Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees

Written by Chris van Wyk on 18/08/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly
Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het.  Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan 1) die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie, 5) die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en 6) die verkiesing van ’n 12de apostel om simbolies die 12 stamme van Israel te verteenwoordig.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word.  Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie.  Soos Jesus uiteindelik die heidene deelmaak van Sy kerk, só doen Hy dit van die begin af met mans en vroue.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag (vir die gawe van die Heilige Gees), spreek my vanoggend sterk aan.  Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie.  Ons het Hom as gelowiges immers ontvang  en word daagliks deur Hom vervul.  Maar dit beklemtoon ook die voordurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie.  Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en Sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dit tref my ook besonderlik dat Sy broers hierdie keer by is en deelneem aan die eensgesinde gebed.  Josef word nie genoem nie, wat waarskynlik beteken dat hy al dood is.  Jakobus, die een broer van Jesus, sal in die loop van die verhaal ’n baie belangrike en ook leiers rol begin speel in die vroeë kerk.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het.  Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets (27:5 – opgehang).  Augustinus het gereken dat albei beskrywings waar was, dat Judas hom opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het.  Maar ons weet nie regtig wat presies daar gebeur het nie.

Jy is welkom om die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, te gaan lees, veral vir die breër prentjie wat dit jou sal gee vir wat met die lyding van die Messias reeds lank tevore voorspel is.  Hierdie aanhalings bevestig ook weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul.  Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

’n Mens kan ook sien dat die kerk van die begin af inval by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ’n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van die heidene met oorgawe omhels word.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed