Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword

Written by Chris van Wyk on 09/09/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly
Lukas plaas in Handelinge net vier van die apostels en ander leiers se toesprake inhoudelik: Petrus, Stefanus, Jakobus en Paulus, interessant genoeg nie een van Barnabas nie, hoewel dit duidelik is dat hy ook verskeie kere aan die woord gekom het.

Hier word Paulus se toespraak redelik volledig weergegee omdat hierdie tipe boodskap ’n sleutelrol gespeel het in die verspreiding van die evangelie deur die hele bekende wêreld van daardie tyd.  Natuurlik het die getuienis oor Jesus op baie ander wyses ook versprei, waarin veral gewone gelowiges se vrymoedige verkondiging van Jesus ’n belangrike rol gespeel het.  Maar die toesprake van Paulus en ander het die verbeelding van hele stede aangegryp en baie bygedra tot die bekendstelling van Jesus as Verlosser aan alle nasies. Dit wys net vir my hoe beide die private ruimtes – een-tot-een getuienisse – en die publieke ruimtes – groot byeenkomste – deur die Here ingespan word om die evangelie by mense uit te kry.

Let hoe Paulus in sy toespraak ’n baie sterk klem lê op die opstanding van die Verlosser as die mikpunt van die hele geskiedenis van die Godsvolk.  Dit is die logiese uiteinde van God se verkiesing van sy volk (met die fokus veral op Dawid, die man na God se hart (Ps 89:21; I Sam 13:14).  In hierdie Joodse konteks kontrasteer Paulus ook die verlossing deur die wet met die verlossing deur Christus en lewer ’n sterk appèl dat hulle God nie moet verag nie.

Let op hoe dit beide die Woord van God (die OT Skrifte) en die woord van God (die prediking deur die apostels) is wat geloof bewerk by die gehoor.  God se Woord en ons woorde werk saam om die koninkryk te laat kom.

Die hele week daarna is daar verdere gesprekke waarin Paulus en Barnabas mense aangemoedig het om op die genade van God te bly vertrou, maar die volgende sabbatdag kom daar egter sterk teëstand van die Jode. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense in die sinagoge bymekaar gekom het om die woord van die Here te hoor, word hulle met afguns vervul en begin hulle Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en tree baie beledigend op.

Lukas se perspektief hierop is dat aan die een kant die Jode se teëstand duidelik uitwys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie (hulle spreek ’n oordeel oor hulleself uit!), met aan die ander kant die geloof wat onder die heidene posvat ’n bewys van God se verkiesing wat nie meer grense ken nie.  God se werk word sigbaar in die keuses wat mense maak.

Soos ek op ’n ander plek hieroor skrywe: “Daarmee word as’t ware ’n historiese blik, en nie ’n dogmatiese een nie, gegee op ’n tergende teologiese probleem, naamlik hoekom Israel, die Godsvolk, die evangelie teëstaan, en die heidene dit aanvaar. Later in die brief aan die Romeine sou Paulus verder ook dogmaties hieroor reflekteer (Rom 9 – 11).” (Barnabas: 2011)

Iets wat ’n mens maklik mis in die huidige Afrikaanse vertaling, is dat Lukas van die gelowiges as dissipels praat.  In vers 52 word eintlik van die “dissipels in Antiogië” gepraat (en nie van die “gelowiges in Antiogië” nie) waarmee Lukas onomwonde uitwys dat die verkondiging van die evangelie op dissipel-making uitloop (Matt 28:19) en dat geloof in Jesus in dissipelskap tot sy reg kom.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed