Rut 4 – God gee ‘n wonderlike uitkoms
Die verhaal bereik sy hoogtepunt met die ontknoping wat plaasvind in die stadspoort, die plek waar alles van belang, van handel- tot regsake voltrek is.
Let op hoe Boas ‘n fyn strategie uitwerk waarin dit nie net die losser-gebruik is wat in spel kom nie, maar ook die gebruik van die sogenaamde swaershuwelik (vgl ook die Juda-Tamar-verhaal in Gen 38 waarna later in die hoofstuk verwys word).
Hierdie gebruik het volgens Deut 25:5–10 bepaal dat as iemand sonder kinders sterf, een van sy broers verplig was om met sy weduwee te trou. Die eerste seun uit hierdie “swaershuwelik” geld dan as die seun en erfgenaam van die oorledene.
Die broer kon die verpligting ontduik deur ’n verklaring voor die oudstes van die dorp af te lê. Dit is egter as oneerbaar beskou. Die weduwee kon dan sy skoen uittrek en hom in sy gesig spoeg omdat hy nie sy broer se huis in stand hou nie.
Let op hoe Boas klem lê op haar Moabitiese afkoms, waarmee hy natuurlik hoop dat die familielid nie verder sou belang stel nie. Die nader familielid het inderdaad nie hiervoor kans gesien nie, en daarmee slaag Boas in sy doel om met Rut in die huwelik te tree.
Let ook op hoe dit die Here is wat haar die voorreg van swangerskap gee, waarmee duidelik bely word dat die gelukkige uitkoms van dié verhaal aan Hom toegeskryf kan word. Obed se naam beteken dienaar.
Rut 3 – God werk deur Naomi se strategie
Waar in die vorige hoofstuk Rut die inisiatief geneem het om kos op die lande te gaan optel, is dit nou Naomi wat verantwoordelikheid neem vir haar skoondogter. Sy werk ‘n fyn strategie uit om Rut se behoefte aan ‘n losser onder die aandag van Boas te bring.
Wanneer Boas die nag by die dorsvloer wakker word met Rut by sy voete, vra sy hom dan ook om haar onder sy beskerming te neem. En hy is onmiddellik gereed om sy deel te doen. Hy waarborg dit met die groot geskenk van gars wat hy met haar saamstuur huistoe.
Die spanning neem toe met die vermelding van ‘n familielid wat die eerste verantwoordelikheid het om as losser op te tree. Maar Naomi lei die volgende hoofstuk in met haar fyn waarneming dat Boas ‘n man met ‘n plan is en nie sal rus voor die saak afgehandel is nie.
Wat my tref is hoe hierdie fyn uitgewerkte strategie van Naomi, die uitvoering daarvan deur Rut en die reaksie van Boas alles meewerk om God se werk tot uitvoering te bring.
Rut 2 – God bewys sy trou aan lewendes en dooies
‘n Baie vernuftige skrywer is hier aan die werk wat hierdie toneel op ‘n besondere wyse aan mekaar sit.
Let op hoe die ontmoeting met Boas geantisipeer word in vers 1 – in Bethelehem was daar ‘n vermoënde familielid van Naomi aan haar oorlede man Elimelek se kant, Boas. Hy kon dus as losser optree (vers 20). Geen wonder dat Rut uiteindelik juis vir hom raakloop op die land terwyl sy are optel.
Terloops, die naaste manlike bloedverwant kon as losser (gô’ıl) optree in die geval van ‘n familielid wat sy grond verloor het (of as slaaf verkoop is). Om die waarheid te sê, die wet het dit as sy plig uitgespel om die grond van ‘n familielid te koop, as dit in vreemde hande gekom het deur watter rede ook al (Lev 25:23–28, 47–55). Daar was egter ‘n prosedure waarmee hy dit kon vermy (soos ons in hoofstuk 4 sal sien met die nader familielid).
Na hierdie inleiding verloop die gesprekke as volg (met ‘n stukkie kommentaar in vers 17-18) waarmee die ontmoeting tussen Boas en Rut uitgelig en beklemtoon word:
- Rut en Naomi in gesprek (vers 2-3)
- Boas en die snyers in gesprek (vers 4-7)
- Boas en Rut in gesprek (vers 8-15a)
- Boas en die snyers in gesprek (vers 4-7)
- Boas en die snyers in gesprek (vers 15b-16)
- Naomi en Rut in gesprek (vers 19-22)
Boas word as ‘n Godvresende man geteken word, wat sy snyers met respek en erkenning aan God hanteer, nie net as iemand wat vermoënd was nie. Hy is ook gehoorsaam aan die wet. Dit was juis een van die wet se riglyne, dat boere met die oes nie alles moet afhaal van die lande nie, sodat daar vir die armes iets sou oorbly om van te leef (Lev 19:19; Deut 24:19), soos Boas inderdaad doen. Daarby het hy nie net ‘n oog vir die (mooi?) vrou nie (“Wie is daardie meisie?” – sy naam beteken immers “vinnig”!), maar trek haar in sy beskerming in met opdragte aan sy werkers en die ekstra voorsiening van water, brood, wynsous en gebraaide koring en sorg dat hy in gesprek bly met haar.
Hy is ook ingelig oor Rut se keuse vir haar skoonma en vir God en prys haar daarvoor dat sy onder die vleuels van die Here God van Israel kom skuil het (vgl Psalm 91 – volgens die Talmoed ‘n Psalm van Dawid – wat met dieselfde beeld werk).
Naomi blyk ‘n fyn kenner van mense te wees, en reageer baie positief oor wat sy by Rut hoor oor die losser-familie lid van haar en moedig haar aan om die hele oestyd daar deur te bring.
Dit tref my dat sy raaksien dat die Here nie nalaat om sy trou aan lewendes EN dooies te bewys nie. Wat Elimelek nie kon doen vir sy vrou en nageslag nie, wat ook sy twee seuns nie kon regkry nie, dit laat God gebeur vir hulle – voorsiening en versorging vir die weduwees. God is inderdaad ook sy koning, soos Elimelek se naam sê.
Let ook op hoe die volgende toneel in hierdie boeiende verhaal geantisipeer word met die laaste sin: “Sy het nog by haar skoonma gewoon.”
Rut 1:6-22 – U volk is my volk
Die verhaal in hierdie eerste toneel draai om Rut se getrouheid aan Naomi en aan God. Hoe pragtig sê sy dit nie in vers 16: “Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly; want u volk is my volk; u God is my God.” Let ook op dat Orpa se keuse om terug te gaan, eintlik ook beteken dat sy vir haar eie gode kies, ten minste soos Naomi daaroor oordeel (1:15).
Ek besef ook net dat die verbintenis aan God ’n verbintenis insluit aan God se mense en omgekeerd. Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is. Dit is die plek waar God in sy genade die beste ervaar word, hoewel Hy natuurlik Homself ook oral openbaar.
Dat Rut hier kies om God te dien, is ook ’n verwesenliking van die Abrahamitiese belofte (Gen 12:3) dat in hom alle volke van die aarde geseën sal word. Sy is ’n vreemdeling uit ’n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, en word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!
Let op hoe Naomi se perspektief op haar lewe in stryd is met wat agter die skerms besig is om te gebeur. Sy oordeel dat die Here (Jahwe) teen haar gedraai het (1:13,21), dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (1:21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (1:20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi.
Intussen is ’n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander. Sy sien ’n deel daarvan raak in vers 6 dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ’n goeie oes, maar is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê. Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling … maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom. Soos die Bybel vir die lewe 24/7 sê (wat ’n lekker Bybel om te lees!): “God verander doodloopstrate in hoopstrate.”
Let ook op hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ’n oes (hoofstuk 1) , ’n ontmoeting (hoofstuk 2), ’n dorsvloer (hoofstuk 3), ’n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke. Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.
Laat my besef dat ’n mens nie met ’n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. En dat jy veral nie daaruit gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stilwees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes 30:15).
Twee eksegetiese opmerkings:
- Een van die redes waarom die Moabiete verag is in Israel, is natuurlik die feit dat hulle weens bloedskande tot stand gekom het. Lot se dogters het hom verlei en uit hulle het die Moabiete en Ammoniete voortgespruit (Gen 19).
- Hierdie verhaal dien dus eintlik ook as ’n soort verdediging van Dawid se afkoms, bedoel vir sy eie mense uit Juda, maar ook vir die Benjaminiete wat aan Saul se nageslag verbonde gebly het, ten spyte van sy verwerping deur die Here.
Rut 1:1-5 – Inleiding
Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.
Dit is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap. Tydvak is êrens tussen 1200-1000 vC.
Maar aan die ander kant is dit ook ’n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was. Die verhaal kry uiteindelik ’n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat uit hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22). Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ’n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).
Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ’n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.
Die storie word in vier hoofstukke of tonele vertel na die inleiding van 1:1-6. Elke toneel begin met ’n vers wat die tema vir die gebeure in daardie toneel aangee, en sluit af met ’n vers waarin die volgende toneel se tema antisipeer word:
- Toneel 1: Terugkeer na Bethlehem – 1:6 en 1:22 (die begin van die garsoes);
- Toneel 2: Ontmoeting by die Oesland – 2:1 en 2:23 (nog by skoonma gewoon);
- Toneel 3: Huweliksaanbod by die Dorsvloer – 3:1 en 3:18 (man sal nie rus voor die saak afgehandel is nie);
- Toneel 4: Huwelik tussen Boas en Rut – 4:1 en 4:22 (voorvader van Dawid).
Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ’n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ’n nageslag in Obed (hoofstuk 4).
Die verhaal is natuurlik ook ’n boodskap aan Israel in die Rigtertyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring. Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ’n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word. En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie. Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie. Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.
1:1-5
Lees vandag net 1:1-5 as inleiding op hierdie uitnemende verhaal, voor ons in die volgende 4 dae hoofstuk vir hoofstuk daardeur gaan werk. ’n Paar opmerkings:
- Die name van die karakters in die boek is nogal betekenisvol. Ek wil nie te veel daarvan maak nie, omdat daar min getuienis is wat dié betekenisse bevestig, maar vir wat dit werd is:
o Elimelek se naam beteken “my God is koning”.
o Maglon se naam beteken moontlik “sieklik”.
o Kiljon se naam beteken moontlik “wegkwyn”.
o Orpa se naam kan met “weerbarstig” vertaal word.
o Die naam Naomi beteken “lieflik”.
o Rut se naam word verskillend verklaar: “verkwikking” of vriendin”.
o Boas se naam beteken moontlik “vinnig”.
- Moab is reg oos van die Dooie See en ’n meer vrugbare gebied.
- Dit is ironies dat hulle aanvanklik broodsgebrek in Bethlehem, die “huis van brood” belewe, en tog juis daar weer die voorsiening van die Here geniet.
- Deuteronomium 23:2-3 het ’n verbod geplaas op die toelating van Moabiete in die huis van die Here, selfs tot in die 10de nageslag. Die boek Rut relativeer egter dié verbod, veral omdat die grootste “tempel”-digter, Dawid, Moabiete in sy geslagslyn sou hê.

February 20, 2012 (9:49) Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig o...
February 15, 2012 (11:18) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Daar is nie eenvoudige antwoorde daarop nie. Die een wat vir my die meeste sin maak, is om die o...
February 15, 2012 (9:23) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ek weet die ultimate antwoord kom by die Goddelikheid uit. Maar meer aards, deur wie?
February 15, 2012 (2:54) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ten minste het ons in Timoteus dus 'n standaard waarmee ons kan werk. Die Here soek natuurlik oo...
February 15, 2012 (11:29) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Asseblief! Hierdie is persoonlike ervaring en iets wat n algemene siening iswas waarheen ek ook a...