Jesaja 61 – ‘n Blye boodskap vir mense in nood
Die hoofstuk beslaan 3 perikope:
- Verse 1-7 beskryf die bediening van die dienaar van die Here en die gevolge daarvan.
- Verse 8-9 beskryf die verbintenis van die Here aan sy volk.
- Verse 10-11 beskryf die vreugde van die dienaar van die Here oor sy oorwinning.
61:1-7: Let op dat die dienaar van die Here se bediening beskryf word as:
- ‘n Blye boodskap aan mense in nood wat moedeloses opbeur en vrylating gee vir gevangenes – vers 1;
- ‘n Tyd van genade vir almal wat treur waarin hulle die Redding van die Here sal ervaar – vers 2-3;
Dit sal tot gevolg hê dat die volk ‘n tyd van transformasie sal beleef. Dit word beskryf as:
- ‘n Tyd van heropbou – vers 4;
- ‘n Tyd van herstel deurdat vreemdelinge vir hulle sal werk – vers 5;
- ‘n Tyd van egte godsdiens as priesters van die Here – vers 6a;
- ‘n Tyd van voorspoed waarin hulle die geskenke van die nasies sal geniet – vers 6b-7.
61:8-9: Die Here begrond die verandering in sy getrouheid aan sy belofte aan die volk, en in die wyse waarop Hy onder die nasies bekend wil staan. Iets om in gedagte te hou in ons gebede. Ons kan God herinner aan sy beloftes. En ons kan God herinner aan die impak van gebedsverhoring op die nasies.
61:10-11: Die laaste perikoop beeld die blydskap van die dienaar van die Here uit, waar Hy God loof oor sy oorwinning. Let op dat Hy dit beide met die beeld van ‘n bruidegom EN die beeld van ‘n bruid weergee. Weereens is dit nie net vir die volk van belang nie, maar ook vir die nasies.
Nuwe Testament: Jesus het waarskynlik dié hoofstuk as sy roepingsteks geneem, soos ‘n mens uit Lukas 4 aflei. Na die versoeking in die woestyn kom Jesus in Nasaret, lees hierdie gedeelte uit die boek Jesaja vir die gemeente en verklaar: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:21). Hoewel Jesaja nie dié vervulling kon voorsien het nie, is dit duidelik dat hierdie Jesaja teks vir ons ‘n kernagtige sleutel gee om Jesus se bediening te verstaan.
En ons kan die manier waarop Jesus oor sy bediening gedink het, gerus ter harte vir ons eie bediening neem, want dit is uiteindelik waartoe ons ook geroep word – na mense wat nood ervaar en treur oor hulle lot in die lewe. Niks anders is regtig hiermee te vergelyk nie.
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!