Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo
Let op die meer uitvoerige bekendstelling van Paulus in sy skrywe aan die Romeine. Hoewel hy baie van hulle ken (vgl hfst. 16), was daar talle wat hom nie geken het nie.
Anders as met die Galasiërs prys hy hulle vir hulle geloof, en wil hulle juis besoek om 1) wedersyds in die geloof versterk te word en 2) soos op ander plekke sy roeping om mense vir Christus te wen, na te kom (vgl 1 Kor 9). Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes soos die Grieke ander genoem het), die ontwikkeldes (wyses) en die ongeleerdes (ongeletterd) in.
Let op hoe opgewonde hy is oor die ingeboude krag van God in die evangelie van Jesus Christus wat mense vryspreek. En dit is vir Jode sowel as Grieke (Hellene of heidene): “enkel en alleen omdat hulle glo” (Hab 2:4). Sola fide – die hoofboodskap van dié brief.
Met hierdie inleiding roer hy sy eerste onderwerp aan wat tot aan die einde van hoofstuk 4 behandel sal word: God se voorsiening vir die probleem van die sonde geïllustreer in die voorbeeld van Abraham, waardeur aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitgewys gaan word, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus wat mense vryspreek.
1:18-23 teken ’n goddelose mensdom (adikia – ongeregtig) wat ten spyte van God se algemene openbaring in die skepping Hom nie erken nie. Niemand kan egter hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af daar. Hulle wysheid is eintlik dwaasheid, want dit lei tot afgodery. Hulle verruil die Skepper vir die skepping.
1:24-32 teken die Goddelike gevolge hiervan vir mense. Drie keer word gesê: “Daarom gee God hulle oor” (24,26,28). Dit het ’n impak op seksualiteit, beide in terme van heteroseksuele (24-25) en homoseksuele losbandigheid (26-27), asook op onbetaamlike gedrag, ’n lysie van 24 ondeugdes (28-31). God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie (hoewel Hy ’n alternatief in Jesus Christus geskep het, maar daaroor sal Paulus eers later praat).
Opmerkings oor Homoseksualiteit
Homoseksuele dade word afgekeur in die Ou Testament. Die boek van Levitikus verbied homoseksuele dade sonder meer – ’n man mag nie met ’n man seks hê nie (18:22; 20:13). En twee verhale van pogings tot homoseksuele dade word ook afkeurend vertel, maar veral omdat dit op gewelddadige verkragting sou neerkom (Gen 19:5; Rigt 19:22). Genesis en Levitikus, as deel van die Pentateug of Torâ (Gen-Deut), en Rigters as een van die Vroeë Profete het saam met die ander Profete en Geskrifte die Bybel van die Nuwe Testamentiese gemeenskap gevorm.
Hoewel Jesus sy keuse vir die permanensie van ’n liefdesverhouding in die huwelik duidelik maak en in God se skeppingsbedoeling begrond (Matt 19:4-6) en natuurlik ook sy afkeur van losbandigheid en egbreuk in die Bergrede duidelik toon (Matt 5:27-28, 31-32; vgl ook Mark 7:20-22), sê Hy niks oor homoseksuele dade nie. Hy praat wel oor die keuse om selibaat te lewe (Matt 19:11-12), maar nie oor homoseksuele dade of homoseksualiteit nie.
Wat Jesus wel doen, is om die wet in sy volle konsekwensies te vervul (Matt 5:17; Luk 24:44), dit selfs te radikaliseer en nuut te interpreteer (Matt 5:21-48 – oor versoening, kuisheid, egskeiding, eed aflê, vergelding en liefde vir die vyand) om ons in ’n nuwe vrygespreekte verhouding met Hom te bring.
Hierdie vervulling van die wet deur Jesus is deur Paulus geïnterpreteer as dat die wet van Moses (Torâ) nie meer die deurslag gee in die lewe van gelowiges nie (die besnydenis is bv. nie meer noodsaaklik nie, hoewel dit ’n sentrale deel van die wet was – vlg Gal 5:2-12) maar die lewe deur die Gees van Christus of soos Paulus dit aan die Galasiërs stel: “al wat van belang is, is die geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6). As die Gees gelowiges lei, staan hulle nie meer onder die wet nie (5:18).
Die enigste skrywer in die Nuwe Testament wat oor homoseksuele dade praat, is egter ook Paulus. In twee van sy briewe wys hy homoseksuele dade in ’n enkel frase af. In 1 Kor 6:9 het hy waarskynlik mans wat seks het met seuns (malakos – pedofilie of pederastie) en/of mans wat seks het met manlike prostitute (arsenokoitus) in gedagte. In 1 Tim 1:10 het hy ook waarskynlik seks met manlike prostitute in gedagte (arsenokoitus). Dit val vir hom in dieselfde kategorie as heteroseksuele losbandigheid (pornoi) wat in albei gevalle ook in dieselfde tekste genoem en afgewys word.
In Romeine 1 voer hy ’n meer uitvoerige argument waarin eers na heteroseksuele losbandigheid verwys word (24-25), en dan na homoseksuele losbandigheid (26-27).
- In die heteroseksuele losbandigheid is die fokus op die disrespek (ontering) vir God en vir mekaar se liggame. Dit word as verdraaiing van die waarheid en Godsonterend geteken.
- In die homoseksuele losbandigheid is die fokus ook op disrespek, maar in dié geval die disrespek vir die natuurlike omgang met die teenoorgestelde heteroseksuele geslag. Dit word as skandelik (disgraceful), teen-natuurlik en pervers uitgebeeld.
Paulus wys dus alle heteroseksuele EN homoseksuele losbandigheid af. In beide gevalle is dit disrespekvol teenoor God en teenoor mense se liggame.
Die vraag is nou, sou ’n permanente homoseksuele verhouding wel vir Paulus en die res van die Bybelskrywers aanvaarbaar wees – soos ’n permanente heteroseksuele verhouding dit wel was?
Wel, ons kan hulle nie vra nie! Nie Paulus nie, en ook geeneen van die ander Bybelskrywers nie, skryf oor permanente homoseksuele verhoudings waarin twee mense van dieselfde geslag in liefde en trou met mekaar saamleef nie. Ons weet dat sulke verhoudings nie noodwendig onbekend was vir hulle nie (hoewel daar sommige is wat dit, vir my gevoel, ten onregte beweer). Daar is bv. sprake van langtermyn verhoudings by van die Griekse filosowe (Sokrates, Plato – beide skrywe in elk geval goedkeurend oor homoseksuele verhoudings) en selfs van huwelike tussen mans in die Romeinse tyd (Nero), hoewel ek nie my oor die presiese historisiteit daarvan wil uitlaat nie. Die homoseksuele huwelikspraktyk is eers in die 4de eeu met wetgewing beëindig met die vestiging van die Christelike godsdiens as staatsgodsdiens.
Die Bybelskrywers skryf ook nie oor gelowige homoseksuele mense wat in ’n langtermyn verhouding is nie, mense wat juis nie disrespekvol teenoor God of hulle naaste wil leef nie.
Is permanente homoseksuele verhoudings dus vir gelowiges wat hulle deur die Gees laat lei, en wat ’n premie sit op Bybelse verantwoordbaarheid, aanvaarbaar?
Miskien is Adrio König reg (Wat is reg? Weet iemand dalk? 2005:85 vv) wat voorstel dat ons aan die een kant die antwoord aan individue se gewetens oorlaat EN aan die ander kant gemeentes moet toelaat om self te onderskei en in die lig wat hulle van God kry, op te tree.
Ek sal graag luister na die wysheid van die groep gelowiges wat saam met my die pad met Romeine stap. Hoe lei die Gees jou in die lig van die Bybelse boodskap?
Die brief aan die Romeine
Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 vC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3). Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .
Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)
Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15). En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie? Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).
Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees. Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26. Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.
Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees. God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.
Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het. Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).
Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog. ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies. Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).
Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33). Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.
Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms). Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).
Leesplan
Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:
1. Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;
2. Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;
3. Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;
4. Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.
Ons gaan die brief in die volgende 3 weke deurlees:
- Hfst. 1-4 – 21-27 Oktober
- Hfst. 5-8 – 28 Oktober tot 3 November
- Hfst. 9-16 – 4-10 November.
Daarna sluit ons hierdie kwartaal se Bybelskool af met die lieflike kortverhaal Rut.

April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!