Jesaja 29 – God gee insig vir die nageslag

Written by Chris van Wyk on 11/02/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly

Die hoofstuk het drie perikope:

  1. God straf sy volk, sowel as hulle vyande – 29:1-4; 29:5-8
  2. Die straf is weens hulle hart wat ver van God af is – 29:9-16
  3. God sal egter weer insig gee en hulle leer – 29:17-24

Jerusalem word hier simbolies Ariël genoem, ‘n naam wat verskillend geïnterpreteer word.  Dit kan beteken “leeu van God”, “sterkman/held van God” (afgelei uit die woord vir sterk man in 2 Sam 23:20),  of “vuurherd van God” (soos dit in Eseg 43:15 gebruik word – vgl Jes 31:9b wat dié interpretasie steun).  Dat vers 2 na die stad as ‘n vuurmaakplek (vuurherd) verwys, maak laasgenoemde interpretasie die meer waarskynlike.

29:1-4: God kondig ellende oor sy volk aan, al verloop dit ook langsaam. Hulle val – grusaam en grillerig beskrywe as dat net ‘n spookstem uit die stof van hulle sal oorbly – is verseker.  Dit beteken – soos Jesaja nou al baie gesê het – daar sal eers oordeel wees, voor die vreugde van omkeer en verandering sal aanbreek.

29:5-8: Tog sal die Here Hom uiteindelik oor hulle ontferm en die vyand daarna soos stof laat wegwaai.  Let weereens op hoe kunstig die skrywer-digter dit doen met die parallelle gebruik van die verwysing na die stof uit die vorige deel.  Die omkeer word met groot natuurtekens beskrywe – donderslae, aardbewings, storms, orkane – wat die toekoms van die vyande in ‘n nagmerrie  verander.

29:9-16: Let op hoe die tema van onbegrip – ‘n sleutelopdrag van Jesaja (Jes 6) – hier ook binne die konteks van die blinde profete en onverstandige sieners (1 Sam 9:9 – ‘n vroeëre naam vir profete) van die volk geplaas word.  Die volk se onbegrip is ook veroorsaak deur die geestelike leiers.  Terloops – die Ethiopiër in Handelinge 8 is juis besig om Jesaja te lees wanneer Filippus hom vra: “Verstaan jy wat jy lees?”  Die boodskap van Jesaja word dan vir hom – God sy dank! – op ‘n verstaanbare wyse uitgelê sodat hy die Here kan aanvaar.

Die probleem van die volk in Jesaja se tyd is egter nog dieper as net die gevolg van die geestelike leiers se versuim – hulle geloof in God is net lippetaal; dit kom nie uit die hart nie.  Dit bring God se oordeel oor hulle.  En daaroor sal hulle God nie kan verwyt nie, net maar hulle eie ongehoorsaamheid.  “Julle is agterstevoor met alles!” (vers 16).  Jesus sou later dié woorde op die Fariseërs van toepassing maak – Mark 7:6-7 – lees gerus my bydrae oor dié perikoop.

29:17-24: Tog kan God nie Homself keer om insig te bring nie –Sy lig kan nie in die laaste instansie weggesteek word nie.  Hy verander die lot van die natuur (die Libanon se bos word ‘n vrugteboord) sowel as van die mense: dowes kan hoor en blindes weer kan sien (vgl Jesus wat dit as ‘n sleutelelement van sy eie opdrag verstaan het – Luk 4).  Let op hoe dit spesifiek ook die arm mense betrek.  Wreedheid en ligsinnigheid sal uit hulle samelewing verdwyn, onreg sal uitgeroei word, en almal sal God eer.  Alle lae van die samelewing sal in vrede met mekaar en met God lewe.

Die belofte vir ouers wat hierin opgesluit lê, tref my besonderlik: God belowe in vers 22-24 dat Abraham nie meer hoef skaam te wees (bleek van verleentheid!) vir sy kleinseun Jakob en dié se nageslag se dwaling nie, en netso die nageslag self – hulle sal God eer vir die kinders wat Hy op hulle beurt vir hulle sal gee.  Die kinders sal die Here eer en vir Hom ontsag hê.  Selfs: “dié wat gedurig foutgevind het, sal hulle laat leer”!  Watter belofte om aan vas te gryp, en ‘n droom om voor te lewe!

Tags:

Trackback from your site.

Comments (3)

  • Rien
    14/02/2011 at 21:10 |

    Ek dink ons het keuses,tussen sonde en God. Ons kan nie altwee aanhang nie. Solank ons op aarde is sal ons nog sondige goed doen, maar die HG oortuig ons wat sonde is sodat ons dit kan belei. God haat sonde en kan nie wees waar sonde is nie, en ja Hy is maar altyd daar om uit genade te vergewe as ons ons sonde belei. Ek dink ook sonde skei ons dus van God en sal geoordeel word.

  • Christine Veldsman
    11/02/2011 at 14:14 |

    Ek het ‘n groot probleem. Lyk vir my sonde skei God nie van mense nie. Inteendeel, deur Sy oordele wend Hy juis ‘n drastiese poging aan om volke tot insig en bekering te bring. Aan die kruis oordeel Hy Satan, die sonde en ons sondige natuur en maak Hy dit vir ons moontlik om,as oorwinnaars te lewe. Tog, volgens Hebr. dissiplineer Hy ons deur ons te tugtig. Ondanks sonde bly Hy met ons bemoeienis maak. Wat is die effek van sonde dan op Sy verhouding met ons? En as dit ons nie van Hom skei nie, gebruik Hy nie selfs sonde tot ons voordeel nie bv. om ‘n sondebesef by ons te bring, ons insig te gee dat ons Sy vergiffenis nodig het, berou te bewerk? Hy het tog ook beheer oor sonde?

    • Chris van Wyk
      11/02/2011 at 14:31 |

      Dit is nogal ‘n tameletjie dié! Wat weet ons van God en sonde? 1) God haat sonde. 2) God straf sonde, natuurlik ook aan die kruis. 3) God roep sondaars tot bekering. 4) God verlos sondaars van sonde. 5) God transformeer sonde – Hy bring die goeie uit die kwade na vore.
      Skei sonde ons dan van God? Ek dink ‘n mens ‘n mens moet dit op twee maniere sê:
      1) Sonde skei vir JOU wel van God – dit neem bv. by ons die bewussyn van God se guns en teenwoordigheid weg. Ons ervaar dat God sy oë vir ons toemaak (Jes 1:15). Ons word verteer deur skuld en skande.
      2) Sonde skei egter nie vir GOD van ons in hierdie lewe nie (soos jy sê) – daarom dat die Here vir sondaars kan sê: KOM laat ons die saak uitmaak (Jes 1:18).
      God steek dus die kloof van sonde oor na ons toe in sy genadeaanbod – sonde skei ons dus nie van God nie.
      Maar, dit is vir dié lewe – na die dood skei die sonde ons wel van God, want genade wat nie aanvaar is in dié lewe nie, word die finale oordeel wat ‘n ewige skeiding weg van God se aangesig insluit – ons sonde skei ons dus wel van God.
      Of hoe dink julle ander?

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed