Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks
Voor die Joodse Raad
Let op dat die Here Jesus weereens persoonlik aan Paulus verskyn om hom moed in te praat en die belofte/opdrag te gee dat Paulus hierdie getuienis tot in Rome sal bring.
Die komplot teen Paulus
Die gekonkelry van die Joodse Raad duur voort, soos vroeër met Jesus, en hulle smee ’n komplot teen Paulus wat gelukkig deur die seun van Paulus se suster gefnuik word. ’n Mens wonder hoe die seun in ’n posisie was om die inligting te bekom, maar, hoe dit ook al gebeur het, dit loop uit op die beskerming van Paulus se lewe en hy word onder begeleiding na Feliks in Sesarea gestuur.
Paulus voor Feliks
Die gevleiery van Feliks deur die Joodse afvaardiging om Paulus te beswadder help hulle egter niks, want Feliks is reeds bekend met die hooftrekke van die verloop van die verspreiding van die Christelike godsdiens. Maar Paulus kry dus nou die kans om die evangelie persoonlik aan Feliks te verkondig deur middel van die hofsaak en die latere gesprekke. Dit is belangrik om te hoor wat Lukas eintlik in 24:22 sê. Feliks word daar aangehaal dat hy van Christenskap as die WEG praat, wat vertaal is in die NAV met die “leer van Christus”. Die klem was dus op die manier van lewe, nie op die manier van dink, die leer of dogma nie (soos die vertaler gekies het om dit weer te gee nie).
Geen wonder dat as Feliks en sy vrou Drusilla (onthou Pilatus se vrou wat ook ’n rol gespeel het met Jesus se kruisiging – Matt 27:19) meer oor Christus te wete wil kom, Paulus dan met hulle praat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing, en oor die komende oordeel. En ’n mens sien nou hoe die prentjie ontvou: dít is die motivering vir hierdie sameloop van omstandighede, die lydingspad wat Paulus te beurt geval het, dat hy die evangelie vir die goewerneur moet verkondig. Feliks word egter nie uiteindelik daardeur oortuig nie. Hy raak bang, onder andere waarskynlik omdat Drusilla sy derde vrou was, wat hy boonop van die koning van Sirië afgeneem het (sy was aan hom belowe, maar het die verbintenis verbreek om met Feliks te trou – dit is as egskeiding beskou in die Joodse kultuur), en begin eerder dink daaraan om Paulus te misbruik tot sy eie voordeel. Hy’t miskien gedink dat Paulus vermoënd was, gegewe die geldelike bydrae waarvan Paulus in 24:17 praat, hoewel dit natuurlik die bydrae van die gemeentes van Paulus se sendingreise was. En dit hou twee jaar lank aan. Korrupsie kom al ’n lang pad met ons!
Maar, belangrik, die boodskap van die evangelie het deurgedring tot in die goewerneur se invloedsfeer, net soos Jesus aanvanklik dit met Pilatus reggekry het, of hy nou daarop gereageer het of nie.
’n Interessante feit kom na vore in Paulus se toespraak, dat hy in Jerusalem in die tempel gaan offer het (24:18). In die lig van die feit dat Christus die finale offer was, en die offerkultus daarmee as van verbygaande aard uitgewys is, val dit vreemd op. Dit pas waarskynlik in sy roeping in, om vir die Jode soos ’n Jood te wees (1 Kor 9:19-23). Daarby het hy natuurlik die offer namens die 4 mans uitgevoer (Hand 21:22-26), en nie namens homself nie.
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!