Jesaja 1 – Julle ken My nie

Written by Chris van Wyk on 20/01/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Hoofstuk 1-5 vorm ’n eenheid en handel oor die saak wat die Here teen sy volk het.  Hoofstuk 6 handel oor die roeping van Jesaja as profeet, wat terugverwys na die eerste deel en ook die tweede deel, hoofstuk 7-12 inlei.  Daar word gefokus op die belofte aan Agas, ’n belofte wat hy verspeel het, maar wat op uitnemende wyse in Jesus eeue later vervul is.  Die eerste van ’n aantal oordele oor die nasies – die een oor Assirië – word tussenin in hoofstuk 10 vertel.

Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die koningstydperke van Ussia (word ook Asarja genoem in 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda – ongeveer van die jaar 740 – 697 v C, die sterfjare van onderskeidelik Ussia en Hiskia.

Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).

In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel.  Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, en nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie.  Dit sit agter:

1.       die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land –  1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jes 36 en 2 Kon 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);

2.       die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en  tot bekering roep – 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);

3.       die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).

Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (:19); Hy belowe nuwe leiers (:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (:27).

Ander bydraes vir vandag

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Vince Aslett
    20/01/2011 at 08:43 |

    Te lekker om weer te begin, dis vir my interesant hoe daar van ons verantwoordelikheid gepraat word om te kies – ek ploeg op die oomblik met die uitverkiesing, en alhoewel ek al hor meer begin dink dat daar wel een of ander tipe uitverkiesing /roeping van God se kant af is, lyk dit tog asof Jesaja vir ons vertel dat ons moet kies of ons God wil dien of nie, en dat ons keuse sekere gevolge vir ons inhou

    • Chris van Wyk
      20/01/2011 at 11:16 |

      Wat my baie help om van die uitverkiesing sin te maak, is om te onthou dat die sinode van Dordt vir ’n uitverkiesing in Christus en in die geskiedenis gekies het (Infralapsarisme) en nie vir ’n uitverkiesing voor die sondeval (Supralapsarisme) nie. Die uitverkiesing vind plaas in die geloofskeuse wat mense vir Christus maak, waarin God se roeping die oortuigingskrag is (Rom 9:24; 10:8,11-21), en geloof en belydenis die manier is waarop ons dit ontvang (Rom 10:9-10). God se uitverkiesing vind dus nie plaas buite om ons geloof nie, maar in of deur ons geloof. Omgekeerd, kan ‘n mens sê, dit is in die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van die volk wat hulle verwerping sigbaar word (Rom 9:32; 10:3, 16-21; 11:7-10). Dit sien ‘n mens natuurlik in die boek van Jesaja ook, bv Jes 1:19-20. Vir meer leeswerk hieroor in my bydraes oor Romeine 9-11: http://www.bybelskool.com/romeine/romeine-9-11-%E2%80%93-die-jode-se-volle-getal-sal-gelowig-word/

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed