Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ‘n oorblyfsel

Written by Chris van Wyk on 24/01/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly

Ek is baie bewus van hoe belangrik dit is om:

  1. SELF die Woord te lees en die Here stem daarin te hoor … en hoe noodsaaklik dit is om ook
  2. te GROEI in ’n mens se begrip van die Woord.

Jou inskakeling by ’n Bybelskool kan maklik die tweede aspek – die inligting wat jou kan laat groei in begrip – verhef bo die eerste – die vormende element van luister na wat God vir jou wil sê.

Ek herinner jou dus aan een van die metodieke wat ek voorstel: Stop, Kyk, Waardeer, Lees, Leer, Luister, Antwoord.  Dit integreer albei aspekte wat belangrik is.  Jy kan meer daaroor hier lees.

Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ’n oorblyfsel

Hoofstuk 3-4 vorm ’n eenheid.  Dit word saamgebind deur die klem op “daardie dag” (3:7, 18; 4:1, 2) en opgebou deur 4 perikope:

1.       Jerusalem en Juda gaan in duie stort – 3:1-12;

2.       die Here begin ’n strafregtelike saak teen die volk en sy leiers – 3:13-15;

3.       die Here oordeel ook die vrouens van die volk – 3:16-4:1;

4.       die Here sal egter ’n oorblyfsel laat bly en met hulle nuut begin – 4:2-6.

Let op hoe die Here se oordeel die leiers van die samelewing – burgers, soldate, regters, profete, raadgewers ensomeer (3:1-4) – sowel as die modewêreld veral dié van die vrouens – versierings, reukwater, handsakkies ensomeer (3:18-23) – in duie laat stort. Die mense wat standvastigheid en omvattende welvaart bring sowel as die besittings wat die lewe mooi maak word weggeneem.

Die gevolg van die gebrek aan leierskap is verwarring en anargie – ek kan my indink in die dilemma van die broer wie se enigste kwalifikasie vir leierskap die feit is dat hy darem nog behoorlike klere het (3:6-7)!  Dit is tekenend van hoe die volk in duie gestort het.

Die gevolg van die gebrek aan estetiese (luukse) voorwerpe (Jesaja noem 21!) is verwaarlosing en ’n fokus op oorlewing – sewe vroue wat ’n man beetpak ter wille van sy naam en sekuriteit, wys op desperaatheid (4:1).  En hulle bring hulle eie kos en klere … dit is wat gebeur in ’n samelewing wat nie meer reg funksioneer nie en niemand meer veilig voel nie.

John Watts het my nogal laat nadink oor aspekte van ons leefwêreld, waar hy in sy kommentaar die volgende sê:

“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates. Judgment on a people may be passive. It does not have to come by external invasion. It may, and often does, come through internal atrophy. The passage suggests that God is responsible for this deterioration. It is his judgment on those who forget that they are all ultimately dependent on him.”[1]

Wat my hoop gee, is dat Jesaja in hoofstuk 4 aandring daarop dat God se oordeel – passief of aktief – nie ‘n totale vernietiging is nie, maar ‘n suiwering.  Daar bly altyd ‘n oorblyfsel wat weer sy genade en sorg ervaar, wat deur Hom geheilig word.

En dit is ongelooflik om te hoor dat dié oorblyfsel dié mense is “wat vir die lewe opgeskryf is.” (4:3).  Daarby tref dit my dat die Here sy teenwoordigheid op dieselfde manier as eens in die woestyn nou nie net in die midde van die volk sal laat blyk deur die wolk bedags en vlammende vuur snags nie, maar oor by elke woonplek op Sionsberg.  Sy teenwoordigheid sal alles beskut.  Hy sal skuiling bied regdeur die dag en nag, selfs teen stortbuie en reën.

Dit sê vir my dat God só by my teenwoordig is, metafories natuurlik, maar ook werklik in die persoon van Sy Gees wat in my bly.  Met só ’n bewussyn kan ek dié dag pak en iets positiefs doen aan die verwarring en anargie en verwaarlosing en fokus op oorlewing in ons samelewing!


[1]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 1-33. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 24), S. 66

Tags:

Trackback from your site.

Comments (4)

  • JurieJurgens
    25/01/2011 at 10:24 |

    Terloops, ek lees nou die dag in ‘n artikel ood die Goddelike inspirasie vd Bybel “Dit is nie verbasend nie dat die profete nie die volle implikasies van hulle boodskap kon verstaan nie. Die bron van hulle woorde was buite hulself, …” Peter Cousins in die Afrikaanse vertaling van die Lion Handbook to the Bible.
    In dieselfde boek skryf Alec Motyer oor die profete : “Hulle boodskappe is meestal oorgedra in weloorwoe redevoerings wat al die kenmerke van sorgvuldige voorbereiding dra” “Die profete is baie terughoudend oor hoe hulle hierdie boodskappe ontvang het.” en “Ons kan geen logiese verklaring van hulle ondervinding gee nie. Aan die een kant het hulle aanspraak gemaak dat hulle woorde deur God aan hulle gegee is, aan die ander kant was hulle allermins bloot “bandopnemers” van ‘n boodskap van buite. Hulle was juis grootse en merkwaardige persoonlikhede.”
    Jou kommertaar?

    • Chris van Wyk
      25/01/2011 at 21:46 |

      Inspirasie is ‘n kontensieuse onderwerp. Mense verskil hewig daaroor. Sommige verdedig ‘n verbale inspirasie, asof die profete “bandopnemers” was, soos jy sê – maar dan in allerlei probleme kom wanneer daar foute in die teks uitgewys word. Ander verdedig ‘n organiese inspirasie waarin die persoon, kennis en vaardighede van die profeet of skrywer ingespan is deur God om ‘n gesagvolle geïnspireerde woord aan ons oor te dra. Ek bevind my onder dié teoloë, soos trouens die NG Kerk ook, soos in die vorige besluite van die Algemene Sinode gesien kan word. Die presiese manier waarop dit gebeur het, was egter minder belangrik vir die skrywers van die OT en NT as die inhoud daarvan. Daarom is die name van die skrywers, soos bv. in die Psalms, baie keer nie eers bygevoeg nie, omdat dit die boodskap is wat belangrik is, nie die boodskapper nie. Hier is ‘n skakel na ‘n dokument wat die amptelike verslag en besluite van die 2002 en 2004 Algemene Sinodes weergee wat breër hierop ingaan: Algemene Sinode besluite

  • JurieJurgens
    25/01/2011 at 10:05 |

    Ek het al baie gedink oor “daardie dag” in Jesaja, en uit die preke wat ek al gehoor het, boeke wat ek gelees het, en my eie denke, het ek ‘n bra vae idee dat dit kan verwys na: (1) die hier en nou (deur die eeue) wat God se kinders as ideaal moet nastreef; (2) die nabye toekoms (destyds) met die val van Jerusalem en die tempel en die wegvoereing,ens; (3) die koms van die Mesias; en (4) die wederkoms van Christus met die fale oordeel, ens. Elke verysing kan na een of meer of selfs al vier beteken. Dit kan nogal begin lyk na ‘n deurmekaar raaisel om elke verwysing so te probeer plaas – ek sien daar is 88 verwysings na “daardie (of die) dag” in Jesaja.
    My e-soek deur Jesaja lewer 88 verwysings na “daarie (of die) dag”.
    Of hoe moet ons dit sien?

    • Chris van Wyk
      25/01/2011 at 21:31 |

      Jy is reg dat die “dag van die Here” of “dié dag” of “daardie dag” verskillende betekenisse het. Die presiese betekenis kan ‘n mens net binne die konteks van ‘n spesifieke uitspraak vasstel. Bv. in Jes 2:11 lyk dit asof dié dag op die aanbreek van die ballingskap dui – omdat dit ‘n oordeel oor Juda aankondig – maar net daarna in 2:12 lyk dit asof die fokus na die eindtye verskuif – omdat ‘n oordeel oor die nasies en selfs die aarde ter sprake is. In die Nuwe Testament word “die dag” veral met Christus se koms verbind, sowel sy eerste koms as sy wederkoms, wat ‘n dag van blydskap vir die gelowiges sal wees, maar ‘n dag van ellende vir die ongelowiges.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed