Jesaja 59 – God sorg dat sy Gees en woorde nie verlore raak vir sy volk nie
Jesaja 59 sit drie goed op die tafel:
- Dit is nie God wat te stadig is om te help nie, maar sondes wat Hom traag maak om te luister – 59:1-8.
- Geweld en duisternis is sondige mense se voorland – 59:9-15.
- Tog tree God steeds as Verlosser op en sorg dat sy Gees en woorde nie totaal verlore raak vir sy kinders nie – 59:16-21.
59:1-8: Hoe ontbloot vers 1 nie ons wanpersepsie van God nie! Dit is nie God wat te stadig is om te help nie. Dit is nie sy krag wat te kort skiet om te help nie. Dit is ons sonde wat ‘n skeiding bring tussen ons en God en wat maak dat Hy nie na ons wil luister nie. Chaos kom nie van God se onvermoë af nie, maar van ons gebrek aan verantwoordelikheid.
Ons verteer sulke uitsprake vandag maar moeilik. Dit val vreemd en swaar op die oor. Maar dit is ‘n beklemtoning wat regdeur die OT voorkom (Deut 31:17; Miga 3:4; – let op Ps 27:9 waar die Psalmis juis vra dat God Hom nie sal verberg weens oortredinge nie!). In die NT praat ook Jakobus daaroor – “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (4:2c-3).
Maar as ‘n mens regtig nougeset na God se motivering van sy afsydigheid luister, dan kan Hy dit nie waag om maar net te gee wat ons vra nie, omdat dit ons sal laat dink dat dit maar reg is om onreg te pleeg, en leuens te vertel. God soek egter eerlikheid en betroubaarheid by dié wat Hom aanroep en van Hom om uitkoms vra.
Hy wil ook hê dat ons eie woorde lewe moet bring vir ander, soos Hy dit doen, en nie die lewe uit ander wurg met ons woorde nie. Dán sal Hy luister en gou wees om aan ons goeie goed te gee. Let op die grillerige beelde van slangeiers en spinnerakke wat as metafore vir sulke betekenislose leë woorde gebruik word.
59:9-15: Vir mense wat in rebellie teen God lewe, is geweld egter die enigste opsie om hulle behoeftes te bevredig en duik die reg in die hek; struikel mense helder oordag soos in die skemer, omdat hulle pad pikdonker bly en God se lig afwesig is.
59:16-21: Interessant hoe Jesaja vir God teken in vers 16, dat Hy verbaas is dat niemand tussenbeide tree nie; daarom tree Hyself op en laat Hy geregtigheid geld. Hy vergeld volgens verdienste en laat sy Naam en mag geëer word. Hy tree op as Verlosser met sy Gees wat teëstanders op loop jaag.
Watter wonderlike, hoewel ook ontnugterende, belofte in vers 21. God sorg dat sy Gees en woorde (vgl Jer 31:33; Rom 10:8) nie verlore raak vir die volk en hulle nageslag nie – ten spyte van hulle ongehoorsaamheid. “Nie nou nie en nooit nie”! Watter genade!
Tags: Heilige Gees, Jesaja
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!