Jesaja 64 – Bid dat God nou ‘n verskil maak
64:1-5a – Jesaja bid namens die volk dat God weer groot wonders sal doen soos vroeër, berge wat skud, vuur wat brand, dat veral die nasies kan weet, God kom dié te hulp wat onthou hoe Hy wil hê hulle moet lewe. Jesaja maak dus staat daarop dat God nie net transendent is en afsydig sal bly nie, maar immanent sal word – “die hemel oopskeur” – en ‘n verskil in hulle tyd sal maak.
64:5b-7 – Maar, die probleem, erken Jesaja, is dat die volk juis dit nie gedoen het nie – om God te vertrou en te doen wat Hy wil nie. Daarmee bely hy uiteindelik namens die volk hulle skuld en erken hy dat hulle regverdiglik deur God gestraf is. En gee Jesaja vir ons insig waarom gebede soms nie beantwoord word nie, al het ‘n mens beloftes waarop jy kan staatmaak. Sonde en ongeloof dwarsboom meesal God se ingrype, hoewel Hy nooit aan bande gelê kan word om nie soms in elk geval in te gryp en verandering te bring, as dit in Sy plan pas nie.
64:8-12 – Saam met dié erkenning van God se “onskuld”, herinner Jesaja vir God, dat Hy hulle Vader is (histories gesproke), en hulle Skepper (algemeen gesproke), en bid Hy ernstig dat God nie sal aanhou om kwaad te wees vir hulle nie en hulle sondes teen hulle sal hou nie. Hy vra dat God tog sal ingryp en die stad en tempel weer herstel. Hy beroep hom dus op God se genade. Terloops: dit is duidelik dat die gebed die tyd van die ballingskap veronderstel.
Die idee van God as Vader is iets wat nie baie in die Ou Testament voorkom nie, moontlik omdat sommige godsdienste ‘n verwantskap tussen gode en mense getrek het, wat juis anders was in die OT visie op God. God is Skepper, die Gans Andere, en ons skepsels, die maaksels van Sy hande. In die NT het die konsep van God as Vader veral in Jesus se verhouding met die Vader na vore gekom as beskrywing van die intimiteit van dié verhouding. En so, veral met die gebed wat Jesus ons geleer het – die Ons Vader – het die benaming van God (Vader) gemeengoed in die Christelike gemeenskap geword (vgl Rom 8:15). Onthou net dat dit steeds metafore vir God is, en nie werklike beskrywings nie – en dat Hy in Jesaja ook as moeder (Jes 66:13 – vgl ook Ps 131) en as kind (Jes 9:5) geteken word, afhangende van die konteks en die punt wat die Bybelskrywers probeer oordra.
Die volgende twee hoofstukke, hoofstuk 65-66, gee ‘n antwoord op dié gebed van Jesaja, en gee vir ons ook ‘n kykie in hoe gebedsverhoring werk. Jy is welkom om solank die artikel van Neels Jackson op Facebook oor die onderwerp te lees.
Tags: dienaar van die Here, gebed, Jesaja, Jesus
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!