Die idee van God in die Ou Testament het progressief ontwikkel binne die uitdagings van die volk se leefwêreld
Die Ou Testament het nie ‘n afgeronde sistematiese beskrywing van God nie. Die Ou Testament is ‘n versameling tekste wat handel oor mense in hulle verhouding met God in hierdie wêreld, wat uitgedruk word in ‘n groot variëteit van verhale, tradisies, gedigte, profesieë, liedere en wyshede. Hieruit kan ons alleen maar ‘n gedeeltelike prentjie van die idee van God vorm uit ons afleidings en interpretasies, wat nie net afhang van die tekste self nie en die wêreld daaragter nie, maar ook van ons eie leefwêreld en verstaansraamwerke. Die tekste het dus nie net betekenisse wat afgelei kan word uit die taal, beelde en geskiedenis en die wêreld agter die tekste nie. Ons skep ook nuwe betekenisse in ons lees van die Bybel uit die wêreld voor die teks. Die teks is dus beide ‘n venster op die verlede en ‘n spieël vir die hede.
Daar is dus nie net een betekenis wat aan ‘n teks in die Ou Testament geheg kan word nie. Daar is verskillende interpretasies moontlik, afhangende van ons kennis van die tekste, en van ons bewussyn van ons eie wêreld en sy invloed op die teks.
Wat ons egter kan doen om by ‘n genoegsame of adekwate interpretasie uit te kom, is om ernstig te probeer om aan die een kant getrou te bly aan die tekste self en die uitleg daarvan, en aan die ander kant ook ernstig te probeer sin maak van die betekenis vir vandag, gevorm deur ons eie begrip en interaksie met die tekste en uiteindelik die lewende God. Dit sluit in dat ons waarderend sal wees vir die uitnemende pogings in die verlede om hierdie verhouding met God te verwoord en krities sal wees vir die gebreke wat ook sigbaar is in dieselfde tekste. Die Ou Testament is na alles God se Woord in mensetaal, wat beide ‘n goddelike dimensie as ‘n menslike een het, wat boonop nie maklik van mekaar geskei kan word nie.
Een aspek van die idee van God in die Ou Testament wat duidelik is, is dat dit deur verskillende stadiums ontwikkel het. ‘n Mens hoef net Eksodus se verhale van God te lees en dit te vergelyk met die verhale van God in Genesis om ‘n merkwaardige ontwikkeling in die idee van God raak te sien. Eksodus skets ‘n persoonlike God, wat vir die eerste keer aan Moses Homself as Jahwe bekend stel. Toegegee, elemente hiervan was al teenwoordig in die verhale van Abraham, Isak en Jakob, maar dit word beslissend uitgebrei in die wyse waarop God teenwoordig raak op die volk se reis deur die woestyn. Hierin speel die ontwikkeling rondom die tien gebooie en die tabernakel ‘n baie belangrike rol. Die Soewereine Skepper God wat die wel en wee van nasies en die aartsvaders bepaal, word die Persoonlike Verlosser God wat ‘n uitverkore volk begelei na die Beloofde Land.
‘n Ander aspek van God is dat die dominante beskrywings van Hom saamhang met die situasie waarbinne die volk of ‘n individu verkeer. Die Eksodus verhaal in die Pentateug is ook tekenend daarvan deurdat ‘n onderdrukte slawevolk deur God bevry word en veral as Verlosser geteken word. Die Godsbeeld pas by die situasie waarbinne die volk verkeer het. Hierdie bevryding het met baie konflik met ander volke gepaardgegaan wat ‘n hoogtepunt bereik met die Intog in die Beloofde Land onder leiding van Josua. Die prentjie van God wat in dié tyd die botoon voer is die een van ‘n Kryger God wat ‘n Heilige Oorlog voer namens en ter wille van sy uitverkore volk.
Hoewel ‘n mens krities kan wees oor hierdie beeld van God vanuit ‘n hedendaagse perspektief, en selfs uit die Nuwe Testament beeld van God – jy moet jou vyande liefhê – moet dit jou nie verlei om daarom dié beeld af te keur en te ignoreer nie. Hierdie verhale is juis onverdund en sonder omhaal van woorde vertel, en so oor die eeue oorgelewer, om God as ‘n God van aksie te teken. Dit sê, God is nie veraf en onbetrokke nie. Hy is nie magteloos as sy volk só voel nie. Hy kan optree en sy volk in gevaar beskerm en ‘n plek gee waar hulle kan leef en voorspoed kan beleef. En daardie idee van God as Verlosser het vandag nog betekenis vir ons denke oor God.
‘n Mens kan dieselfde waarneem in die stryd in die oorgang van die rigter tyd na die monargie (God word geteken as die ware koning van Israel), die koningshuis van Saul en Dawid (God word geteken as die Verbondsgod wat aan die Dawidshuis verbind is) en die stryd tussen die Baäl- en Jahwe-aanbidding na die skeuring van die ryk (God word as die God van die profete geteken wat Sy woord laat geld). Elke keer word ander kante van God na vore gebring, na gelang van die dominante verhaal wat in Israel afspeel.
Die idee van God in die Ou Testament word dus die hele tyd aangepas, duideliker verwoord, sodat die volle prentjie mettertyd in al sy fasette na vore tree. En dan het ons nog nie eers gepraat oor die prentjie uit die wysheidsliteratuur en die Psalms nie!
related post
Tags: Samuel
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!