Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies

Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13

Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart.  Pinksterfees was ’n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus.  Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.  Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36

Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word.  En dit is interessant dat hierdie eerste preek ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede.  Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42

Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge!  Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47

Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens.  Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ’n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ’n mens van ’n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes.  En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ’n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ’n gemeente.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment


+ eight = 13

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk

    O ja, en sommer ‘n kort opmerking oor die “broers” waarvan hier gepraat word. Die algemene gebruik in die Griekse literatuur van daardie tyd was om die Griekse adelphoi as ‘n versamelterm vir “broers en susters” in ‘n familiekonteks te gebruik. Dit is dan ook wat Jesus hier bedoel met die term “broers”. Hy praat van die hele familie van gelowiges, almal wat sy volgelinge is, mans en vrouens, seuns en dogters.

  • Chris van Wyk

    Iemand vra my of die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 nie tog ook van die geringstes in die algemeen praat aan wie barmhartigheid bewys moet word nie?

    Daar is heelwat geleerdes wat dié teks só interpreteer, en wat dan verwys na ander Matteus tekste wat bv. oor vyande praat wat lief gehê en voor gebid moet word (Matt. 5:43). Maar dan lees hulle die betekenis van ander – weliswaar geldige – aksente in die Skrif in in ‘n teks wat vir my gevoel ‘n ander doel het. Daar is ook nog ander geleerdes wat dink dat Jesus eintlik hier verwys na die Jode – dws sy volksgenote – in onderskeid van die skape (Christene wat barmhartig is teenoor Jode) en die bokke (díe wat nie barmhartig is teenoor die Jode nie). Dit is ‘n interpretasie wat egter vir my heeltemal vreemd is aan hoe ek die teks lees.

    Die teks sê: “wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.” Ek dink dat Jesus hier van die geringstes as deel van die gemeenskap van gelowiges praat, meer nog, dat Hy van die dissipels praat, dié wat Hy binnekort weer gaan uitstuur om die Groot Opdrag van evangelieverkondiging te gaan uitvoer. Ek dink ‘n mens moet die teks dus nie te algemeen interpreteer nie, want dan mis jy die impak wat die teks op die dissipels gehad het wat hierna geluister het. Hulle het hier gehoor dat God mense (skape) sal gee om hulle te vertroos in hulle sending, en dat dié wat hulle in die proses ignoreer (bokke) die lewe sal mis. Hulle het ook gehoor dat hulle só teenoor mekaar moet optree. Dit korreleer dan ook met die uitsending van die twaalf vroeër in die evangelie waar die vrede wat God gee gebly het op dié wat ontvanklik daarvoor is, en dit het beteken dat hulle die dissipels met gasvryheid ontvang het. En dit beteken dat ons vandag ook meer moeite moet doen met kinders van die Here wat dit swaar het in hulle gehoorsaamheid ter wille van die Here Jesus.

    Daar is natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel wat praat oor vreemdelinge aan wie barmhartigheid bewys moet word, en vyande wat lief gehê moet word, wat genoegsaam sê dat barmhartigheid aan almal bewys moet word. Dit is immers hoe die Skrif God teken, wat vir almal goed is, die goeies en die slegtes. ‘n Mens het nie Matteus 25 nodig om dít te kan sê nie.

    Matteus 25 het dus vir my ‘n spesifieke boodskap van barmhartigheid aan die dissipels, binne die groter boodskap van barmhartigheid aan almal – selfs donkies van jou vyand moet uit die put gehelp word! Altans, dit is waar ek nou in my interpretasie is. Sal graag verder hoor hoe julle hieroor dink.

    Ek het verlede week ‘n getuienis van een van ons lidmate gehoor wat vir my ‘n Matteus 25 storie is. Ek haal my weergawe daarvan op ons Facebook bladsy vir julle aan ( https://www.facebook.com/ngkerksomerstrand):

    Wat sou jy maak as jy in gietende reën net na die dorpie Paterson ry en jy sien langs die pad drie jongmense met net die gesigte wat uitsteek onder hulle reënjasse?

    Een van ons lidmate, Cornell Lamprecht, het besluit om te stop al was haar motor vol van plante en honde op pad na hulle kleinhoewe in Riebeeck-Oos. Hulle storie het vir haar vreemd geklink. Die jongmense is daar met niks geld, klere of selfone nie, maar hulle volg die pad wat die Here hulle lei. Ma wat Cornell is, laai sy hulle egter in, en neem hulle saam, waar Manie, haar man, ook betrokke raak.

    Stadig ontvou die storie. Die jongmense is van Global Challenge in Jeffreysbaai, waar vorige lidmate van ons Marietjie en Johann McFarlane nie net by dié opleiding betrokke is nie, maar ook die skool bestuur. Ná ‘n vinnige oproep na my toe en ‘n gesprek met Johann blyk hulle storie waar te wees. Hulle is besig met die Lukas 10 projek. Hulle word in groepe uitgestuur en gaan waarheen die Here hulle lei.

    Die gemeenskap in Riebeeck-Oos het die vrede wat die jongmense gebring het, ontvang, en op die ou end het die hele gemeenskap ‘n wonderlike naweek met die 3 jongmense gehad en is almal deur hulle geraak. Almal is die Sondag saam klipkerk toe waar Ds Murray sy dissipelskap preek onmiddelik aangepas het in Engels om die Botswana meisie te akkommodeer.

    Al drie was toe ook nie so jonk nie, omtrent 25 jaar oud, nagraads gegradueer en het al gewerk. Eric is eintlik n proponent van ons kerk! Hulle is op pad Suid Amerika toe. Eric is ook toevallig (Godsvallig!) goeie vriende met die McFarlane tweeling. Die Here werk voorwaar op merkwaardige wyses! Hulle het ook vanoggend ‘n lift tot in Jeffreysbaai gekry saam met ‘n plaaslike boervrou.

    Die volgende keer dat jy iemand langs die pad sien … of iemand by jou huis aanklop … onthou dié storie!

  • Chris van Wyk

    En daar is ‘n skatkis van woorde in die biblioteek wat God vir ons met al die boeke van die Bybel gegee het! Geniet!

  • Carel

    Dit is net merkwaardig hoe die woord van God n mens telkemale onder alle omstandighede ,versterk en insig gee in jou lewe wanneer jy dit die nodigste het

    Groete en seenwense

  • Carol

    Baie dankie…sal gaaf wees as dit ook in gedrukte vorm verkrygbaar kan wees en sal op die uitkyk wees daarvoor. Sterkte en dankie vir al die moeite, tyd en energie wat hierin gegaan het en nog gaan.