Handelinge 18:24-19:20 – God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese
Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese. Eers doen Apollos groot werk, en sit dit voort met die ondersteuning van die gelowiges in Korinte soos ons hier lees en ook later in die Korinte brief (1 Kor 3:1-9 – waar Paulus hulle bediening vergelyk, maar ondergeskik maak aan die groei wat God gee) waarna Paulus self ’n twee jaar in Efese spandeer.
Interessant is die onderwerp van die doop van Johannes wat Lukas hier aanraak, eerstens in die verhaal van Apollos, wat dieper ingelei word in die betekenis van die evangelie van Jesus, en tweedens in die verhaal van die groepie dissipels (die is die woord wat hier met gelowiges vertaal word) in die binneland, wat nog in die verwagting van Jesus en die Gees gelewe het, soos Johannes die Doper dit verkondig het, en nou beide die doop met water en die gawe van die Heilige Gees ontvang. Let op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.
Paulus doen vir nog twee jaar groot werk hier (in totaal uiteindelik 3 jaar lank – Hand 20:31), aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus. Let op hoe die wonderdade wat God deur Paulus doen, uitgelig word, selfs deur sy klere, net soos dit vroeër van Petrus gesê is (selfs sy skaduwee – Hand 5:12-16) en van Jesus (ook sy klere – Mark 5:27; 6:56). Dit word skerp gekontrasteer met mense wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom.
Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke. Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien. En Lukas sluit hierdie beweging van die Gees daarmee af, waarna die reisverhaal in ‘n verhoor sal eindig en die volgende grens oorgesteek word, dié na Rome toe.
Trackback from your site.


Comments (1)
[...] Die briewe aan die gemeentes in Filippi en Efese (Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle in Open 2:1-7) sal ook in die lig van die uitvoerige verhale oor die stigting van dié gemeentes gelees word soos Lukas ons in die boek Handelinge vertel. Verfris jou geheue hier: Filippi, Efese. [...]