Filippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne

Written by Chris van Wyk on 16/01/2012. Posted in Filippense

Print Friendly
Dit tref my dat Paulus hulle adelphoi noem, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is.  Dit is ’n woord wat beide geslagte ingesluit het.  Hulle is ook die heiliges in Christus Jesus (1:1), die kinders (tekna) van God (2:15),  en die geliefdes (agapetoi) uit Paulus se perspektief, mense wat na aan sy hart lê (2:12), maar in terme van hulle onderlinge gemeenskap, familie van mekaar (1:12,14; 3:1,13,17; 4:1,8,17).  Hierdie verbintenis aan mekaar in die Here is belangriker as enige ander band wat mense aan mekaar bind.

Ons sien hier ook dat Paulus se evangelie bo alles ’n evangelie van eenheid was.  Vandaar nie net sy teologiese motivering daarvan later in Efesiërs 2-3 nie, maar ook sy vroeëre baie praktiese stryd om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry in Antiogië (Gal 2).  Ons sien in sy briewe:

  • dat waar hierdie eenheid deur verskillende legitieme opinies oor die gebruik van kos en wyn, die hantering van werknemers en die nakom van dagritmes bedreig is (1 Kor 8-10; Rom 14-15) sy raad was om die eenheid te bewaar deur nie wedersyds te veroordeel of te verag nie, en mekaar toe te laat om eie opinies te hê.
  • Wanneer daar egter kwessies opgeduik het waaroor daar net een legitieme opinie kon bestaan, bv oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande (1 Kor 6), is die eenheid juis beskerm deur op te tree teen die verkeerde opinies of lewenstyl .

Oor al die ander kwessies waaroor gelowiges kon verskil, was die uitdaging egter altyd om nie net verdraagsaam te wees nie, maar “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice” (Wright), presies dit wat nou hier in Filippense aangeroer word.

Hierdie eenheid moet tot sy reg kom in ’n evangeliese lewenstyl na buite

Paulus roep die gemeente van Filippi op om in hulle onderskeiding van wat regtig belangrik is, te fokus op hulle lewenswandel na buite.  Die prioriteit moet wees dat hulle publieke gedrag in ooreenstemming sal wees met die evangelie van Jesus Christus.  En dit moet hulle onverskrokke en kompromieloos doen.  Dit gaan vir hom nie in die eerste plek of hulle reg glo, of dit reg kan verwoord nie – hoe belangrik dit ook al mag wees – maar of hulle lewenstyl die evangelie waardig is, al beteken dit ook dat hulle daarvoor moet ly.  Lyding is immers ’n voorreg, en ’n teken van ware geloof.  Die rede hoekom dit vir hom so belangrik is, het met die publieke getuienis van die evangelie te make.  Die woordjie wat hy hier in vers 27 gebruik vir lewenswandel kom van politeuomai  af (die woorde politiek en polities is hiervan afgelei) wat gewoonlik gebruik is om die gepaste burgerlike gedrag uit te druk, dws om soos ’n ware Griek of Romein op te tree.

Paulus roep die gemeente in Filippi dus op om soos burgers van die hemelse koninkryk op te tree (vgl Fil 3:20 waar hy dit eksplisiet sê: “Ons is  burgers van die hemel …”), om in vennootskap met mekaar na buite op te tree.  Niks rand immers mense se geloof in die evangelie so ernstig aan, as gelowiges wie se lewens nie die waarheid en wonder daarvan sigbaar maak in hierdie lewe nie.  Daarom roep Paulus die gelowiges op om een van gees en siel saam te stry vir “die geloof in die evangelie”, al is daar ook hoeveel teëstand teen die evangelie.  Hulle lewenswandel moet ’n kragtige getuienis wees wat mense aan die waarheid van die geloof kan blootstel, sodat die Gees sy oortuigingswerk kan doen.

Hierdie eensgesind moet ook na binne gehandhaaf word

Saam met hierdie publieke eensgesindheid is dit net so belangrik om eensgesind na binne toe te wees.  Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe” (2:2).  Die frase wat met eensgesind vertaal word (auto phronête) beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees, soos ’n paar Engelse vertalings dit het.[1]  Die woord phronête dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in.  Dit beteken dat die like-mindedness  nie net intellektueel kan wees nie, dws om dieselfde te dink nie.  Dit is eerder, soos Hawthorne dit pragtig sê: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.  Hierdie eengesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel:  deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van gedagte” (phronountes – denke in harmonie) te wees.  Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie.  Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

Ondersteun en geïnspireer deur Christus en die Gees

Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – Sy troos (paraklesis – ’n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en Sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van Sy Gees.  Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

Eensgesindheid sal net ’n droom bly, as elkeen ingestel sal bly op hulle eie belange.  Waar moeite gedoen word om eie belange of voordeel te bevorder, eerder as ander s’n, bly eenheid altyd in die slag.  Let egter op dat Paulus nie hier sê dat ’n mens jouself en jou eie belange moet ontken of vermy nie, maar juis nederig in diens moet stel van ander se belange.  Soos Albert Schweitzer (The Mysticism of Paul the Apostle) oor Paulus se hantering van die self skryf: “no loss of self but an enriching of it; no erasure of time or place but a comprehension of how time and place fit within the eternal.

 


[1] In Fil 4:2 word dieselfde frase gebruik en gekwalifiseer met “in die Here”.  Ook in Rom 12:16; 15:5; 2 Kor 13:11.


related post

Laetitia De Villiers liked this post

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed