Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels
RUS
- Ek sit by die venster en uitkyk na ’n grou bewolkte hemel. Raak bewus van hoe afhanklik ons van God is vir alles wat belangrik is.
- Bely my afhanklikheid van Hom.
HOOR
- Ek lees Johannes 13 en die volgende val my op:
Die gedeelte beslaan twee hoofdele:
- Jesus wat die Paasfees met sy dissipels vier en hulle wys hoe gemeenskap werk deur die voetewas simboliek – 13:1-17, en
- Judas wat as Jesus se verraaier aangewys word – 13:18-30.
Dit is waarom Johannes ook klem lê op die uiterste liefde wat Jesus vir sy mense gehad het. Dit is waarom Hy bereid is om die lydenspad te kies en te loop. Maar, hy herinner ons ook daaraan dat Jesus dit kon doen, omdat Hy vas oortuig was dat God in beheer was van alles, en dat Hy die belofte gehad het dat Hy weer sal opstaan en na God toe sal teruggaan. Dit is ook die kern van ons hoop – dat hierdie Jesus met dié belofte geleef het, die belofte as waar bewys het met sy eie opstanding, en daarom vir ons belofte van die opstandig en die lewe word.
Dit tref my dat Jesus – ten spyte van die feit dat Judas al klaar reëlings vir Jesus se gevangenisneming getref het – steeds vir Judas insluit in die voetewas simboliek. Petrus maak eers beswaar (in alle ewigheid!) … en as hy begryp waaroor dit gaan, gaan oorboord en wil sommer heeltemal gewas word!
Dan spel Jesus die betekenis van die voetewas uit, iets wat vir alle tye geld. As Hy ons voete gewas het – bereid was om te dien – dan moet ons dit ook vir mekaar doen – mekaar dien. Dit is die weg tot ’n gelukkige lewe.
13:18-30: Jesus gebruik dan Ps 41:10 waar van Agitofel se verraad teen Dawid gepraat word (2 Sam 15:12) en maak dit van toepassing op Judas – dat Judas vir Jesus in die rug steek. Sy dissipels is verward hieroor, waarop Jesus Judas met ’n stukkie brood aanwys as die een waarvan Hy praat.
Die stukkie brood is eintlik ryk aan betekenis, want ’n mens onthou die brood wat vermeerder is om ’n skare kos te gee. Jy onthou ook die Nagmaalsbrood wat Jesus aan sy dissipels uitgedeel het om deel te hê aan sy liggaam en die verlossing waarvan dit praat. Daardie tekens van brood was tekens van seën en gemeenskap met Christus.
En die gasheer by sulke etes het baie keer – so vertel die historici ons – ’n stukkie brood gegee aan iemand aan die tafel, waarmee hy sy aanvaarding en sy guns betuig het met die persoon. Hierdie stukkie brood word egter die middel waardeur die verraaier aangewys word, weens die agter-die-skerms gekonkelry van Judas.
Maar let op: dit is wanneer Judas die brood aanvaar – en baie bewus is dat Jesus weet wat hy beplan – dat daar eintlik vir hom geen omdraai meer moontlik is nie. Hy aanvaar eintlik doelbewus die oordeel oor homself, en soos Johannes dit stel, die duiwel vaar in hom in en hy staan op om sy onheilsdaad te gaan voltrek. Hy kon op hierdie punt nog tot bekering kom, maar hy weier.
En daarmee wys Jesus dat Hy tot op die einde toe nog vir hom ’n kans gee, wat Judas eintlik weier. En dit wys ook dat Jesus in beheer is van die bose planne wat Judas hierna sou uitvoer – nie die beheer van die planne te wil fnuik nie, maar die beheer van Homself te onderwerp daaraan. Die kruisdood is dus ’n doelbewuste vernedering, soos Paulus veel later aan die Filippense sou skryf (Fil 2:5-11).
Dit was nag … soos Johannes dié perikoop betekenisvol afsluit … vir Jesus, en ook vir Judas.
LEEF
- Dit tref my dat Judas tot op die einde nog kans gehad het om tot inkeer te kom. Dit tref my ook dat Jesus se beheer nie die een van magsvertoon is nie, maar van doelbewuste onderwerping aan vernedering.
- Ek eer die Here in gebed – Sy pad bly die inspirasie vir my deur die dik en dun van die lewe.
Tags: Johannes
Trackback from your site.


April 30, 2012 (10:15) Prediker 11:7-12:8 – Leer met God leef in jou jong dae Pragtige boodskap vir oud en jonk! Leef!! ...Het God lief en doen wat jy wil (Augustinus)
April 26, 2012 (12:50) Prediker 9:13-10:15 – Wysheid is broos en breekbaar Gesels gisteraand met die groep in Somerstrand oor Jakobus 3 se visie oor wysheid: "13 Is daar...
April 24, 2012 (5:25) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Hi Chris, Dis vir my so wonderlik dat God ons soekend geskep het, na `n godheid, Homself. As on...
April 24, 2012 (9:30) Prediker 8:1-17 – Die voordeel en frustrasie van wysheid Chris, gedurende die nag van pyn dwaal my gees in tussen slaap+ beswyming dan verskyn jou naam ...
April 23, 2012 (12:59) Prediker 6:10-7:29 – Die soeke na selfverwesentliking Ek is bly! Rethie en die span van Klema en Somerstrand mag maar, nê!