Jesus as die Seun van die mens EN die Seun van God

Written by Chris van Wyk on 23/05/2011. Posted in God, Johannes

Print Friendly
Jesus het verskeie benamings waarmee Hy aangedui word in die evangelies.  Twee prominente benamings is dié van Seun van die mens En Seun van God.  Hier is ‘n paar opmerkings daaroor[1] :

Seun van die Mens

Jesus gebruik die benaming dikwels vir Homself. Net op drie plekke gebruik ander mense dit van Hom.  Stefanus gebruik dié benaming wanneer hy in ’n visioen van die geopende hemel die Seun van die mens gesien het (Hand 7:56), asook Johannes in sy Openbaring (Openb. 1:13, 14:14). Een van die skares wat Jesus gevolg het, het ook ‘n keer van die Seun van die mens gepraat  (Joh 12:34).

Die benaming word gebruik om:

  1. sy mensheid te bevestig (Mark 2:28; Matt 8:20, 12:40).  Dit doen Hy beide in die konteks van sy lyding en dood (Matt 17:22, 20:18, 28, 12:40) asook in die konteks van sy toekomstige heerlikheid (Matt 16:27, 28; Mark 8:38, 13:26; Joh 3:14).
  2. sy Goddelikheid te bevestig, veral in Johannes ( Joh. 5:27, 6:27, 54, 62;) waarmee Hy eintlik ook sy preëksistensie aandui (Joh 1:51, 3:13, 6:27, 8:28, vgl ook Dan 7:13).

Die benaming Seun van die mens spreek van Jesus se volledige eenwording met die mens. Hy het egter nie Seun van die mens geword nie; Hy was dit trouens van altyd af.  Daarom word die term ook gebruik om sy Goddelikheid aan te dui.

Seun van God

Jesus gebruik ook hierdie benaming vir Homself, soos ander dit ook doen. Dit dui veral sy Goddelikheid aan:

  1. as aanduiding van sy Messiaanse karakter waar die woord as’t ware Jesus se amp aandui, nie net sy natuur nie. As Seun van God is Hy God se Verteenwoordiger en Erfgenaam.  So gebruik die demone hierdie benaming, hoewel hulle sy teenstanders was (Mark 3:11, 5:7; Luk 4:41). Ook die hoëpriester gebruik dié benaming, maar verskil natuurlik oor die legitimiteit van Jesus se gebruik daarvan en wil Hom juis daaroor aankla (Mark 14:61; Matt 26:63).  ‘n Engel (Luk 1:35), Petrus (Matt 16:16), Natanael (Joh 1:49), en Marta (Joh 11:27) bely dit as die inhoud van wat hulle glo van Jesus.  Dit is ook moontlik hoe God die naam Seun gebruik, in die sin dat Hy die Seun van God is (Matt 3:17; 17:5; Mark 9:7).
  2. as aanduiding van sy Goddelike wese, in ‘n konteks waar bepaalde Goddelike eienskappe beskryf word wat sy mensheid, soos veral die geval in die briewe van die NT is (Matt 14:33; Rom 1:4, 8:3; Gal 4:4; Hebr 1:1, 7:7).

Die benaming Seun van God, toegepas op Jesus Christus, het dus nie’n eties-religieuse betekenis in die sin dat Jesus dit geword het op grond van die kwaliteit van sy werke nie, maar dit het ontiese betekenis aangesien dit sy eenheid met God self uitdruk. Met hierdie naam word gesê dat Jesus in ’n geheel unieke verhouding tot God staan en dat sy wesensgemeenskap met Hom van ’n bo-tydelike aard is en nie eers met die aardse bestaan van Jesus, ’n aanvang geneem het nie. Anders as alle ander mense staan Jesus aan die kant van God, en Hy staan daar soos niemand anders, behalwe Hy, daar kan staan nie.

Die twee benamings oorvleuel dus in terme van die Goddelike betekenis daarvan.  Die benaming Seun van God belig Jesus se wese vanuit die perspektief van Jesus se Goddelikheid.  Die benaming Seun van die mens belig Sy  wese vanuit die perspektief van Jesus se mensheid.  Die twee benamings belig dus verskillende kante van dieselfde saak, dat Jesus God En mens was.


[1]Gebaseer op, maar ook aangepas uit JA Heyns 1999 Dogmatiek. Pretoria : NG Kerkboekhandel, p 238.


related post

Tags: , ,

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Vinie Furstenberg
    25/05/2011 at 11:52 |

    Baie dankie vir die perspektief. Ek het ook opgelees uit die boek van Prof.Adrio König: Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie.(2001) Het selfs my notas van dertig jaar gelede weer opgediep. Baie navorsingsinsette in o.a. Marshall IH: The Origins of New Testament Christology ,63-82 (1977) en Ladd GE:A Theology of the New Testament,145-158(1974) Op daardie stadium was baie vrae nog onbeantwoord en was daar baie verskillende sienswyses. Ek haal aan uit Marshall:”From our survey it is evident that there are no easy solutions to the ‘Son of Man’ problem and there is no consensus of opinion among scholars. But it may be claimed that the view that Jesus spoke of himself by means of this phrase offers the least difficulties, and that here we have a valuable insight into his self-understanding.” Daar sal maar seker altyd verskil in opinies wees!

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed