Johannes 1:1–18 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

Written by Chris van Wyk on 21/04/2011. Posted in Johannes

Print Friendly

RUS

  • My diepste behoefte is aan God se teenwoordigheid.
  • My gebed is dat die lees van Johannes my in God se teenwoordigheid sal bring.  Ek wil daarin leef.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte stil, want alles is stil rondom my – huismense slaap rustig.
  • My nadenke:
Johannes begin nie by Jesus se geboorte nie.  Hy begin ook nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mens en Israel sou plaas nie (anders as Matteus).  Hy begin selfs nie by Jesus se betrokkenheid by die skepping waarvan die Psalms (33:6) en die Pentateug (Gen 1:3) vertel nie (anders as Lukas).  Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was.

Jesus is die Woord (logos[1]) van God, nie net goddelik nie, maar Godself (ook 1 Joh 1:1; Open 19:13)!  Uit Hom is alles gemaak, want Hy was die lewe van alles (Kol 1:16).  En dit skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig (Joh 5:26 – vgl Spr 6:23 – “die tôrâ is ’n lig”).

Hierdie lewenslig is die kern van God se manier van kontak maak met ons (Ps 36:10).  Dit is van hierdie lig wat ons getuig, soos ’n Johannes die Doper, sodat mense in God kan glo (vgl ook Joh 20:31, waar Johannes dit as die doel van sy evangelie uitspel).  Hierdie lig is Jesus, die mensgeworde Woord van God.

Let egter op hoe Johannes onmiddellik die realiteit skets van die reaksie van die duisternis op die lig.  Dié mense wat deur Hom tot stand gekom het, het Hom nie erken nie.  Selfs sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.

Dié wat Hom dus aanneem, is van meet af aan in stryd met dié wat Hom nie aanneem nie, al het hulle die voorreg van familie-van-God te wees (Joh 3:3) en die ewige lewe (Joh 5:24).  Die vreugde van kindskap word getemper met die wete dat die duisternis die lig verwerp en wil uitdoof, al kry die duisternis dit nie reg nie.

Jesus se menswording word met twee woorde beskrywe wat baie betekenisvol is, Hy het sarks (vlees) geword en eskênôsen (tent opgeslaan – die woord roep ook die tabernakel in die woestyn in herinnering) onder ons.  Dit beteken dat Hy volledig mens geword het, ons sondige vlees aangetrek het, en ’n menslike bestaan aanvaar het.  En let op dat dit iets is wat van hierdie punt af deel van Sy goddelike bestaan geword het.  Dit is nie iets wat Hy ooit weer gaan uittrek nie.  Hy IS nou ook mens.

Die wonder is dat ons nou die heerlikheid van God kan sien in ’n gewone mens.  En ons sien spesifiek sy genade en sy waarheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het.  Sy genade loop oor in die tekens van voorsiening (water in wyn, vermeerdering van brood) en verwondering (loop op water); genesing (siek seun, siek man, en blinde man) en oorwinning (opwekking uit die dood).  Dit nooi ons uit om Hom te vertrou vir ons lewe.  Sy waarheid word ervaar in ’n verhouding met God, iets wat die wet van Moses nooit kon gee nie. Ons kan God in Hom raaksien – iets wat Moses begeer het, maar nooit voluit kon beleef nie (vgl 1 Kor 3).

LEEF

  • Die beskrywing van Jesus se genade en waarheid sluit vir my evangelie van Johannes oop.  Elkeen van die tekens wat Jesus doen, wil my oortuig dat sy genade vir my ook genoeg is; dat ek Hom kan vertrou – dat Hy ook vir my in terme van my behoeftes (letterlik van partytjies – klein en groot – tot genesing op allerlei terreine) kan voorsien.  Maar die toppunt vir my is dat ek deur hierdie evangelie insig kry in die waarheid, die kern van die lewe.  In Jesus is daar lig en lewe, in Jesus is daar ’n verhouding met God te vinde – nêrens anders nie.
  • Daarvoor dank ek God en verbind ek my met my hart en lewe.

[1] Die Griekse woord logos word gebruik vir woorde en gedagtes.  Wanneer dit aan God gekoppel word, dui dit meesal die Woord van God in die prediking (Luk 5:1) of die inhoud van die evangelie, Christus (Hand 8:25), aan. Hier gebruik Johannes logos egter as eienaam vir Christus. Die Grieke sou in hierdie gebruik van die woord iets gehoor het van wat die filosoof Heraklitus van Efese reeds in die 6de eeu vC geskryf het, dat die logos die beginsel is waardeur orde uit chaos geskep word.  Die Jode wat met die Ou Testament bekend was, sou egter onmiddellik aan Genesis 1 gedink het (“laat daar lig wees”), die verwoording van die skepping deur die Psalmdigters (“deur die woord [dabar] van die Here is die hemele gemaak” – Ps 33:6) en die vele kere wat gepraat is van die woord [dabar] van die Here wat tot ‘n profeet gekom het (Jer 1:2).  In die Griekse vertaling van die Ou Testament is die vertaling logos dan ook vir die Hebreeuse woord dabar gebruik.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed