Handelinge 12:1-24 – God antwoord gebede en bevestig die gemeente in Jerusalem in sy roeping

Written by Chris van Wyk on 07/09/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly
Toe die Joodse leiers nie slaag in hul poging om die evangelie te stuit deur vervolging nie, besluit die Joodse koning, Herodes, om tot die stryd toe te tree en laat van die gemeentelede vang, vermoor een van die twee “manne van die donder”, Jakobus (Mark 3:17 - die bynaam wat Jesus hulle gegee het!), en laat Petrus in die tronk opsluit. Let op dat dit twee van die eerste vier geroepe dissipels van Jesus is (Luk 5:1-11). ‘n Geweldige aanslag dus op die leierskap van die jong gemeente in Jerusalem.

Dit gebeur weereens op die Paasfees, soos ’n paar jaar tevore met Jesus se kruisdood, die fees van die ongesuurde brood. Herodes wou net na die Paasfees vir Petrus om die lewe laat bring, soos die geval met Jesus was wat op die eerste dag van die Paasfees tereggestel is. Hy wou dus die leier, Petrus, wat begin het om die pas aan te gee vir die oorgrens beweging van die evangelie, se mond snoer, soos die Jode dit met Jesus probeer doen het, en nie daarin kon slaag nie.

Herodes en die 16 soldate wat Petrus in die tronk bewaak, is egter nie bestand teen die gebede van die gemeente en die engel van die Here (Jesus se Godsnaam!) nie, en Petrus word bevry en as  bevestiging van God se seën op hulle werk, vir hulle terug gegee.

Die verlossing uit die tronk en die aankoms van Petrus by die gelowiges word met baie detail beskrywe om ons van die werklikheid van die gebeure te oortuig.  Selfs die diensmeisie, Rodé, se naam word genoem, wat Petrus aanvanklik nie inlaat by die gemeentebyeenkoms nie, waarskynlik weens haar verbouereerdheid.

Dit leer ons dat die gebede van die regverdiges – let op die kontras met Herodes se onregverdigheid –groot krag het wanneer dit gefokus word op God se wil in sulke situasies. En onthou dat Barnabas en Saulus ook in daardie tyd daar was en saam gebid het.  Die gemeenskap van gelowiges oor gemeentegrense heen is deel van hierdie wonderlike bevestiging van God se verlossing en ingrype in die geestelike en politieke werklikheid.

Die engel van die Here se werk is egter nog nie klaar nie, en toe Herodes as god vereer word in die interaksie met die afvaardiging van Tirus en Sidon, tree God in en laat hom sterwe, ‘n paar jaar na die dood van Sy Seun (Josefus sê in 44 nC).  Dit is nogal ’n verontrustende gebeure.  Dit laat my dink aan die gesegde: die wiele van geregtigheid draai stadig, maar verseker.  God laat nie met Hom mors nie, en tree op om Sy naam te beskerm en Sy wil te laat geskied.  Dit is ook ’n duidelike aanduiding dat ’n mens nie God se lankmoedigheid moet onderskat nie of veral nie as swakheid of traagheid om op te tree, moet interpreteer nie.  Waar Sy eer in gedrang gebring word, tree Hy op.

Lukas sluit die deel van sy verhaal af met sy herhalende opmerking dat die woord van die Here verder versprei het en veld gewen het. Die tafel is gedek vir die volgende uitbreiding van die koninkryk wat van Antiogië af sou kom.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed