toelaat om dit op hulle eie wyse na te volg.
Galasiërs 3:1-4:20 – Dié wat glo, is kinders van Abraham
Met die preek aan Petrus (2:14) en die boodskap van Solus Christus in 2:15-21 as vertrekpunt, struktureer Paulus nou op vernuftige wyse sy praktiese lering aan hulle in drie siklusse in die res van die brief. Hy gesels agtereenvolgens oor:
1. die vryspraak wat God gee deur geloof ipv deur die wet (3:1-4:20);
2. die verbondsgemeenskap wat God sluit op grond van die vashou aan sy belofte (Sara) ipv op grond van die gehoorsaamheid aan die wet (Hagar) (4:21-5:12);
3. die vryheid van ’n lewe beheer deur die Gees ipv deur sondige begeertes (5:13-6:17). Telkens leer hy hulle met ‘n begronding, ‘n toepassing en ’n appèl:
| Begronding | Toepassing | Appèl | |
| VRYSPRAAK | 3:1-4:7 –in geloof ipv die wet | 4:8-11 – wil julle weer slawe wees van die wet? | 4:12-20 – ons het die pad tog saam geloop! |
| VERBONDSGEMEENSKAP | 4:21-27 – in die belofte (Sara) ipv die wet (Hagar) | 4:28-5:1 – julle is kinders van God kragtens die belofte | 5:2-12 – julle moenie die band met Christus verbreek nie! |
| VRYHEID | 5:13-24 – deur die Gees ipv die sondige natuur | 5:25-6:10 – laat die Gees julle gedrag bepaal | 6:11-17 – julle is nuwe mense! |
Vryspraak deur geloof
Paulus begin met ’n skoot sarkasme om die Galasiërs te ruk uit hulle onbegrip. God se werk in hulle het ’n werklikheid geword deur die geloof en die krag van die Heilige Gees, nie deur die wet of hulle eie krag nie.
Paulus verduidelik dit met ’n verwysing na Abraham en die betekenis wat dit vir die gelowiges uit die heidennasies het om te glo soos Abraham (3:6-9), in dieselfde seën as Abraham te deel (3:14) en sy nakomelinge te wees.
Dit doen hy om twee redes.
1. Omdat God se beloftes aan Abraham gemaak is en deur hom in geloof aanvaar is. Die vryspraak is daarom ’n geloofswerklikheid. Elkeen wat glo soos Abraham deel in die belofte en die verbond aan Abraham (3:9,16).
2. Omdat sy teenstanders – heel moontlik op grond van Gen 17:13 – daarteenoor geleer het dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ’n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word.
Daarom haal Paulus in 3:6 ook uit Genesis aan, maar uit hoofstuk 15:6, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word. Die gebeurtenis gaan na sy mening die verhaal van hoofstuk 17 oor die besnydenis vooraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis! Hy sou later in Romeine 4:13 vv verder hieroor skrywe.
Paulus beklemtoon dus dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham. “dié wat glo, (is) kinders van Abraham” (3:6). Dit geld ook die wet wat ook eers na die Uittog uit Egipte aan die volk gegee is, meer as 400 jaar later (3:17).
Boonop was dit bedoel as ’n tydelike maatreël (3:19) totdat dié nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang. Om die waarheid te sê: “die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.” (3:22). Solus Christus, en Sola fide.
Vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit natuurlik geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.
Paulus weet egter dat sulke argumente die dood in die pot is vir geloof in God onder die heidennasies. As jy eers ’n Jood moet word voor jy regtig ’n Christen kan wees, word die sentrale betekenis van die Christus-evangelie versaak en word nie net ’n kulturele kenmerk ’n voorwaarde vir geloof gemaak nie, maar word wetsgehoorsaamheid beklemtoon bo die genade wat deur die geloof werk.
En dit kan nie. Dit rand die betekenis van die vryheid wat Christus gebring het van die wet in sy wese aan. En dit maak van die Christelike geloof ’n eksklusiewe Joodse beweging wat nie universele impak kan hê nie, omdat dit nie die heidennasies kan insluit nie. Gelukkig dat Paulus se interpretasie van die evangelie die deurslag gegee het. Anders het ons, almal vanuit heidennasies, Christus nie vandag geken nie!
In Christus Jesus is julle almal één
Die praktiese implikasie hiervan is geweldig.
Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie. Daardie rol word nou deur geloof vervul. Elkeen wat glo, behoort aan Christus en is daarom nakomelinge (let op hoe Paulus regdeur die gedeelte wissel tussen die enkelvoud en die meervoud, afhangende of hy oor Christus of oor die gelowiges wil praat) van Abraham en deel van die verbondsbeloftes van God.
Dit beteken ook dat in Christus is almal één (3:28). Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie. In Christus Jesus is almal nou één. Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook deel van elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het. En daar is geen onderskeid nie. Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid of gender is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus. ’n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!
Paulus pas dit nog verder toe in 4:1-7 om te keer dat hulle weer slawe van die wettiese reëls sou word, omdat hulle immers nou vry mense is.
Onthou die vreugde van julle gesamentlike geloof
Dan gaan hy aan om ’n appèl tot hulle te rig in 4:8-20 op die basis van hulle gedeelde pad. Dit is deur die bediening van Paulus dat die Galasiërs God leer ken het – “of liewer, noudat Hy julle ken”! (4:9) – en hy vrees dat sy harde werk verniet sou kon wees.
Daarom smeek hy hulle om nie van die (sy) evangelie afvallig te raak nie; om terug te dink aan hoe hulle die evangelie die eerste keer ontvang het; om sy insette, al was hy siek, te onthou; om die vreugde te herroep van hulle eerste bewussyn van Christus, waarin hulle Paulus ervaar het “asof ek Christus Jesus self was”. “Daardie mense” moet hulle dus nie van hulle eerste vreugde ontroof nie. Daarvoor pleit Paulus (’n mens hoor hierin die soortgelyke oproep van Johannes aan die gemeente van Efese in Openbaring 2:1-7).
Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef
Dit tref my dat Paulus die Goddelike oorsprong van sy apostelskap so beklemtoon aan die begin van hierdie brief. Aan die een kant is dit ’n belangrike boodskap vir die Galasiërs, omdat dit juis sy status as apostel is wat in die gedrang is by hulle. En die hele eerste twee hoofstukke sal daaroor handel.
Maar aan die ander kant tref dit my dat hierdie bewussyn van ’n Goddelike roeping so ontsettend belangrik is in die Christelike lewe. “Dat ek ’n apostel is” – en vervang die woord apostel nou maar met enige ander roeping wat God jou gee – “dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus” (1:1-2). Sonder hierdie besef kan ’n mens nie jou werk vir die Here met vertroue, verwagting en veral volharding doen nie.
En hierdie roeping kan baie vorms aanneem. Sommige het ’n roeping na ’n amp (ouderling, diaken, kategeet, jeugwerker, leraar). Ander het ’n roeping rondom ’n gawe (gasvryheid, leierskap, skilder, bemoediging, skryf, omgee). Nog ander het ’n roeping rondom ’n saak (armoede, onreg, misdaad, gesondheid, omgewing, gemeenskap, opvoeding). Die vorm maak nie saak nie – die verbintenis aan ’n roeping wat God gee, maak baie saak.
Neem ’n tydjie vandag om na te dink oor jou roeping.
- As jy nie seker is daarvan nie, vra ’n oortuiging van die Here (en onthou, jy kan al reeds besig wees daarmee, al sien jy dit nog nie so raak nie!).
- As jy seker is daarvan, maak dit weer ’n top prioriteit in jou lewe en stel jou vertroue weer in die Here om met verwagting en volharding jou roeping uit te leef.
Let op dat Paulus in vers 6 nie soos gebruiklik met ’n dankie-sê begin nie. In al sy vorige briewe is daar ’n dankwoord vir die gemeente. In sy brief aan die Tessalonisense dank hy God vir hulle geloof, hoop en liefde en aan die Korintiërs vir hulle gawes. Trouens in al sy ander briewe is daar ook ’n dankwoord van een of ander aard: vir hulle geloof (Romeine), vir hulle samewerking in die evangelie (Filippense), vir liefde en trou (Filemon), vir hulle geloof en liefde wat vrug dra (Kolossense, Efesiërs).
