Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my

Written by Chris van Wyk on 19/05/2011. Posted in Johannes

Print Friendly

RUS

  • Die is ’n mooi oggend met so ’n ligte briesie wat stoot.
  • Ek loof die Here dat Hy alles onderhou.

HOOR

  • Ek lees die verhaal van Jesus se inhegtenisname en verhoor.
  • Die volgende aspekte tref my daarin:

Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

18:1-11: Let op dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en Homself identifiseer aan die soldate en wagte.  Sy beheer van die situasie blyk ook uit die toegestane versoek dat die dissipels nie ook gevange geneem sal word nie.

Hy kies dus om dié roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te  vestig nie.  Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig.  Hy moet die lydensbeker drink – dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees.

Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ’n prominente rol speel soos in hoofstuk 13.  Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier.

18:12-14: Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester en skoonpa van die huidige hoëpriester Kajafas.  Hy was ’n besondere invloedryke man wat ook 5 seuns gehad het wat almal op ’n stadium hoëpriester was.

18:15-18: Petrus en Johannes (die “ander dissipel”) gaan agter Jesus aan, maar Petrus verloën Jesus dan wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.

18:19-24: Dit is waarskynlik steeds Annas wat Jesus ondervra oor sy leer (vgl vers 24).  Jesus verwys hom egter net na dié wat sy lering al tevore gehoor het, onder ander natuurlik Nikodemus, en wil niks meer daarby voeg nie.  Let op hoe Jesus die onregverdige hou van die wag hanteer – hy slaan nie terug nie, maar vra na die logika daaragter en stel so die onreg daarvan bloot.

18:25-27: Petrus verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warmmaak by die vuurtjie, waarvan die laaste een familie was van Malgus, en in die tuin teenwoordig was met Jesus se inhegtenisneming.

18:28-40: Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC.  Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ’n verdediging van hulle optrede.  Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ’n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het.  Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie.  Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek.  Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ’n keuse tussen Barabbas, ’n bewese misdadiger, en Jesus te gee.  Hy meen dat hy ’n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart.  Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie.   Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging.  Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

LEEF

  • Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.
  • Dankie, Here Jesus, vir hierdie keuse, wat ook ’n keuse vir my was.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed