Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie

Written by Chris van Wyk on 02/02/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Daar is min woorde wat my meer vreugde gee as die klein woordjie SAL wat hier so 37 keer gebruik word.  Dit sluit die toekoms oop vir die volk: “’n Takkie sal uitspruit …” , “Die Gees van die Here sal op hom rus …” (vers 1).  En dit spel ‘n kernkwaliteit van God uit – Hy gee nooit moed op nie; Alles is nie verlore waar Hy ingryp nie.

Let ook op hoe Jesaja 11 se eerste vers teruggryp na die oorblyfsel idee wat verskeie kere in hoofstuk 6-10 gebruik word.  Dit versterk die prentjie van God, dat Hy oordeel om te suiwer.

En wat my die meeste tref is dat die hoop vir die toekoms gefokus is op ‘n tweede Dawid, die takkie uit die stomp van Isai (vers 1), wat ook die vaandeldraer uit die geslag van Isai (vers 10) genoem word.  Op hierdie weergalose leier sal die Gees rus net soos op Dawid (1 Sam 16:13; 2 Sam 23:2) wat hom met die nodige eienskappe sal toerus om ‘n deurslaggewende verandering nie net vir die volk van Juda en Israel in ‘n onderlinge eenheid te weeg te bring nie en wat die skeuring van die ryk onder Rehabeam sal herstel nie, maar vir al die nasies van die wêreld (vers 10).

Let op dat sy koninkryk gekenmerk sal word deur harmonie en vrede in die land.  Die enigste oorlog sal dié wees teen nasies wat die ballinge se terugkeer sou kon keer, beide na die suide toe in Egipte sowel as na die ooste toe in Assirië (vers 12-16).  Dit is ‘n utopia van reg en omgee, van billikheid en sorg wat selfs die verhoudinge tussen mens en dier en dier en dier (wolwe kuier as gaste by skape! – dit is die prentjie wat die oorspronklike Hebreeus skets in vers 6) sal herstel, ‘n nuwe paradys.

En die sentrale spilpunt waarom dié utopia sal draai, is die kennis van die Here (vers 9) waarvan die aarde so vol sal wees soos die see vol water is.

Geen wonder dat hoofstuk 12 dan vervolg met die loflied van hierdie verlostes wat op daardie dag aangehef sal word: “U was kwaad … maar nou nie meer nie!” (vers 1). Daarmee som hulle eintlik die vorige hoofstukke se oordeels- en heilsprofesieë op.  En dié boodskap sal weereens uitbasuin word vir die volke, want dit is wat God wil hê sy volk se bestaansdoel moet wees (Jes 2), om sy lof aan alle mense te bring.  “Groot is die Heilige van Israel … en Hy is by julle!”

Die NT skrywers het natuurlik sonder uitsondering die vervulling van hierdie profesie in Jesus Christus gevind (Bv. Joh 1:32 – “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly.”; Rom 15:7-13: “Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik … Jesaja sê: Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”).

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Jurie Jurgens
    02/02/2011 at 15:04 |

    Ek het ‘n paar jaar gelede die outobiografie van Alan Paton gelees, en was beindruk met sy keuse van due titel – “Towards the Mountain”. Dit was ‘n verwysing na die berg van die Here van Jes 11:9 waar mense nie mekaar sal seermaak of benadeel nie, weens die volheid van die kennis vd Here. Dis hoe hy sy lewensarbeid gesien het.

    • Chris van Wyk
      09/02/2011 at 14:23 |

      Dit bly darem ‘n droom wat die moeite werd is om voor te lewe – of ten minste te bly verwag!

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed