Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies

Written by Chris van Wyk on 19/08/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly

Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13

Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart.  Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus.  Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.  Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36

Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word.  En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede.  Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42

Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge!  Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47

Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens.  Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ’n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ’n mens van ’n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes.  En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ’n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ’n gemeente.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed