Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe
RUS
- Raak bewus van jou diepste behoeftes.
- Gee dit in gebed aan God.
HOOR
- Lees die Skrifgedeelte.
- Dink na oor wat jou daarin tref.
- Lees my paar verhelderende opmerkings.
Paulus begin hierdie hoofstuk met ‘n frase wat baie herinner aan Filippense 1:27: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” In Filippense praat Paulus van ‘n ooreenstemming met die evangelie van Jesus Christus, hier van ‘n ooreenstemming met die roeping wat hulle van God ontvang het. Die roeping het dus te make met die wyse waarop die evangelie in die wêreld tot sy reg kom.
En Paulus spel dié lewenswandel waarnatoe hulle geroep is uit in 5 aspekte: beskeie, vriendelik, geduldig, verdraagsaam en die handhawing van eenheid. Dit is die dinge waarop gefokus moet word in die proses om aan God gehoorsaam te wees.
Let op dat die eenheid vir Paulus belangriker is as die ander aspekte, en dat hy in vers 4-6 die motivering vir eenheid gee deur 7 manifestasies van die eenheid te beskrywe: daar is één liggaam, Gees, hoop, Here, geloof, doop, God en Vader. Daarmee gee hy ‘n Trinitariese (Gees, Here [Jesus], God [Vader]) sowel as ‘n gemeentelike begronding van eenheid (liggaam, hoop, geloof, doop). God is een wese, al is Hy drie persone. En die geloofsgemeenskap is een, al is hulle verskillende mense en het hulle selfs verskillende rolle.
Paulus motiveer God se genadegawes met die Messiaanse interpretasie van Psalm 68:19. Dié psalm praat van God as die oorwinnaar wat na Sion toe terugkeer en geskenke ontvang van dié wat verslaan is. Paulus praat van Christus wat neergedaal het uit die hemel na die aarde en die magte verslaan het. As verhoogde en verheerlikte Here vul Hy alles met sy teenwoordigheid en gee aan alle gelowiges genadegawes.
En let op dat die genadegawes aan almal gegee is, omdat alle gelowiges één is. Sommige gelowiges is selfs gawes – die begin van ons ampsbeskouing – in terme van hulle rolle: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Die eerste 3 kategorieë van gawes was mense wat baie keer gereis het om die evangelie te bring (hoewel sommige evangeliste hulleself ook gevestig het [Hand 21:8]), en die laaste 2 was baie keer meer gevestig in ‘n spesifieke werkkring.
Maar, hulle almal het net een doel, en dit is om die liggaam van gelowiges toe te rus vir die gebruik van hulle gawes, sodat die kerk in sy doel kan slaag, om in alle opsigte te groei na Christus toe. Soos elkeen sy funksie vervul, bou die liggaam homself op in liefde.
LEEF
- Wat is die Here besig om jou te leer?
- Sluit met gebed af.
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!