Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef

Written by Chris van Wyk on 14/10/2010. Posted in Galasiërs

Print Friendly

Dit tref my dat Paulus die Goddelike oorsprong van sy apostelskap so beklemtoon aan die begin van hierdie brief.  Aan die een kant is dit ’n belangrike boodskap vir die Galasiërs, omdat dit juis sy status as apostel is wat in die gedrang is by hulle.  En die hele eerste twee hoofstukke sal daaroor handel.

Maar aan die ander kant tref dit my dat hierdie bewussyn  van ’n Goddelike roeping so ontsettend belangrik is in die Christelike lewe.  “Dat ek ’n apostel is” – en vervang die woord apostel nou maar met enige ander roeping wat God jou gee – “dank ek nie aan mense nie.  Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus” (1:1-2).  Sonder hierdie besef kan ’n mens nie jou werk vir die Here met vertroue, verwagting en veral volharding doen nie.

En hierdie roeping kan baie vorms aanneem.  Sommige het ’n roeping na ’n amp (ouderling, diaken, kategeet, jeugwerker, leraar).  Ander het ’n roeping rondom ’n gawe (gasvryheid, leierskap, skilder, bemoediging, skryf, omgee). Nog ander het ’n roeping rondom ’n saak (armoede, onreg, misdaad, gesondheid, omgewing, gemeenskap, opvoeding).  Die vorm maak nie saak nie – die verbintenis aan ’n roeping wat God gee, maak baie saak.

Neem ’n tydjie vandag om na te dink oor jou roeping.

  • As jy nie seker is daarvan nie, vra ’n oortuiging van die Here (en onthou, jy kan al reeds besig wees daarmee, al sien jy dit nog nie so raak nie!).
  • As jy seker is daarvan, maak dit weer ’n top prioriteit in jou lewe en stel jou vertroue weer in die Here om met verwagting en volharding jou roeping uit te leef.

Let op dat Paulus in vers 6 nie soos gebruiklik met ’n dankie-sê begin nie.  In al sy vorige briewe  is daar ’n dankwoord vir die gemeente.  In sy brief aan die Tessalonisense dank hy God vir hulle geloof, hoop en liefde en aan die Korintiërs vir hulle gawes.  Trouens in al sy ander briewe is daar ook ’n dankwoord van een of ander aard: vir hulle geloof (Romeine), vir hulle samewerking in die evangelie (Filippense), vir liefde en trou (Filemon), vir hulle geloof en liefde wat vrug dra (Kolossense, Efesiërs).

Paulus begin hier egter onmiddellik met sy bekommernis oor hulle dat hulle so gou afvallig geword het en ’n ander evangelie aangeneem het.  En hy spreek ’n dubbele vloek uit oor enigiemand wat ’n ander evangelie verkondig as hy (:8-9).  Later sal hy skryf: “die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf” (5:10).

Let op hoe Paulus hier drie stories vertel  om die besware teen sy apostelskap te besweer:

1.       hy spel duidelik uit dat hy sy evangelie van Jesus Christus self ontvang het en dus nie van Jerusalem se apostels nie deur uit te brei op sy destydse vervolgingsgeskiedenis en genadige ontmoeting met God wat tot sy bekering en roeping gelei het, waarin, en dis belangrik, die ander apostels geen aandeel gehad het nie (1:13-24);

2.       hy verduidelik dat Jerusalem se mense saamgestem het met die greep wat hy op die evangelie gehad het met sy latere besoek, 14 jaar later, aan hulle, saam met Barnabas en Titus. Let ook op dat hy die besoek ook aan God se werk wyt!  Saam het hulle ’n verdeling van pligte gemaak: Petrus na die Jode, Paulus na die nie-Jode.  En die pilare van die gemeente,  Jakobus (waarskynlik Jesus se broer), Johannes en Petrus, het hulle instemming daarmee betuig.  Titus, wat van nie-Joodse afkoms was, is daarom ook nie besny nie, in lyn met die evangelie (in teenstelling met Timoteus, wat van gemengde Joods en nie-Joodse afkoms was en daarom wel besny is – vgl Hand 16:1-3).  Let ook op dat die saak van die armes hier al op die tafel gekom het, wat die klem daarop in die brief aan die Korintiërs (2 Kor 8-9) en Romeine (hfst. 15) verklaar (2:1-10);

3.       hy wys onomwonde uit dat dit Jerusalem se mense is, Sefas by name, wat afgewyk het van die evangelie waaroor hulle saamgestem het.  Selfs Barnabas is daardeur meegesleur om te huigel.  Interessant dat hy aanvanklik Petrus se Griekse naam, Petrus, gebruik en dan voortgaan met Sefas, die Aramese vorm van die naam.  Miskien is dit ’n nie-so-subtiele beskrywing van ’n terugval in Joodse gebruike eerder as die universele boodskap van die evangelie.   (2:10-14).

Paulus se preek aan Petrus by dié geleentheid in Antiogië – wat hy aanhaal in 2:14 – word dan die sentrale argument waarop Paulus sy verdere boodskap aan die Galasiërs bou (2:15-21), dat ’n mens nie vir Christus kan kies EN ook om die wet te onderhou nie.  Let op hoe hier een van die sentrale boodskappe van die Reformasie 16 eeue later ingebed lê: Solus Christus, Jesus Christus alleen.[1]

2:17-21 is ’n ingewikkelde argument waarmee Paulus eintlik net probeer sê: ek het die lewe deur Christus en nie deur die wet nie.


[1] Uit die Reformasie is 5 solas gebore waarmee die boodskap daarvan opgesom kan word: Sola scriptura (deur die Skrif alleen), Sola fide (deur geloof alleen), Sola gratia (deur genade alleen), Solus Christus, (deur Christus alleen), Sola Deo gloria (tot die eer van God alleen). Die 5 solas moet as ’n eenheid gesien word.


related post

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Christine Veldsman
    14/10/2010 at 12:36 |

    Ons kry ‘n gawe en die roeping om dit te gebruik tot die opbou van die gemeente en die uitbreiding van God se koninkryk. Maar meer basies as dit is wat ons in Christus is: priester, profeet en koning.Is die gawe wat ons gegee word dan nie ‘n middel, metode of wyse om ons amp as priester, profeet en koning konkrete gestalte te gee nie. Kan ek die gawe wat ek het as roeping uitleef as ek te kort in wat ek basies bedoel is om te wees?

    • Chris van Wyk
      14/10/2010 at 13:26 |

      Jy is reg dat ons ‘n basiese roeping het wat met God se koninkryk en die drie-ledige amp van koning, priester en profeet te make het. En, ja, die gawes wat ons het, of die posisies wat ons beklee, of die saak waarvoor ons staan, is maniere om daaraan uitdrukking te gee. Kom ons noem dit ons meer spesifieke roeping, wat natuurlik ook van tyd tot tyd kan verander, afhangende van hoe God ons wil gebruik.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed