Handelinge 19:21-20:38 – Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang

Written by Chris van Wyk on 22/09/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly
Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Masedonië (met die stede Filippi en Tessalonika) en Agaje (met hoofstad Korinte)  – en dan na Jerusalem en uiteindelik ook Rome te gaan.  Hy stuur Timoteus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye).  Daarmee word die breë lyne van die verhaal wat hom gaan afspeel na die einde van die Handelinge getrek.

Die botsing tussen die Christelike godsdiens (die leer van die Here) en die heidense godsdienste van Efese bereik nou ’n hoogtepunt, met veral die vakmanne wat beswaar maak teen die effek wat die Christelike geloof op hulle beroepsbeoefening het.  Demetrius stook die onrus aan vanuit sy persoonlike situasie, maar spel ook die gevolge uit wat die evangelie op die publieke respek vir die godin Artemis het, en haar aanhang sal laat kwyn, en natuurlik hulle inkomste dan sal bedreig.

Chaos heers totdat die stadsklerk hulle tot bedaring bring met ’n verstommende wyse woord.  Dit is ’n oorwinning in die kleine vir die Christelike godsdiens en is ook ’n getuienis dat mense se harte nie gewen word deur mag en geweld nie, maar deur respekvolle gesprek wat  tot oortuigings kan lei.

Hy reis dan self na Masedonië, Griekeland, en bly daar vir drie maande terwyl hy die gelowiges oral bemoedig.  Let op hoe baie gelowiges uit die verskillende stede waar hy die evangelie verkondig het saam met hom reis, ’n hele gevolg, wat die krag van die evangelie demonstreer.

Paulus reis dan weer terug na Troas (Turkye), waar hy soos Petrus Dorkas uit die dood opgewek het, dieselfde doen met Eutigus, wat die gelowiges, ten spyte van vaak lywe, buitengewoon bemoedig het.

Hy begin egter die reis na Jerusalem, maar wil nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en reël dat hulle mekaar ontmoet in Milete, so 60 km van Efese aan die kus.  Met groot hartseer neem hulle van mekaar afskeid met Paulus wat ’n roerende pleidooi tot hulle rig om die kudde van die Here op te pas.  Hy draai nie doekies om oor die lyding wat hulle sal verduur nie, dinge wat ook vir hom voorlê op sy pad, soos die Heilige Gees hom geruime tyd al op voorberei (20:23).

Hierdie toespraak gee ’n mens ’n roerende kykie in die passie wat hierdie groot Godsman gedryf het – al is sy lewe vir hom kosbaar, wil hy net sy lewenstaak voltooi en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het, klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig (20:24).

Hy som sy bediening op met die woorde waaraan hy ook vir hulle herinner: “om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”  Onder baie trane en gebed rig hy sy voetstappe na Jerusalem, ten spyte van die feit dat hy weet, soos God hom oortuig het, dat dit nie met hom goed sal gaan wanneer hy daar kom nie.  ’n Mens dink aan die ervaring van Jesus in Getsemane, hoewel Hy nie kon staatmaak op sy metgeselle in sy uur van nood nie, en Paulus hier ’n hele skare het wat hom bemoedig.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed