Indeling van die boek Jesaja

Written by Chris van Wyk on 24/01/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Jesaja teken God as die Lewende (Jes 37:4).  Hy is die God van beide die Skepping (Jes 40:28) en die Geskiedenis (Jes 1:1; 43:15).
  • In terme van die Skepping is Hy beide Skepper (Jes 40:28) as Onderhouer (Jes 27:3, 40:26) van alles wat bestaan.
  • En in terme van die Geskiedenis tree Hy op as Regter (Jes 33:22) en Verlosser (Jes 41:14) van almal wat leef, ook die nasies (Regter: Jes 13-23;  Verlosser: 56, 60).

Deel 1: Jesaja 1-39

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4).  Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6 ) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8 ) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word.  Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

1.       Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;

2.       Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;

3.       Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer.  Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

Deel 2: Jesaja 40-66

In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 52‑53) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40).  Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek.  En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Vinie Furstenberg
    24/01/2011 at 22:09 |

    Is dit reg dat ek aflei dat ons heeltemal gaan wegdoen met die “drie profete” benadering?
    Waarna verwys Groenewald as hy praat van “uiteenlopende standpunte oor die historiese profeet”, en die “soektog na die historiese Jesaja” wat onmoontlik geword het?

    • Chris van Wyk
      25/01/2011 at 06:20 |

      Daar is nog heelwat mense wat die “drie profete” benadering sal volg, en daar is natuurlik baie geskryf daaroor, en mense gebruik nog daardie boeke en kommentare. Groenewald verwys heel waarskynlik na die probleem wat enige navorser het, dat daar so min in die Bybel oor die profeet Jesaja geskryf word. Die oomblik as jy dan begin spekuleer is dit geen wonder dat ‘n mens ervaar: “soveel hoofde, soveel sinne”. Dit maak dus vir my meer sin om die boek as ‘n eenheid te hanteer wat oor ‘n lang tyd tot stand gekom het.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed