Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede

Written by Chris van Wyk on 18/02/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Let op die dialoog wat onstaan tussen Hiskia, Jesaja, Sanherib en die Here in reaksie op die Assiriese aggressie en lastering.
  1. Hiskia se boodskap aan Jesaja: Hiskia stuur ‘n boodskap na Jesaja van die huis van die Here af oor die moeilikheid waarin die stad hulle bevind en brei uit oor die vernedering wat nie net vir Israel te beurt geval het nie, maar wat ook die Here self gesmaad het.  Let op hoe hy hier nog vir Jesaja vra om vir die agtergeblewenes te bid, iets wat hy binnekort op homself sal neem – 37:1-4.
  2. Jesaja se boodskap aan Hiskia: Jesaja stuur ‘n boodskap na Hiskia van die Here af dat Hy die Assiriese uitdaging sal afweer, trouens die Here sal die koning laat terugkeer na sy eie land en hom daar laat doodmaak, soos later bevestig word – 37:5-7.
  3. Hoofadjudant se berig aan Sanherib: Die hoofadjudant tref Sanherib aan waar hy besig is om Libna (stad in Juda, egter onseker waar sy ligging was) aan te val, vermoedelik om hom in te lig oor wat in Jerusalem gebeur het – 37:8.
  4. Sanherib se boodskap aan Hiskia: Sanherib kry ook berig dat koning Tirhaka van Ethiopië (eintlik op dié stadium ‘n generaal wat eers later koning word van Egipte, en nog later van Ethiopië) op pad was om hom aan te val.  Hy stuur briewe aan Hiskia moontlik met die hoop dat hy hulle bang kan praat terwyl hy die uitdaging uit die Suide kan hanteer, waarin hy  uitbrei oor al sy vorige suksesse (Gosan was in Mesopotamië; Haran was die stad in Ur waarvandaan Abraham na Kanaän getrek het; Resef is die moderne Rusafa; Eden in Telassar is onseker, moontlik ‘n gebied naby die Eufraat) – 37:9-13.
  5. Hiskia se gebed tot die Here: Uiteindelik wend Hiskia hom direk tot die Here en sprei die briewe in gebed voor Hom uit.  Let op hoe Hiskia die Here se Almag, Alleen-heerskappy en Skepper-status erken en vra dat Hy sal luister en sal oplet wat met hulle gebeur.  Hy erken wel die mag van Assirië, maar nie die mag van sy gode nie!  Die spits van sy gebed is die lastering wat Sanherib pleeg teenoor die Here, met die versoek dat die Here hulle sal red as ‘n teken aan alle nasies dat “net U, Here, God is”– 37:14-20.
  6. Die Here se antwoord aan Hiskia deur Jesaja: Let op hoe die Here vir Hiskia deur sy profeet antwoord.  Dit is in twee dele: ‘n woord aan Sanherib (37:21-29) en ‘n woord aan Hiskia (37:30-35).  Sanherib word gewys op sy flagrante oorskatting van sy mag wat hom verlei het om God te minag.  Hy is net die instrument van die Here wat nou weens sy arrogante hoogmoed verwerp sal word.  Hiskia word ‘n teken gegee, soos aan sy pa ‘n paar jaar tevore, van ‘n normalisering van die landbou wat die vryheid van die Assiriese verdrukking vir die volk simboliseer.  Let op die redes vir dié optrede van God: 1) ter wille van Homself en sy eer en 2) ter wille van God se dienaar Dawid en Sy verbintenis aan dié se nageslag – 37:21-35.
  7. Die engel van die Here se optrede teen Sanherib en die Assiriese leërmag: Die engel van die Here, wat eintlik maar net God self is, tree teen Sanherib op met ‘n groot slagting en sonder dat Hisia en sy mense ‘n vinger verroer, word die Assiriese bedreiding die hoof gebied.  Sanherib is terug na sy hoofstad Nineve waar hy deur twee van sy seuns doodgemaak is (waarskynlik 20 jaar later in 681 v C soos Assiriese inskripsies te kenne gee), en deur ‘n derde seun opgevolg is – 37:36-38.

Op ‘n baie praktiese wyse word die boodskap van Jesaja 30 hier geïllustreer: in stille vertroue en gebed kom God in beweging en red Hy sy volk van bedreiging.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed