Jesaja 42-43 – Die dienaar van die Here leer mense om God te ken
42:1-9: Hier word die dienaar van die Here as ’n individu aangekondig wat deur God se Gees bemagtig word om sy wil aan die nasies bekend te maak. Sy karakter en bediening getuig van deernis – ’n geknakte riet sal hy nie afbreek nie. Sy invloed sal strek tot aan die einde van die bekende wêreld (eilande).
Hierdie dienaar is God se verbond met sy volk. Deur sy bediening sal blindes sien en gevangenes uit die tronk bevry word. En onthou dat dit juis die praktiese genesingsbediening van Jesus in die Nuwe Testament is wat Matteus as bewys aangee dat Jesaja se voorspelling in Jesus vervul is (Matt 12:17-21).
42:10-17: Daarom kan almal ’n nuwe lied sing (Kedar is in Arabië en Sela in Edom, albei streke oos van die Dooie See). God tree op soos ’n soldaat en oorwin sy vyande. Hy bars los en verander donkerte in lig en maak die ongelyk plekke gelyk, tot teleurstelling van dié wat op afgode vertrou.
42:18-25: Die konteks maak dit duidelik dat hier oor die mislukking van Israel as die dienaar van die Here gepraat word, mense wat blind en doof is, al het die Here hemel en aarde beweeg om hulle in gehoorsaamheid te laat reageer. Ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en die gevolglike ballingskap, bly die Here getrou, want Hy vind vreugde daarin.
Hoofstuk 43
Hoofstuk 43 verseker egter die volk van God se verkiesende liefde (43:1-13) wat Hom beweeg tot ’n nuwe bedeling (43:14-21) omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).
43:1-13: Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Maar luister daarna ook uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor. God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en bymekaar te maak in ’n Tweede Eksodus waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer. En alle nasies sal getuies wees van hierdie proses. Let op hoe die roeping van die gehoorsame dienaar van die Here uitgespel word: “sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is.”(43:10). Terloops: Seba was die seun van Kus (Gen 10:7) en was dus ’n ander naam vir Ethiopië.
43:14-21: God bewerk hierdie Tweede Eksodus deur ’n nuwe ding te doen, dit is om die Galdeërs te verslaan (deur die Persiërs) en sy volk in ere weer te herstel.
43:22-28: Die redding gebeur al verdien Juda dit nie, en het hulle selfs nie daarvoor gevra nie. God vergewe hulle omdat Hy getrou bly aan Homself. In woorde wat reeds in die eerste hoofstuk gebruik is van Jesaja, nooi God hulle uit om die saak met Hom uit te maak, ’n tema wat in die volgende hoofstuk verder gevoer sal word.
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!