Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem

Written by Chris van Wyk on 13/01/2012. Posted in Filippense

Print Friendly
Let op dat Timoteus ook as skrywer aangedui word in vers 1, en daarby saam – en op dieselfde vlak – met Paulus as dienaars (douloi – slawe) van Christus bekendgestel word.  Paulus kies dus om homself nie as apostel bekend te stel nie, maar as ’n dienaar, soos Timoteus.  Dit is betekenisvol.  Trouens dit is die eerste en enigste keer wat Paulus só skryf oor homself in samehang met iemand anders.  En dit word nie net gedoen omdat Timoteus vroeër in Filippi gewerk het, en nou weer op pad was daarheen nie (Fil 2:19), maar omdat Paulus daarmee iets van die selfontlediging illustreer wat in hoofstuk 2 aan die orde gestel sal word.

Vennote in die evangelie

Paulus begin die inhoud van sy brief met waardering en danksegging, veral omdat hulle vennote in die verkondiging van die evangelie geword het (vers 5).  Hy gebruik die Griekse woord koinonia hier in die betekenis van vennootskap (partnership) wat op ander plekke in die betekenis van gemeenskap (fellowship) gebruik word.  Dit sê vir hom dat die genade van God regtig sy werk gedoen het in die praktyk van hulle lewe (vers 7).  En daaroor is hy baie bly, trouens die hele brief word deur hierdie onderliggende toon van blydskap gekenmerk.

Na aan die hart

Let op hoe Paulus twee keer praat van sy hart.  Die eerste keer, in vers 5, praat hy daarvan dat hulle hom na aan die hart lê[1].  Die tweede keer, in vers 7, praat hy van die verlange na hulle wat van Christus Jesus se liefde in sy hart af kom.  Ons moet dit egter nie net as emosies verstaan nie, soos ons gewoonlik die woord hart gebruik nie.  Die hart is in Grieks (en in die NT) nie net die setel van emosies nie, maar ook van denke.  Net so is die woord wat hy gebruik vir dink (phronein), in vers 5, ’n woord wat juis ook gevoelens insluit.  Paulus het dus nie net ’n diep gevoel van liefde vir hulle nie (gebore uit die liefde van Christus Jesus wat in sy hart uitgestort is – Rom 5:5 verbind dit aan die werking van die Heilige Gees), maar dink ook die hele tyd aan dinge wat hulle belange op die beste manier kan dien, presies dit waaroor hy later in Fil 2:3-4 gaan skryf.

Liefdesonderskeiding

Dit hang saam met wat Paulus dan in vers 9-10 beskryf.  Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is.  Hier praat Paulus van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis  (epignosis) en  alle onderskeiding  (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met liefde, begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.  Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is. Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep onderskeiding (ervaring/fyn aanvoeling/diep begrip), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom.  Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word.  So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en onderskeiding!  En die doel daarvan is 1) persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” te wees, en 2) publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Vertroue en verantwoordelikheid

Paulus sit dus twee konsepte reg aan die begin van die brief op die agenda: vertroue en verantwoordelikheid.  Hy is oortuig daarvan dat God die goeie werk in hulle begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6).  Sy vertrekpunt, vertroue en verwagting is dus dat die gelowiges met God se voortdurende betrokkenheid en genade (Fil 1:7) staande sal kan bly.  Maar, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige hulle verantwoordelikheid nakom nie.  Daarom die klem hier op onderskeidende liefde, wat deur die brief aangevul sal word met ’n oproep tot persoonlike, en publieke gehoorsaamheid wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus Jesus is.  Dit sal verseker dat hulle op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. En sy gebed is dat hierdie proses tot God se lof en eer sal bydra, die einddoel en mikpunt van alles (Fil 1:10-11).

 


[1] Dit sou ook vertaal kon word: “dat ek na aan julle hart lê” wat die klem op hulle gevoel vir hom sou plaas.


related post

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Chris van Wyk
    14/01/2012 at 08:43 |

    In my verdere nadenke hieroor, besef ek dat hierdie twee konsepte van vertroue en verantwoordelikheid, natuurlik die sentrale boodskap van die Psalms ook is. Dit is wat ‘n lewe in integriteit beteken: om volledig verantwoordelik te lewe in ‘n vreeslose vertroue op God se aktiewe betrokkenheid in die lewe. En ek praat doelbewus van DIE lewe en nie MY of JOU lewe nie.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed