Aan die Galasiërs

Written by Chris van Wyk on 07/10/2010. Posted in Galasiërs

Paulus skryf hierdie brief aan die “gemeentes in Galasië” (1:2) wat aandui dat dit as ’n omsendbrief bedoel was.  Hy skryf dit saam met/namens al die gelowiges by hom, óf van Korinte óf van Efese af.  ’n Sekretaris het hom heel moontlik weer bygestaan (6:11).

Watter Galasië?

Dit is onseker watter Galasië bedoel word, omdat daar twee landstreke was wat Galasië genoem is:

  1. Die suidelike etnies-geografiese gebied Galasië in sentraal Klein-Asië (Turkye) waar immigrante van Gallië (Frankryk) hulle gevestig het in die 3de eeu v C en wat die gebiede van Pisidië (Hand 13:14; 14:24), Likaonië (14:6 – twee van die stede hier word ook deur Lukas genoem: Listra en Derbe) en Frigië (2:10 – van die Joodse gelowiges van hier af was op Pinksterdag in Jerusalem; 16:6; 18:23) ingesluit het (die sogenaamde Suid-Galasië-teorie).
  2. Die Romeinse provinsie van Galasië wat ook die noordelike dele van Klein-Asië ingesluit het (die sogenaamde Noord-Galasië-teorie).

Indien Paulus aan gemeentes in die etnies-geografiese gebied geskryf het, ’n streek wat Paulus op sy eerste en tweede sendingreis besoek het, het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Korinte geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Tessalonika, ongeveer in die jaar 50 n C.  Dan verwys hy ook in Galasiërs 4:13 na sy eerste besoek aan hulle, soos Lukas dit in Handelinge 13-14 beskrywe het.  Sy tweede besoek was dan op sy tweede sendingreis, soos Hand 16:6 dit beskrywe.

Indien die brief aan die breër Romeinse provinsie geskryf is, ’n streek wat Paulus op sy tweede sendingreis besoek het (16:6), het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Efese geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Rome, ongeveer in die jaar 53 n C.  Dan verwys Galasiërs 4:13 waarskynlik na sy eerste besoek, soos Lukas in Hand 16:6 dit beskryf, en was sy tweede besoek aan hulle op sy derde sendingreis, soos Hand 18:23 dit beskryf.

As ’n mens die inhoud van die brief vergelyk met wat met sy besoek aan die Romeinse provinsie gebeur het, lyk die eerste moontlikheid meer waarskynlik, hoewel ’n mens moet erken dat daar te min oor die ander besoeke (Hand 16 en 18) bekend is, om ’n besliste keuse te maak.

Ooreenkomste met Handelinge 13

Die brief pas baie goed in by die situasie wat Lukas vir ons in Handelinge 13 beskrywe.  Lees vandag Handelinge 13:13-51 as agtergrond vir ons studie van Galasiërs.

In Antiochië in Pisidië (Hand 13) het Paulus op sy eerste sendingreis ’n belangrike toespraak in die sinagoge gehou,  waar hy baie spesifiek nie net aansluit by die Joodse geskiedenis van Moses tot Dawid nie, maar die gelowiges die nakomelinge van Abraham noem (13:26 – vgl Gal 3:29).  Baie van die Jode en ook heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, het Paulus se boodskap aanvaar.  Hoewel die Jode die volgende sabbat begin het om die stad teen Paulus op te sweep (byna die hele stad was daar – Hand 13:44!), het ook baie heidene die woord van die Here aanvaar en gelowig geword.  Dit het die evangelie soos ’n veldbrand vanuit hierdie stad dwarsdeur die hele streek laat versprei.

En let op hoe Lukas die gelowiges van Antiochië (onthou daar was ook ’n ander Antiochië in Sirië, vanwaar Paulus telkens sy sendingreise onderneem het) beskryf as “vol blydskap en vol van die Heilige Gees” (13:52), die ander groot tema waarop Paulus in die brief aan die Galasiërs sal uitbrei (Gal 3-6).

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed