Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers

Written by Chris van Wyk on 20/01/2012. Posted in Filemon

Print Friendly
Paulus skryf hierdie persoonlike brief (weereens saam met Timoteus) aan Filemon, een van die geestelike leiers van die gemeente in Kolosse (Filemon 2; Kol 4:9).  Sy slaaf, Onesimus, het hom op een of ander manier benadeel en toe gevlug. Onesimus se pad het in Rome met Paulus in die gevangenis gekruis.  Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie, maar die resultaat van dié ontmoeting was dat Onesimus tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het.  Hoewel Onesimus van veel nut vir Paulus self kon wees, het Paulus egter besluit om hom eerder terug te stuur sodat hy met Filemon versoen kan word.  Vandaar dié brief in die vroeë sestiger jare nC waarin hy die situasie tussen die twee gelowiges wou uitsorteer tot almal se bevrediging.  Dit gee ons ‘n baie interessante perspektief op hoe verhoudinge tussen gelowige werkgewers en werknemers behoort te werk.

Interessant genoeg is die vier gevangenis briewe (Filippense, Filemon, Kolossense, Efesiërs) waarskynlik deur Onesimus self (Kol 4:9) en Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Let op hoe Paulus dié brief struktureer.  Na die aanhef en bekendstelling wy Paulus eers uit oor die goeie getuienis wat hy hoor van Filemon se liefde en geloof, wat die motivering word vir die tweede deel van die brief, waarin Paulus vir Filemon op verskillende wyses motiveer om Onesimus met oop arms terug te verwelkom.

Inleiding: 1-3

Let op hoe Paulus die huiskerk van Kolosse insluit in sy boodskap aan Filemon, sowel as Affia, moontlik sy vrou, en Argippus, moontlik sy seun.

Dank vir die groot impak van Filemon se geloofslewe: 4-7

Let op hoe Filemon se liefde en trou uitgespel word in terme van beide die verhouding met die Here Jesus Christus self, sowel as in terme van die gemeenskap van gelowiges.  Dit is dan ook die motivering vir Paulus se oproep in die volgende deel van die brief, dat hy bid dat Filemon ‘n nog dieper insig sal kry in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.  Soos sy geloofslewe ander se lewe verkwik het, wil Paulus graag hê dat ook Onesimus daarby ingesluit sal word.

Paulus tree in vir Onesimus: 8-22

Let op hoe Paulus doelbewus die gesag waarmee hy Filemon sou kon aanspreek om Onesimus terug te neem, onderspeel – sy ouderdom, sy apostelskap, sy status as gevangene twv Christus – en liewer ‘n aanspraak maak op die liefde van Christus waarvoor Filemon bekend geraak het.

Maar, dan neem Paulus wel ook moontlike frustrasie in ag wat Filemon steeds kon ervaar weens die gebrek of skade wat hy vroeër aan die hand van Onesimus gely het, en bied aan om persoonlik daarvoor te vergoed, sodat Filemon vrywilliglik die band met Onesimus kan herstel.  Hy bekragtig die versoek deur dit in die naam van die Here te doen, waarmee hy natuurlik te kenne gee dat dit die eintlike motivering tot gehoorsaamheid is.

Groete: 23-25

Paulus sluit die brief af met groete en ‘n paar mededelings oor die mense wat saam met hom is (hulle word ook in Kol 4:10-14 genoem):

  • Epafras is saam met Paulus ‘n gevangene, en word verbind met die stigting van die gemeente van Kolosse (Kol 1:7).
  • Markus  is waarskynlik die skrywer van die evangelie van Markus en neef van Barnabas (soos ons in Kol 4:10 lees).
  • Aristargos is een van die bekeerlinge in Tessalonika wat ‘n medewerker van Paulus geword het (Hand 20:4; 27:2).
  • Demas het kort hierna die teenswoordige wêreld lief gekry het en na Tessalonika vertrek (2 Tim 4:9-10).
  • Lukas is die skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels.

Dié brief het waarskynlik die gewenste uitwerking gehad, en volgens die vroeë kerkvaders word Onesimus later die biskop van Efese.   Voorwaar ‘n wonderlike getuienis van versoening en die wonder van ‘n nuwe begin.

‘n Mens sien hier ook dat die hele instelling van slawerny nie regtig versoenbaar met gemeenskap binne die kerk sou kon wees nie.  Al het dit dus lank geneem hierna, voor slawerny inderdaad wêreldwyd afgeskaf is, het hierdie verhaal kennelik ook daarin ‘n rol gespeel.


related post

Trackback from your site.

Comments (3)

  • Lily Groenewald
    30/01/2012 at 08:22 |

    Wonderlik dat dit lyk of deur God se genade Onesimus, aanvanklik “onbruikbaar”, sy naam wat “bruikbaar” beteken, gestand kon doen. So kan ons elkeen bruikbaar wees in die Koninkryk.

    • Chris van Wyk
      30/01/2012 at 08:44 |

      Ja – Onesimus se naam beteken inderdaad “bruikbaar” of “winsgewend”. Filemon se naam beteken weer “vriendelik” of “liefdevol” of “een wat soen”. Paulus raai hom dus aan om Onesimus terug te neem, om sy naam gestand te doen!

    • Tilla Olivier
      20/02/2012 at 09:49 |

      Vandag het die brief aan Filemon my iets oor my benadering tot ander kom leer. Ons is so geneig om ander te wil reghelp, teregwys en berispe. Paulus doen dit nie met Filemon nie: hy benader hom in liefde, en in die Naam van die Here.
      Dis iets om na te volg!

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed