Handelinge 9:20-31 – Barnabas ontferm hom oor Saulus en word die borg vir sy bediening
Die teenstand van die Jode bly natuurlik nie lank onder die oppervlakte nie, en hulle beplan om hom dood te maak, en hy moet self vlug uit die stad. Letterlik staan dit in die Griekse teks, dat sy “dissipels” dws sy bekeerlinge hom help ontsnap.
Sonder Barnabas sou dié geskiedenis waarskynlik nooit gebeur het nie. Saulus se wrede poging om die kerk uit te roei (Hand 8:3) het steeds te veel teen hom getel. Barnabas, wat ons in sy primêre rol as bemoediger aan die werk sien, verskyn egter op die toneel. Hy ontferm hom oor Saulus as niemand iets met hom te doen wil hê in Jerusalem kort na sy bekering nie. Barnabas se aanvaarding van Saulus was dus die poort waardeur die bediening van Saulus ’n kans gekry het om te ontwikkel, en dit sou uiteindelik die hele Christelike bediening transformeer.
Let op hoe Lukas dit vertel: Barnabas dra Saulus se verhaal oor deur eerstens op twee dinge klem te lê wat God gedoen het: Saulus het Jesus gesien, en die Here het met hom gepraat – albei dinge wat baie belangrik vir sy uiteindelike status en aanvaarding as apostel sou wees. En daarby lê hy klem op wat Saulus direk na sy bekering gedoen het: hy het openlik in Damaskus in die Naam van Jesus gepreek, presies die teenoorgestelde as waarvoor hy daarheen deur die hoëpriester gestuur is.
Dit lei uiteindelik tot ’n openbare erkenning van sy bediening – letterlik staan daar, hy kon “in en uit Jerusalem gaan saam met hulle” – hoewel daar steeds Grieksprekende Jode was wat hierdie verraaier vyandig gesind gebly het en hom wou vermoor. Dit noop die gelowiges om hom weg te stuur na Sesarea en daarvandaan na Tarsus toe, sy tuisdorp, ter wille van sy eie veiligheid.
Uit die verdere verloop van die verhaal weet ons dat dit nie ’n uitskuif-en-vergeet aksie was nie. Saulus gaan in dié tyd deur ’n intense voorbereiding. Presies wat dit behels het, word ons nooit vertel nie, maar hy word uiteindelik deur dieselfde Barnabas na die aktiewe bediening in die eerste gemengde gemeente, Antiogië, genooi.
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!