Jesaja 40-41 – Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag

Written by Chris van Wyk on 24/02/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Let op dat die eerste perikoop van hoofstuk 40 begin (40:1-2) en eindig (40:9-11) met die boodskap dat dit God se inisiatief is wat die uitkoms bring vir Jerusalem.  In die eerste gedeelte word met Jerusalem gepraat en in die laaste gedeelte word hulle (Sion, Jerusalem) juis opgeroep om die goeie tyding vir Juda te bring.  Die prentjie van God waarmee die volk opgeroep en getroos word, is God as herder.

Tussenin is daar ’n verbeeldingsgesprek tussen moeilik identifiseerbare partye (in vers 6b is dit moontlik die profeet self) wat klem lê op die woord van God wat vir ewig bly, en gekontrasteer word met die mag van mense.  Tog moet daar voorbereidings getref word vir dié woord om gehoor te word.  Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan die bediening van Johannes die Doper wat aan dié verse gekoppel word (Joh 1:23; Luk 3:2-7 vv).

In die tweede perikoop van hoofstuk 40 word die onvergelyklike wysheid en skeppingsmag van die Here besing 40:12-26.  Let op hoe dié gedagtes oor God dan ingespan word om vir Juda te oortuig dat God hulle belange op die hart dra in 40:27-31.  Hulle hoef nie meer te kla dat God hulle nie raaksien nie, trouens mag nie meer kla nie, want dié God sien hulle nie net raak nie, maar sal nooit moeg word om vir dié wat op Hom vertrou nuwe krag te gee nie.

Die uitkoms word in hoofstuk 41 verbind aan die optrede van ’n heerser uit die ooste, na alle waarskynlikheid Kores van Persië (vgl hfst. 45), wat deur die Here ingespan word. (Terloops hy sou opgevolg word deur koning Darius wat verantwoordelik was vir die terugkeer van die Jode in die laaste helfte van die 6de eeu v C.)

Dit ontlok vrees by die nasies wat hulle dryf tot die nuttelose afgode wat met spykers ondersteun moet word sodat hulle nie omval nie (41:1-7)!  Maar Israel kan moed skep want God is met hulle, al voel hulle soos ’n wurm in hulle onbenulligheid.  God sal hulle gebede verhoor en groot veranderinge bring tot ’n getuienis vir baie nasies (41:8-20).  Let op hoe Israel as God se dienaar geteken word, die eerste betekenis van die dienaar van die Here.

Die wonder is dat die nasies niks aan God se uitkoms kan verander nie – 41:21-29.  Hulle gode is niks en kan niks doen nie.  Hulle hoef net sowel nie daar gewees het nie!

Dit is so ’n heerlike gedeelte:

  • Neem gerus vandag een van die gedagtes oor God wat jou getref het in 40:12-26 en spandeer tyd om daaroor na te dink en die Here te loof.
  • Of neem een van die gedagtes in 40:27-31 wat jou eie situasie aanspreek en bevestig jou vertroue op die Here.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed