Rut 3 – God werk deur Naomi se strategie
Waar in die vorige hoofstuk Rut die inisiatief geneem het om kos op die lande te gaan optel, is dit nou Naomi wat verantwoordelikheid neem vir haar skoondogter. Sy werk ‘n fyn strategie uit om Rut se behoefte aan ‘n losser onder die aandag van Boas te bring.
Wanneer Boas die nag by die dorsvloer wakker word met Rut by sy voete, vra sy hom dan ook om haar onder sy beskerming te neem. En hy is onmiddellik gereed om sy deel te doen. Hy waarborg dit met die groot geskenk van gars wat hy met haar saamstuur huistoe.
Die spanning neem toe met die vermelding van ‘n familielid wat die eerste verantwoordelikheid het om as losser op te tree. Maar Naomi lei die volgende hoofstuk in met haar fyn waarneming dat Boas ‘n man met ‘n plan is en nie sal rus voor die saak afgehandel is nie.
Wat my tref is hoe hierdie fyn uitgewerkte strategie van Naomi, die uitvoering daarvan deur Rut en die reaksie van Boas alles meewerk om God se werk tot uitvoering te bring.
Rut 1:6-22 – U volk is my volk
Die verhaal in hierdie eerste toneel draai om Rut se getrouheid aan Naomi en aan God. Hoe pragtig sê sy dit nie in vers 16: “Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly; want u volk is my volk; u God is my God.” Let ook op dat Orpa se keuse om terug te gaan, eintlik ook beteken dat sy vir haar eie gode kies, ten minste soos Naomi daaroor oordeel (1:15).
Ek besef ook net dat die verbintenis aan God ’n verbintenis insluit aan God se mense en omgekeerd. Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is. Dit is die plek waar God in sy genade die beste ervaar word, hoewel Hy natuurlik Homself ook oral openbaar.
Dat Rut hier kies om God te dien, is ook ’n verwesenliking van die Abrahamitiese belofte (Gen 12:3) dat in hom alle volke van die aarde geseën sal word. Sy is ’n vreemdeling uit ’n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, en word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!
Let op hoe Naomi se perspektief op haar lewe in stryd is met wat agter die skerms besig is om te gebeur. Sy oordeel dat die Here (Jahwe) teen haar gedraai het (1:13,21), dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (1:21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (1:20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi.
Intussen is ’n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander. Sy sien ’n deel daarvan raak in vers 6 dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ’n goeie oes, maar is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê. Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling … maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom. Soos die Bybel vir die lewe 24/7 sê (wat ’n lekker Bybel om te lees!): “God verander doodloopstrate in hoopstrate.”
Let ook op hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ’n oes (hoofstuk 1) , ’n ontmoeting (hoofstuk 2), ’n dorsvloer (hoofstuk 3), ’n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke. Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.
Laat my besef dat ’n mens nie met ’n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. En dat jy veral nie daaruit gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stilwees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes 30:15).
Twee eksegetiese opmerkings:
- Een van die redes waarom die Moabiete verag is in Israel, is natuurlik die feit dat hulle weens bloedskande tot stand gekom het. Lot se dogters het hom verlei en uit hulle het die Moabiete en Ammoniete voortgespruit (Gen 19).
- Hierdie verhaal dien dus eintlik ook as ’n soort verdediging van Dawid se afkoms, bedoel vir sy eie mense uit Juda, maar ook vir die Benjaminiete wat aan Saul se nageslag verbonde gebly het, ten spyte van sy verwerping deur die Here.
Ekskursus oor vroue in die NT
Ek het sommer ’n paar vroue uit die Nuwe Testament gaan opdiep wat ’n spesifieke rol en funksie gehad het, en dit is baie interessante leesstof:
- Dorkas was ’n dissipel (Hand 9:36 – die woorde “gelowige vrou” in die oorspronklike beteken letterlik “dissipel”).
- Prisca (Priscilla) was saam met haar man Akwila mede-werkers van Paulus (Hand 18:2) en het byvoorbeeld vir Apollos, die groot prediker in Korinte, onderrig.
- Filippus se 4 dogters was profetesse (Hand 21:9).
- Phoebe (Rom 16:1) was óf ’n diaken (soos die woord diakonos gewoonlik vertaal word, maar die manlik vorm van die woord maak dit minder waarskynlik) óf meer waarskynlik ’n “dienaar” (soos die NAV dit vertaal) wat waarskynlik ’n “dienaar van die Woord” kon beteken, dws ’n leraar, soos die term op Timoteus van toepassing gemaak word, wat verseker ’n leraar was (vgl 1 Tim 4:6 waar die woord “dienaar” gebruik word, en uitgespel word as ’n gawe wat Skrifvoorlesing, prediking en onderrig ingesluit het [1 Tim 4:13]).
- Junia was ’n vroulike apostel. Junia (in NAV weergegee met Junias) was heel waarskynlik ’n vrou (so bv. geargumenteer deur die gerespekteerde Nuwe Testamentikus Cranfield in die ICC reeks, sowel as Dunn in die Word reeks – ’n bietjie ingewikkelde redenasie: Die woord Junian in die Griekse teks van Romeine 16:7 is die [akkusatiewe] verbuiging van óf Junias [manlike naam] of Junia [vroulike naam]; aangesien die manlike verbuiging egter nêrens anders in die Griekse literatuur gebruik word nie, en die vroulike vorm meer as 250 keer [Lampe], is dit baie meer waarskynlik dat Paulus hier ’n vroulike verbuiging gebruik en hier dus na ’n vrou verwys). Waarskynlik was Junia dus getroud met Andronikus. Dit wil ook voorkom asof die twee, Andronikus en Junia, apostels was, want die frase in Romeine 16:7 “hoogaangeskrewe by die apostels” kan eintlik beter vertaal word: “hoogaangeskrewe onder die apostels”, soos dit trouens in die Ou Afrikaanse vertaling was en in die NIV vertaal word: “outstanding among the apostles” (vgl Dunn). Hulle was dus van die apostels aan wie die Here verskyn het waarna Paulus in 1 Kor 15:5-9 verwys en eintlik van ’n hoër orde as Paulus self, ten minste soos hy dit beskrywe!
Lees ook wat NT Wright oor vroue in die bediening te sê het!

February 20, 2012 (9:49) Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig o...
February 15, 2012 (11:18) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Daar is nie eenvoudige antwoorde daarop nie. Die een wat vir my die meeste sin maak, is om die o...
February 15, 2012 (9:23) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ek weet die ultimate antwoord kom by die Goddelikheid uit. Maar meer aards, deur wie?
February 15, 2012 (2:54) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Ten minste het ons in Timoteus dus 'n standaard waarmee ons kan werk. Die Here soek natuurlik oo...
February 15, 2012 (11:29) 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter Asseblief! Hierdie is persoonlike ervaring en iets wat n algemene siening iswas waarheen ek ook a...