Jesaja 66 – Die groot God is ook die naby God

Written by Chris van Wyk on 23/03/2011. Posted in Jesaja

Print Friendly
Ons nader die einde van hierdie merkwaardige boek.  Ek hoop dit was vir jou net so ‘n verkwikkende ervaring om hier deur te lees as wat dit vir my was.

Jesaja 66 span die kroon op ‘n reis met God en sy volk deur die loop van meer as 2 eeue, alles gesien deur die bril van die profeet Jesaja en dié wat uit sy skool bygedra het tot die boek.  Op ‘n verruklike manier gee die boek ‘n mens insig in God se wese en werk, sowel as op wat Hy eintlik van mense verwag en waarheen Hy op pad is met sy volk en die wêreld.

Jesaja 66 is opgedeel in twee dele, waarvan die eerste ‘n kort beskrywing van God se grootheid en nabyheid gee, en die tweede ‘n lang beskrywing van die geboorte van die nuwe bedeling gee, wat die impak wat dit op beide die volk (ongelowiges en gelowiges) en die nasies sal hê, uitspel.  Die vraag na die bou van die tempel aan die begin dui waarskynlik op die tyd net voor die tempel in Jerusalem weer herbou is.

66:1-4: God se grootheid in terme van die skepping word in die eerste verse gekoppel aan sy nabyheid in nood aan dié wat berou het oor hul sonde en ontsag het vir God se woord.  Hierdie eienskappe van God beteken egter straf en verskrikking vir dié wat nie na Hom wil luister nie, en hulle eie kop wil volg.

66:5-24: Let op hoe hierdie ongehoorsame en ongelowige mense die spot dryf met dié wat God vertrou en na Hom luister.  Dit is ongelukkig altyd deel van die gesprek in die midde van God se gemeenskap van gelowiges – toe en nou.

God se belofte is egter dat die ongelowiges ontnugter sal word, en dat die nuwe bedeling vir Sion/Jerusalem – as metafoor vir die gelowige deel van die volk – skielik sal aanbreek, soos geboortepyne wat ‘n vrou oorval.

Die keuse van hierdie metafoor skets natuurlik ook die wyse waarop die nuwe in aanskyn kom – dit gaan gepaard met geboortepyne; alles is nie eensklaps volmaak nie, en dit gebeur nie sonder pyn nie.  Maar, belowe die Here, die geboorte sal verseker plaasvind.

Daarom roep Hy almal op om saam met die volk bly te wees, en die vrede te geniet wat God deur en vir die gelowiges verskaf, trouens deur sy eie persoon – God geskets as ‘n moeder – vir hulle sal gee.  Let weereens op hoe belangrik vrede en veiligheid in die nuwe bedeling sal wees.

Soos nou al die patroon in Jesaja geword het, word die impak hiervan op die nasies uitgespel – die nasies sien God se mag in sy hantering van beide die ongelowige (straf) as die gelowige deel (sorg) van sy volk, en stroom na God in Jerusalem toe.  Vir die eerste keer word selfs voorspel dat hulle deel van die uitstuur aksie van die volk sal wees, om ander in te nooi, om dan deel van die hart van die volk van God te raak.  Vreemdes raak selfs priesters en Leviete – iets waarvan Paulus in Efesiërs 2 later sou skryf.  Terloops: Tarsis is waarskynlik in Spanje, Pul (of Put soos die LXX dit het) is in Afrika (Gen 10:6, 13), Lud en Tubal moontlik in Klein-Asië.

En daarmee word die visie van Jesaja 2 gerealiseer, dat Israel ‘n huis van gebed sal wees vir die nasies.  En die nasies word ingespan om die droom waar te maak – soos ons inderdaad deur die afgelope 20 eeue belewe het!

Nuwe Testament

Van die beskrywings van God sowel as van die beelde wat Jesaja hier gebruik word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik:

  • Stefanus gebruik Jes 66:1-2 oor die grootsheid van God in sy toespraak voor die Joodse Raad, wat gelei het tot sy marteldood, waar hulle, soos die ongelowiges in die Jesaja teks, nie sy getuienis oor God wou aanvaar nie – Hand 7:49-50.
  • Johannes gebruik Jes 66:7-14 se beeld van die vrou wat geboorte gee om op soortgelyke wyse oor die geboorte van die Messias te praat – Open 12:5.
  • Paulus gebruik ook Jes 66:15 se beeld van God wat in vuur verskyn in sy oordeel en maak dit op die einde van die tye van toepassing – 2 Tes 1:8.
  • Petrus en Johannes sluit weereens onderskeidelik in 2 Pet 3:13 en Open 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jes 66:22 (vgl 65:17) vertel.
  • Markus gebruik Jes 66:24 se beeld van die wurm wat nie vrek en die vuur wat nie geblus word nie en maak dit van toepassing op die hel – Mark 9:48.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed