Jesaja 44-45:8 – God is die eerste en die laaste, die enigste God
Let op hoe Jesaja weereens die belofte van die Gees as die stimulus tot nuwe lewe beskrywe, selfs vir die nageslag (vgl Eseg 37). Dit is ook net die Gees wat mense kan beweeg om vreugde te vind in lidmaatskap van God se mense.
Jesaja beklemtoon weereens God se alleenreg tot die titel God. Hy is die eerste en die laaste – soos Jesus ook in Openbaring beskryf word (Open 22:13). Buiten Hom is daar geen God nie. Die Ek is uitsprake oor God se status en karakter gee ’n mens ook ’n ander perspektief op Jesus se Ek is uitsprake in die Johannes evangelie. Daarmee het Hy duidelik gesê dat Hy God is (vgl ook God aan Moses by die braambos – Eks 3).
Let ook op hoe goedig-neerhalend daar oor die dierbare afgode – wat nie kan help nie – gepraat word (44:9). Hulle kan nie sien of hoor nie, en dus nie help nie. Hulle moet gemaak word (44:12-17). Let op hoe skreiend ironies die dwaasheid geteken word om dieselfde hout of vir ’n braaivleisvuur of vir die maak van ’n afgod te gebruik en die afgod dan te aanbid. Sulke mense se oë is toegepleister en het geen begrip nie, sê Jesaja!
Let op hoe Israel, God se dienaar, opgeroep word om terug te keer na die Here, WANT Hy het hulle verlos (44:21-22). Dit gee ons die regte perspektief op die wyse waarop verlossing en bekering saamhang. God se werk kom altyd eerste – Hy verlos – en ons werk tweede – ons bekeer ons tot die Here se pad met en vir ons.
Jesaja sluit hierdie beskrywing van God af met ’n beklemtoning van God se onverbreekbare woord – in die Skepping en in die Geskiedenis (44:24-45:8). Wat God sê, gebeur. Sy woord is sy verbintenis en Hy laat dit gebeur. Daarop kan ’n mens reken. Dit sluit in dat sy boodskappers (profete) se woorde in vervulling gaan; dat Jerusalem weer bewoon sal word; dat Babel gestuit sal word; dat iemand soos Kores (koning van die Perse) gebruik word ter wille van sy eie volk.
Kores is in daardie sin ook God se dienaar – let op dat hy herder en gesalfde (in Hebreeus messias, in Grieks christus) genoem word, wel nie direk dienaar nie. Watts sê hieroor die volgende:
“Remarkably, this claim of divine sponsorship fits Cyrus’s career. He had profited from many circumstances other than his military strength. He had gained the following of all the Persian tribes with singular ease. He gained an ally in Babylon against Media. Two successive Median armies that were sent against him decided to join forces with him instead. His generosity toward the conquered worked in his favor. He marched without opposition into Armenia and won a surprise victory over the Lydians when their horses were frightened by the smell of Persian camels. And now Babylon, the world’s most heavily fortified city, opens its gates to him without a fight (Olmstead, History of the Persian Empire, 34–51). Truly doors and gates had been opened for Cyrus, and YHWH claims credit for it.”[1]
Daardeur bewys God dat Hy God is van die hele aarde, ’n perspektief wat ons moet aangryp en in ons eie beoordeling van wêreldsake ter harte moet neem. En let op die doel waarmee God dit doen. Dit sluit ook in dat Hy Homself aan heidene wil bewys en tot ’n bewussyn en erkenning van sy Goddelikheid wil lei (wat presies is wat Hy ook wil hê die geval moet wees met sy volk – dat hulle Hom sal ken!). Of die nasies en hulle heersers nou daaraan gehoor gee of nie, dit is wat God wil hê moet gebeur.
[1]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 34-66. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 25), S. 701
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!