Jesaja 1 – Julle ken My nie
Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die koningstydperke van Ussia (word ook Asarja genoem in 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda – ongeveer van die jaar 740 – 697 v C, die sterfjare van onderskeidelik Ussia en Hiskia.
Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).
In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel. Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, en nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie. Dit sit agter:
1. die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land – 1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jes 36 en 2 Kon 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);
2. die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en tot bekering roep – 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);
3. die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).
Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (:19); Hy belowe nuwe leiers (:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (:27).
Ander bydraes vir vandag
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


Comments (2)
Te lekker om weer te begin, dis vir my interesant hoe daar van ons verantwoordelikheid gepraat word om te kies – ek ploeg op die oomblik met die uitverkiesing, en alhoewel ek al hor meer begin dink dat daar wel een of ander tipe uitverkiesing /roeping van God se kant af is, lyk dit tog asof Jesaja vir ons vertel dat ons moet kies of ons God wil dien of nie, en dat ons keuse sekere gevolge vir ons inhou
Wat my baie help om van die uitverkiesing sin te maak, is om te onthou dat die sinode van Dordt vir ’n uitverkiesing in Christus en in die geskiedenis gekies het (Infralapsarisme) en nie vir ’n uitverkiesing voor die sondeval (Supralapsarisme) nie. Die uitverkiesing vind plaas in die geloofskeuse wat mense vir Christus maak, waarin God se roeping die oortuigingskrag is (Rom 9:24; 10:8,11-21), en geloof en belydenis die manier is waarop ons dit ontvang (Rom 10:9-10). God se uitverkiesing vind dus nie plaas buite om ons geloof nie, maar in of deur ons geloof. Omgekeerd, kan ‘n mens sê, dit is in die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van die volk wat hulle verwerping sigbaar word (Rom 9:32; 10:3, 16-21; 11:7-10). Dit sien ‘n mens natuurlik in die boek van Jesaja ook, bv Jes 1:19-20. Vir meer leeswerk hieroor in my bydraes oor Romeine 9-11: http://www.bybelskool.com/romeine/romeine-9-11-%E2%80%93-die-jode-se-volle-getal-sal-gelowig-word/