TENNIS EN DIE BYBELSKOOL

Written by Chris van Wyk on 10/02/2011. Posted in Bybelskool, Jesaja

Print Friendly
Het jy iets wat jy as so half “heilig” beskou? Iets waarmee niemand eintlik moet intervere nie? Ek het so iets. Dis ‘n Woensdagmiddag, want dan  speel  ek tennis. Sonder om te vêr in die verlede in terug te gaan,  so iets oor die manne wat saam speel. Tussen vyf van ons kom ons die laaste vyftien jaar elke Woensdag op die baan bymekaar. Ons gemiddelde ouderdom het nou sewentig geslaan. Desnieteenstaande  suiker, kanker, hoë bloeddruk, heup- en knie-vervangings, swak sig en hardhorendheid foeter ons mekaar weekliks met ‘n toegewyde passie op,  net om na die tyd ons vergeselde lywe met ‘n biertjie of drie te versterk en alle kwade gevoelens wat daar mag ontstaan het weens swak roepe en verkeerde tellings uit die gestelle  uit te spoel.

Hoekom vertel ek dit vir jou ? Op ‘n Woensdagmiddag volg ‘n Woensdagaand en Woensdagaand is Bybelskool.  In my toestand nie die beste plek om heen te gaan nie. Om vir ‘n uur te gaan konsentreer en intelligent te probeer lyk met ‘n gebroke vlees en ‘n amper onwillige gees is ‘n tall order.

Met n stomende lyf, stort ten spyt, maak ons dit net om teen halfsewe die konsistorie binne te storm. Chris, ons predikant wat die gesprek lei, staan reeds voor en begin stiptelik.  Met ‘n entoesiasme wat nie anders kan as om jou mee  te voer nie,  begelei hy ons in die lewe en werk van Jesaja en God se betrokkenheid in die wel en wee van Sy volk.  Die gees is gewillig, maar die vlees swig en ek trek so af en toe ‘n groot vis uit. My wederhelf elmboog my met liefde om my daaraan te herinner dat die nie slaaptyd is nie. Uiteindelik oorwin die gees en ek begin intens luister na die gesprek.

Ek praat spesifiek van “die gesprek”, omdat dit presies is wat gebeur. Die Bybelskool  is nie ‘n lesing nie, maar ‘n diepgaande en oop  gesprek tussen voorganger en deelnemers en deelnemers en deelnemers .  Ja daar word intensief voorberei vir hierdie gesprek.

Vinnie het êrens in haar navorsing ‘n bron raak geloop wat ‘n bepaalde perspektief gee; Christine beklemtoon die onrus by die volk en tussen al Willem se notas kom God se deurgaanse betrokkenheid na vore.  Serfies, dis nou Johan Serfontein, maak keel skoon en skiet van die heup. Slegs geloof kan jou red en van die anderkant van die vertrek word hy aangevul deur Jurie wat Christus se woorde aanhaal aan die bloedvloeiende vrou wat sy kleed aangeraak het: “Jou geloof het jou gered.”

Ek luister met verwondering hoedat gelowiges mekaar aanvul, ondersteun en onderrig om beter te kan verstaan wie die God is wat ons onvoorwaardelik aanbid. Die God wat ‘n verwarde Israel deur’ n profeet aanspreek met  geregtigheid en oordeel, maar altyd getemper deur sy alles omvattende liefde van hoop, indien jy in Hom glo.

Sonder dat ek ‘n woord gesê het – want jy hoef nie iets te sê om Bybelskool toe te kom nie; jy hoef net te luister en die voorreg met dankbaarheid te geniet – besef dat uit verwarring twee goed na vore kan kom: ‘n ontsag vir die Here se hantering van enige situasie en ‘n geloof in Hom wat ek in my lewe moet demonstreer, soms met ‘n oortuiging wat stil geleef word, en soms met dieselfde oortuiging wat duidelik uitgespel word, selfs vir my teenstanders.

Dankie dat  ek dit met jou kon deel en ek nooi jou om saam met my te kom luister in die Bybelskool. Jy hoef nie te praat nie net luister.

Vrede en vreugde

Frik Buys

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed