Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo

Written by Chris van Wyk on 22/08/2011. Posted in Handelinge

Print Friendly

3:1-10

Dit is opmerklik dat die eerste fase van die dissipels se bediening steeds in die tempel plaasvind, dié tempel wat Jesus self “gereinig” het en in die laaste week van sy aardse bediening die mense geleer het (Luk 19-21).  Die tempel is dan ook die plek waar die eerste wonder plaasvind in die bediening van die apostels.  Let op hoe die verlamde man vir Petrus en Johannes sien  - die normale woord vir kyk eidoo – en hulle hom dan stip aankyk – ’n woord wat die betekenis van toegespitste aandag oordra antenizoo (attentive).  Hulle vra hom dan om na hulle te kyk – nog ’n Griekse woord blepoo wat ook die metaforiese betekenis kan dra om met begrip te kyk.  Dit is wanneer hy só reageer, dws met verwagting, dat hulle hom die gawe van gesondheid in die Naam van Jesus gee.

Hierdie wonder het beteken dat hulle boodskap nou nie net deur die wonder van die Heilige Gees se uitstorting gerugsteun is nie, maar nou ook deur dieselfde wonders wat Jesus gedoen het.  Binne dae het hulle bediening onder almal se aandag gekom, wat aan die een kant as teken gedien het dat Jesus se bediening voortgesit word deur die apostels in dieselfde krag waarmee Hy opgetree het.  Maar aan die ander kant ook skerp teenstand van die godsdienstige leiers uitgelok het, iets wat natuurlik toenemend in Jesus se eie bediening gebeur het en tot sy dood gelei het, en wat hierna so fel sou toeneem dat daar ’n grootskaalse vervolging van die Christene sou uitbreek.

3:11-26

Petrus gebruik weereens die reaksie op die wonder (soos met Pinksterdag) om die evangelie aan die skare mense wat in die tempel is, te verkondig.

Let op hoe hy sy boodskap opdeel: 1) dat dieselfde Jesus wat hulle doodgemaak het, nou in sy opstandingskrag die genesing bewerk (3:11-16) en 2) hierdie Jesus is lank alreeds deur die profete aangekondig, en wil steeds tot ’n seën wees selfs vir dié wat Hom gekruisig het (3:17-26).

Dit tref my hoe Petrus oor geloof praat (vers 16).  Hy belig die twee kante daarvan: 1) deur die geloof in sy Naam, het sy Naam genesing gebring – die geloof van Petrus in Jesus en die verwagting van die verlamde man vir wat Hy kan gee, het God tot aksie beweeg, en 2) die geloof is ’n gawe van God – dws Petrus kan glo, en die man kan van God iets verwag, omdat Hy in die eerste plek vir hulle dit moontlik gemaak het om te kan glo.  Geloof is ’n leë hand wat ons na God uitsteek om op te tree.  Dit is ook ’n gawe wat Hy gee sodat ons van Hom kan vra.  Albei kante van geloof is waar en nodig in sy koninkryk.

Dit tref my ook dat Petrus werk met ’n baie nabye verwagting van Jesus se wederkoms.  As die Jode tot inkeer kom en hulle tot Hom wend, sal Hy hulle seën en weer terugkom na hulle toe.

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed