Jesaja 9 – Lig aan die einde van die tonnel?
Ons lees vanaf 8:23 omdat dit ‘n eenheid met die eerste deel van hoofstuk 9 vorm.
8:23-9:6: Jesaja gee hier ‘n prentjie van uitkoms in die toekoms. Dit sal groot verligting bring vir die duisternis waarin gebiede van Sebulon en Naftali, die pad na die see van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene net te vore gedompel is (lees hier meer van Jesus se bediening aan die Grieke van Dekapolis wat heel moontlik die gebied van die heidene is wat hier bedoel word). Hierdie noordelike gebied van Israel het meesal eerste die aanslag – donkerte – van vreemde leërs moes trotseer. Onder andere is ‘n deel van hul bevolking deur Tiglat-Pileser III weggevoer in 732 v C (2 Kon. 15:29). Lees meer daaroor in my bydraes oor 2 Konings 15, en 2 Konings 16-17.
Met verwysing na die verlossing wat God deur Gideon vir die volk gegee het in sy oorlog teen Midian (Rigt 6), word voorspel dat die volk weer versamel sal word en hulle in God se teenwoordigheid sal verbly.
Dié uitkoms word dan spesifiek verbind aan ‘n Seun wat vir hulle gebore sal word, waarvan die titels sy uitstaande kenmerke uitspel wat Goddelik van aard sal wees: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, en Vredevors. Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.
Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Mat 4:12–17. Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het. En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.
9:7-10:4: In skerp kontras met die vorige hoopvolle gedeelte, word die oordeelsboodskap oor die Noordryk – Jakob, Israel genoem – egter onomwonde beklemtoon. Die hoop op uitkoms sal eers in vervulling gaan ná die voltrekking van die oordeel.
Let op hoe die hele volk aangespreek word oor hulle selfversekerdheid. Hulle wys die hand van God weg wat hulle kan red en vra nie na sy wil nie, wat sy straf op totale vernietiging laat uitloop: Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny (9:13).
‘n Donker prentjie word van van die politieke leiers (9:14), die geestelike leiers (9:15) sowel as die korrupte leierskap in die regstelsel (10:1-4) geteken. En die bevolking se omgee-loosheid maak dat hulle letterlik hulle eie krag verteer (9:19) – mensig! Dit is wat gebeur as die bron van lewe verlaat word en jy net sit met die donkerte van jou eie goddeloosheid. Dit brand soos ‘n vuur wat alles in ‘n rookwolk laat verdwyn.
Nog donkerder is egter die reaksie van die Here wat sulke dinge nie ongestraf laat bly nie. Hoe afgryslik om te moet leef met die uitgestrekte hand van die Here teen jou … ‘n God wat nie meer vreugde vind in ‘n volk se jongmense nie (9:16).
Welkom MH vd Mescht! Jy is die 200ste persoon wat by die Bybelskool registreer. Lekker lees saam met ons ander!
Tags: Jesaja
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!