Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef
‘n Heilige lewe – 4:17-24
Dit is interessant vir my dat Paulus se appèl op ‘n heilige lewe (vers 24) gebaseer is op wat God reeds vir hulle gedoen het (vers 20), en wat in die kerk se groei na Christus toe geïllustreer word (vers 15-16).
Paulus sê nie vir hulle: kry julle lewens reg sodat julle deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges kan word nie. Hy sê in teendeel: julle is deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges – tree dan op as mense van wie dit waar is. Dit is ómdat ons die Here leer ken het, en ómdat ons in ‘n gemeenskap van gelowiges tereg gekom het, dat ons eintlik nie anders kan as om regtig te breek met die ou sondige mens in ons, en ons gees en gedagtes nuut kan word.
Ons roeping om as nuwe mense te lewe wat na die beeld van God gespek is, begin by ons insluiting in die liggaam van Christus, iets wat God in ons lewens bewerk het. En dit help my verstaan dat veroordeling van mense vir hulle onkunde of selfs losbandigheid (vers 19) nie help nie, want daardeur druk jy mense weg van presies die plek waar hulle kennis en genesing kan kry. Wat wel ongelooflik belangrik is, is dat ons ‘n ernstige beroep op mense kan maak (wat onkundig of losbandig lewe) dat hulle moet optree soos hulle Christus leer ken het, en moet breek met dít wat na regte agter hulle lê.
‘n Lewe in liefde – 4:25-5:5
Paulus brei hier uit op hoe só ‘n lewe lyk. En hy fokus op baie praktiese aspekte:
- Om die waarheid te praat, veral omdat ons een familie is (vers 25);
- Om nie te sondig as jy kwaad raak, en veral nie lank kwaad te bly nie (vers 26-27);
- Om hard te werk sodat jy iets het om die armes mee te dien (vers 28);
- Om opbouende gesprekke te voer (vers 29);
- Om die Heilige Gees toe te laat jou lewe te beheer (vers 30);
- Om niks te doen wat sleg is nie (vers 30);
- Om goedgesind en hartlik te wees (vers 32);
- Om in liefde te lewe, soos God dit vir ons ‘n voorbeeld gegee het (5:1-2);
- Om soos heiliges (dit is die Griekse woord wat met gelowiges vertaal is) te lewe (5:3-5).
Dit herinner aan Paulus se woorde aan die gemeente in Filippi (4:4-9).
Vervul met die Heilige Gees – 5:6-20
Paulus gebruik die baie bekende metafoor van die verskil tussen lig en duisternis om die Efesiërs te help onderskei tussen die onwaarhede waarmee mense baie keer vir ons probeer mislei. ‘n Eenvoudige maatstaf is of ‘n spesifieke optrede in die lig gedoen kan word, en of jy dit eerder in die donker wil doen, en wil hê dat ander mense nie daarvan weet nie. Laat ‘n mens dink aan die riglyne vir Corporate Governance (King) wat insluit dat iets wat jy in ‘n maatskappy doen aan die volgende vier toetse onderwerp moet word: deursigtigheid, verantwoordbaarheid, verantwoordelikheid, en billikheid.
Maar dit gaan nie net om ‘n eie onderskeiding wat jy moet aanlê om te weet of jy iets mag of nie mag doen nie. Dit gaan oor die liggaam van Jesus Christus wat saam onderskei – let op die meervoud van die voornaamwoorde wat Paulus hier gebruik: “moenie dat iemand julle mislei nie”, Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is”. En daarby moet die lig laat skyn word op dié dinge wat eerder in die geheim en in die donker gehou wil word.
“Wees baie versigtig hoe julle lewe” – vers 15 – veral deur te wete te kom wat die Here wil dat julle moet doen (vers 17).
Vanuit hierdie perspektief van ‘n heilige lewe, wat in liefde geleef word, verstaan ‘n mens dat Paulus se opdrag om die Heilige Gees toe te laat om hulle te vervul die enigste manier is waarop heiligheid en liefde ‘n werklikheid kan word (vers 18). Let ook op dat dit nie net oor die Gees gaan nie, maar ook oor Jesus, die Here (sing tot sy eer), en ook oor die Vader (dank Hom oor alles).
related post
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!