Paulus begin hier egter onmiddellik met sy bekommernis oor hulle dat hulle so gou afvallig geword het en ’n ander evangelie aangeneem het. En hy spreek ’n dubbele vloek uit oor enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as hy (:8-9). Later sal hy skryf: “die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf” (5:10).
Let op hoe Paulus hier drie stories vertel om die besware teen sy apostelskap te besweer:
1. hy spel duidelik uit dat hy sy evangelie van Jesus Christus self ontvang het en dus nie van Jerusalem se apostels nie deur uit te brei op sy destydse vervolgingsgeskiedenis en genadige ontmoeting met God wat tot sy bekering en roeping gelei het, waarin, en dis belangrik, die ander apostels geen aandeel gehad het nie (1:13-24);
2. hy verduidelik dat Jerusalem se mense saamgestem het met die greep wat hy op die evangelie gehad het met sy latere besoek, 14 jaar later, aan hulle, saam met Barnabas en Titus. Let ook op dat hy die besoek ook aan God se werk wyt! Saam het hulle ’n verdeling van pligte gemaak: Petrus na die Jode, Paulus na die nie-Jode. En die pilare van die gemeente, Jakobus (waarskynlik Jesus se broer), Johannes en Petrus, het hulle instemming daarmee betuig. Titus, wat van nie-Joodse afkoms was, is daarom ook nie besny nie, in lyn met die evangelie (in teenstelling met Timoteus, wat van gemengde Joods en nie-Joodse afkoms was en daarom wel besny is – vgl Hand 16:1-3). Let ook op dat die saak van die armes hier al op die tafel gekom het, wat die klem daarop in die brief aan die Korintiërs (2 Kor 8-9) en Romeine (hfst. 15) verklaar (2:1-10);
3. hy wys onomwonde uit dat dit Jerusalem se mense is, Sefas by name, wat afgewyk het van die evangelie waaroor hulle saamgestem het. Selfs Barnabas is daardeur meegesleur om te huigel. Interessant dat hy aanvanklik Petrus se Griekse naam, Petrus, gebruik en dan voortgaan met Sefas, die Aramese vorm van die naam. Miskien is dit ’n nie-so-subtiele beskrywing van ’n terugval in Joodse gebruike eerder as die universele boodskap van die evangelie. (2:10-14).
Paulus se preek aan Petrus by dié geleentheid in Antiogië – wat hy aanhaal in 2:14 – word dan die sentrale argument waarop Paulus sy verdere boodskap aan die Galasiërs bou (2:15-21), dat ’n mens nie vir Christus kan kies EN ook om die wet te onderhou nie. Let op hoe hier een van die sentrale boodskappe van die Reformasie 16 eeue later ingebed lê: Solus Christus, Jesus Christus alleen.[1]
2:17-21 is ’n ingewikkelde argument waarmee Paulus eintlik net probeer sê: ek het die lewe deur Christus en nie deur die wet nie.
[1] Uit die Reformasie is 5 solas gebore waarmee die boodskap daarvan opgesom kan word: Sola scriptura (deur die Skrif alleen), Sola fide (deur geloof alleen), Sola gratia (deur genade alleen), Solus Christus, (deur Christus alleen), Sola Deo gloria (tot die eer van God alleen). Die 5 solas moet as ’n eenheid gesien word.

February 20, 2012 (9:49) Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig o...
February 15, 2012 (11:18) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Daar is nie eenvoudige antwoorde daarop nie. Die een wat vir my die meeste sin maak, is om die o...
February 15, 2012 (9:23) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ek weet die ultimate antwoord kom by die Goddelikheid uit. Maar meer aards, deur wie?
February 15, 2012 (2:54) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ten minste het ons in Timoteus dus 'n standaard waarmee ons kan werk. Die Here soek natuurlik oo...
February 15, 2012 (11:29) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Asseblief! Hierdie is persoonlike ervaring en iets wat n algemene siening iswas waarheen ek ook a...