Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word
Hoe om die Gees se woorde te interpreteer
Die rol van die Heilige Gees in hierdie gedeelte, en die wyse waarop die gelowiges Hom ervaar, is baie interessant en insiggewend vir ons eie verstaan van Hom en vir ons onderskeidingsprosesse.
- Dat die Gees vir Paulus voorberei vir ’n pad van lyding wat vir hom wag, is duidelik, soos Paulus vir die ouderlinge van Efese in Milete reeds gesê het (20:22-24) en soos die Here Jesus self vir Ananias opdrag gegee het om vir Paulus reg aan die begin van sy roeping te sê: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (9:16) Dit was immers nie anders in die lewe van Jesus nie – Hy moes ly om die wil van God te vervul! Lyding sou deel van die roeping van Paulus wees. Dit was duidelik reeds reg aan die begin van sy roeping.
- Die gelowiges in Tirus het ook hierdie boodskap van lyding van die Gees gehoor, maar wil Paulus dit spaar en raai hom aan om nie Jerusalem toe te gaan nie (21:4). Dit sou egter Paulus se lewensroeping en die persoonlike woord van die Gees in sy lewe dwarsboom (20:2-24). Hy kan dus nie inval met hulle goedbedoelde, maar misplaaste raad nie, en gaan, nadat hulle saamgebid het, verder op die reis, juis na Jerusalem.
- Netso kom die profeet Agabus in Sesarea met die waarskuwing aan Paulus dat hy aan die heidene uitgelewer sal word, weereens onder leiding van die Heilige Gees (21:10-11). Die waarskuwing is egter vir Paulus ’n bevestiging dat hy nie moet terugdeins van die lyding wat vir hom wag nie, maar juis moet volhard in sy voorneme om Jerusalem toe te gaan. Tot Agabus se krediet volstaan hy met Paulus se reaksie op sy woord.
- Hieruit sien ’n mens die gevaar wat altyd in geestelike onderskeiding bestaan. ’n Mens hoor dieselfde woord van die Heilige Gees – ’n waarskuwing byvoorbeeld – maar maak afleidings daaroor in terme van ’n mens se eie denke – ’n mens moet gevaar vermy byvoorbeeld. Paulus daarenteen doen die regte ding, en verbind die woord van die Gees aan sy lewensroeping – lyding gaan deel wees van jou pad – en loop die pad van lyding met blymoedige dapperheid.
Om vir die Jode te word soos ’n Jood
Dit is ook baie interessant om te sien dat die Joodse gelowiges Paulus sterk aanvat dat hy die boodskap wat vir die heidense gelowiges bedoel was – dat hulle nie die wet van Moses rondom die besnydenis hoef na te kom nie – ook op gelowiges uit Joodse geledere van toepassing gemaak het. Hulle is waarskynlik verkeerd in hulle afleiding – Paulus het immers vir Timoteus laat besny, omdat sy ma ’n Jodin was (Hand 16:3 – hy het egter heeltemal tereg nie vir Titus laat besny nie, al was daar ’n aandrang daarvoor, omdat hy volledig Grieks was – Gal 2:3), maar Paulus stribbel nie teë nie.
Dit blyk dus duidelik dat die gemeente in Jerusalem geleer het om gasvry te wees – teenoor die Griekse weduwees (Hand 6) – mense van ander nasies in te sluit en nie laste op hulle te lê nie – teenoor die gelowiges uit die heiden nasies uit die res van die wêreld (Hand 15) – maar self nie verander het, of geskuif het in hulle verstaan van die belang van die wet nie. Hulle het byvoorbeeld Grieke aangestel om die weduwees te help ( al sewe mans het Griekse name – Hand 6:5), en nie Jode nie, en nie self die besnydenis versaak nie, maar steeds aangehang. Hierdie gebrek aan bereidheid om self te verander het waarskynlik bygedra daartoe dat die gemeente met die groot veranderinge wat met die verwoesting van Jerusalem gekom het, in die slag gebly het.
Hoe dit ook al sy, Paulus word hier voor ’n skerp toets geplaas. Bedoel hy werklik dat hy vir die Jode soos ’n Jood word, en is hy bereid om hom onder die wet te stel, al is hy nie meer onder die wet nie (1 Kor 9:19-23)? En hy wys dat hy dit werklik bedoel, ter wille van die evangelie, deur hulle voorstel na te kom dat hy hom in die tempel moet gaan reinig.
Paulus spreek die volk toe en lewer sy getuienis
Dit sit egter ’n proses aan die gang wat die Joodse leiers nie in berekening gebring het nie, waarin ’n mens sien hoe God sy wil uitwerk midde-in en regdeur die menslike oorwegings van die leiers in Jerusalem. Paulus word by die tempel gevange geneem, omdat hulle hom beskuldig dat hy ’n klomp Grieke in die tempel ingebring het en so die tempel ontheilig het. Dat dit nie waar was nie, skeel die oproermakers min, Jode uit sy geboorteland in Asië, en die proses om Paulus in Rome uit te bring, kom op koers, al is dit dan deur geslepe en gemene mense.
Paulus gebruik die geleentheid om die volk toe te spreek en sy getuienis te lewer. Op ’n kragtige wyse skilder hy vir hulle die werklikheid van God se ingrype in sy lewe. Let op hoe hy van ’n werklike teenwoordigheid van Jesus self praat wat op ’n verskeidenheid wyses in sy lewe ervaar kon word. Hulle wil egter nie daarna luister nie, en dit sit die volgende fase aan die gang, dat hy voor die Joodse Raad gebring word.
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!