Titus 2:1-15 – Gesonde leer
Let op hoe hy hierdie praktiese toepassing van die geloof uitspel vir dieselfde groepe as wat hy in 1 Timoteus 5:1-2 en 6:1-2 ook genoem het: ouer mans, ouer vroue, jonger vroue, jonger mans en slawe. Die geloof moet dus praktiese gestalte kry in ‘n verskeidenheid van sosiale groeperinge.
En let veral op dat sy motivering vir hierdie opdrag lê in die impak wat dit sal hê op mense wat nog buite die gemeente staan.
Titus 1:1-16 – Gesonde geloof
Twee perspektiewe sal jou help om dié brief se boodskap beter te verstaan.
Aan die een kant skryf Paulus hierdie brief om vir Titus en die onderskeie dorpsgemeentes te help met die ontwikkeling van hulle bediening. Daarom spandeer hy tyd aan die wyse waarop die leierskap moet werk (hoofstuk 1), hoe ‘n mens kan sorg dat die gesonde leer gehandhaaf word (hoofstuk 2), en hoe die Christelike lewe optimaal gelewe kan word, veral ook met die oog op die gemeenskap waarbinne hulle lewe (hoofstuk 3). Vir die jong gemeentes, waarskynlik veral huiskerke, was dié toerusting van groot belang om te kan koers hou op die pad van die evangelie.
Aan die ander kant fokus Paulus besonder baie op wat hy noem: goeie werke (1:16; 2:7,14; 3:1,8,14 – hy noem dit ook in 1 Tim 2:10 en 5:10). Maar, belangrik, dit is nie vir hom in spanning met die genade wat God aan ons gee nie. Trouens dit is die manier waarop God se genade ruimte kry in ons lewe. Kyk spesifiek na 2:14 waar die twee konsepte aan mekaar verbind word, genade en goeie werke (in die volgende bydrae meer daaroor). Goeie werke is dus nie in konflik met genade nie. ‘n Rigiede gebruik van die Joodse wet is wel in konflik met die genade, waarmee gedink word dat jy deur die nakom van sekere rituele gebruike (sabbat, dieet) in God se guns kan kom.
Titus
Titus se Griekse afkoms het hom besonder geskik gemaak om die evangelie aan Grieke te verkondig (Gal 2:3). Hy het onder Paulus se bediening tot bekering gekom, waarskynlik in Antiogië, omdat hy Paulus-hulle na Jerusalem vergesel met die vergadering se besinning oor die besnydenis (Gal 2:3; Hand 15). Hy werk in Korinte, Dalmasië en op die eiland Kreta. In Korinte was hy ‘n soort “trouble-shooter” om die tweespalt in die gemeente te ontlont.
Hierdie brief is ‘n uiteensetting van die dinge waarop hy moet fokus in sy bediening daar, toegespits op ‘n gesonde geloofslewe (Tit 1:13), weereens meer as ‘n “trouble-shooter”, totdat Artemas en Tigikus daar sou aankom (Tit 3:12). Soos dit die geval was met die briewe aan Kolosse en Efese, is dit nou ook die geval met die brief aan Titus en die 1ste brief aan Timoteus – die temas wat aangeraak word, kom baie ooreen. Sommige beskou die brief aan Titus daarom as ‘n kleiner weergawe van 1 Timoteus.
Weereens word die valse leringe van dwaalleraars – dit kon selfs van die plaaslike huiskerk ouderlinge in die verskillende dorpe (Tit 1:5) gewees het – aangevat, en die gesonde leer daarteenoor beklemtoon.
Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012
Ons lees van 12 Januarie 2012 af Paulus se vier briewe wat hy uit die gevangenis in Rome skrywe aan die gemeentes in Filippi, Kolosse (ook bedoel vir Laodisea) en Efese, sowel as aan Filemon, en sluit af met sy drie pastorale briewe aan Timoteus en Titus[1]. Filemon was waarskynlik ‘n geestelike leier van Kollosse (Kol 4:9 – Onesimus, sy slaaf, is “een van hulle”). Die vier gevangenis briewe is waarskynlik deur Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) en Onesimus (Kol 4:9 – Filemon se slaaf) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.
Die briewe aan die gemeentes in Filippi en Efese (Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle in Open 2:1-7) sal ook in die lig van die uitvoerige verhale oor die stigting van dié gemeentes gelees word soos Lukas ons in die boek Handelinge vertel. Verfris jou geheue hier: Filippi, Efese.
Daar was, interessant genoeg, ook nog ander briewe van Paulus, bv dié een aan Laodisea (Kol 4:16 – Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle: Open 3:14-22), wat ongelukkig verlore geraak het. Hoe jammer!

February 20, 2012 (9:49) Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig o...
February 15, 2012 (11:18) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Daar is nie eenvoudige antwoorde daarop nie. Die een wat vir my die meeste sin maak, is om die o...
February 15, 2012 (9:23) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ek weet die ultimate antwoord kom by die Goddelikheid uit. Maar meer aards, deur wie?
February 15, 2012 (2:54) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ten minste het ons in Timoteus dus 'n standaard waarmee ons kan werk. Die Here soek natuurlik oo...
February 15, 2012 (11:29) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Asseblief! Hierdie is persoonlike ervaring en iets wat n algemene siening iswas waarheen ek ook a...