Galasiërs 5:13-6:17 – dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges

Written by Chris van Wyk on 19/10/2010. Posted in Galasiërs

Print Friendly

In die laaste deel van die brief aan die Galasiërs fokus Paulus op die Heilige Gees.  En die geheim van ’n Geesvervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe en nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie.  Dit bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel – óf jy dra al hoe meer die vrug van die Gees, óf jy word beheer deur jou sondige begeertes;  óf jy lewe in die kragveld van die Gees óf in die kragveld van die vlees.

Maar ’n mens moet hierdie groei nie in die eerste plek persoonlik opneem nie.

Die lewe onder beheer van die Gees beteken dat sekere sondige praktyke (= meervoud, met die klem op wat mense doen) BINNE die gemeenskap van gelowiges vermy moet word.  Let op dat 8 van die 15 sondige praktyke met konflik in die gemeenskap van gelowiges te make het (5:19-21): vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeelheid, skeuring en afguns.

Die res van die sondige praktyke het wel met jou persoonlike lewe te make.  Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese waardes: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en uitspattigheid (oordadige etes) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke: afgodsdiens (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Die vrug (= enkelvoud, met die klem op hoe mense is) van die Gees[1] het eweneens direk met gedrag BINNE die gemeenskap van die gelowiges te make: liefde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid en nederigheid.  Selfs die ander 2 dele van die vrug het ’n impak op die gemeenskap van gelowiges: vreugde, selfbeheersing (vry EN verantwoordelik!), hoewel dit meer met jou persoonlike gedrag te make het.  Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees.  Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees.

Die lewe in die Gees het dus alles te make met ’n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges. Daarom dat Paulus vervolg in 5:26 met ’n verdere waarskuwing: “moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie,”  en dit afsluit met ’n oproep om mekaar se laste (verwys heel moontlik terug na wanneer iemand in versoeking kom) te dra.  Selfs wanneer iemand in sonde geval het, moet só ’n persoon met ’n gees van sagmoedigheid reggehelp word.  Alles om die gemeenskap van die gelowiges te beskerm.  En daarin moet alle gelowiges volhard: “laat ons nie moeg word om goed te doen nie.”

Soos in van sy ander briewe (1 Kor 16:21; Kol 4:18; 2 Tess 3:17) sluit Paulus dié een af in sy eie handskrif.  En dit is heel gepas ’n snydende aanval op die besnydenis voorstanders.  Hy wys onder andere uit dat hulle dit eintlik om selfsugtig redes doen, om met hulle beheer oor die liggaam van ander te kan spog.  “Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is” (6:15).  Hierdie nuwe mense, mense wat vry gemaak is deur Christus, is die ware Israel – die eerste keer dat hy so prontuit hierdie term gebruik en op die kerk van toepassing maak (Romeine 9-11 brei hierop uit).


[1] Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word.  In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel: 1) Gawes van God: liefde, vreugde, vrede; 2) Gawes vir die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedhartigheid; 3) Gawes vir die gemeenskap: getrouheid, nederigheid, selfbeheersing.  Veral die laaste drie, wat as Christelike deugdes verklaar kan word, sou deur die Griekse wysgere hoog aangeslaan word.


related post

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed