Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie
Let ook op hoe Jesaja 11 se eerste vers teruggryp na die oorblyfsel idee wat verskeie kere in hoofstuk 6-10 gebruik word. Dit versterk die prentjie van God, dat Hy oordeel om te suiwer.
En wat my die meeste tref is dat die hoop vir die toekoms gefokus is op ‘n tweede Dawid, die takkie uit die stomp van Isai (vers 1), wat ook die vaandeldraer uit die geslag van Isai (vers 10) genoem word. Op hierdie weergalose leier sal die Gees rus net soos op Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2) wat hom met die nodige eienskappe sal toerus om ‘n deurslaggewende verandering nie net vir die volk van Juda en Israel in ‘n onderlinge eenheid te weeg te bring nie en wat die skeuring van die ryk onder Rehabeam sal herstel nie, maar vir al die nasies van die wêreld (vers 10).
Let op dat sy koninkryk gekenmerk sal word deur harmonie en vrede in die land. Die enigste oorlog sal dié wees teen nasies wat die ballinge se terugkeer sou kon keer, beide na die suide toe in Egipte sowel as na die ooste toe in Assirië (vers 12-16). Dit is ‘n utopia van reg en omgee, van billikheid en sorg wat selfs die verhoudinge tussen mens en dier en dier en dier (wolwe kuier as gaste by skape! – dit is die prentjie wat die oorspronklike Hebreeus skets in vers 6) sal herstel, ‘n nuwe paradys.
En die sentrale spilpunt waarom dié utopia sal draai, is die kennis van die Here (vers 9) waarvan die aarde so vol sal wees soos die see vol water is.
Geen wonder dat hoofstuk 12 dan vervolg met die loflied van hierdie verlostes wat op daardie dag aangehef sal word: “U was kwaad … maar nou nie meer nie!” (vers 1). Daarmee som hulle eintlik die vorige hoofstukke se oordeels- en heilsprofesieë op. En dié boodskap sal weereens uitbasuin word vir die volke, want dit is wat God wil hê sy volk se bestaansdoel moet wees (Jes 2), om sy lof aan alle mense te bring. “Groot is die Heilige van Israel … en Hy is by julle!”
Die NT skrywers het natuurlik sonder uitsondering die vervulling van hierdie profesie in Jesus Christus gevind (Bv. Joh 1:32 – “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly.”; Rom 15:7-13: “Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik … Jesaja sê: Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”).
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


Comments (2)
Ek het ‘n paar jaar gelede die outobiografie van Alan Paton gelees, en was beindruk met sy keuse van due titel – “Towards the Mountain”. Dit was ‘n verwysing na die berg van die Here van Jes 11:9 waar mense nie mekaar sal seermaak of benadeel nie, weens die volheid van die kennis vd Here. Dis hoe hy sy lewensarbeid gesien het.
Dit bly darem ‘n droom wat die moeite werd is om voor te lewe – of ten minste te bly verwag!