Johannes 2:13–22 – Die liefde vir U huis verteer my

Written by Chris van Wyk on 26/04/2011. Posted in Johannes

Print Friendly

RUS

  • My diepste behoefte vanoggend is vrede.
  • Ek bid daarvoor en bring my behoeftes voor God met danksegging en smeking, soos Filippense 4 my leer.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte hardop in my kantoor.
  • Die volgende aspekte tref my:
Hierdie gedeelte kom ook in die ander evangelies voor (Mark 11:15–19; Matt 21:12–17; Luk 19:45–48).  Johannes plaas sy verhaal egter aan die begin van Jesus se bediening, terwyl die ander dit in die laaste week van Jesus se bediening, interessant genoeg ook reg voor ‘n Paasfees, plaas.

Baie is al geskryf om hierdie verskil te verklaar.  Daar is redelike konsensus dat daar net een só ‘n gebeurtenis was, dat dit wel in die laaste week van Jesus se bediening was, en dat Johannes ‘n teologiese punt probeer maak deur die verhaal hier te plaas – Jesus wil die ware aanbidding van God herstel, soos ‘n mens ook in die gesprek met Nikodemus en die Samaritaanse vrou hierna agterkom. Die reiniging van die tempel is dus in daardie konteks vir hom belangrik.

Let op dat Johannes van die Paasfees “van die Jode” praat, wat aandui dat hy as Christen skryf, dws na die dood en opstanding van Christus.  Die Christene het na die opstanding ‘n ander inhoud aan die hele Paasgebeure gegee.

Johannes noem ten minste 3 verskillende Paasfeeste waarvoor Jesus na Jerusalem toe is (2:13; 6:4, 11:55 [13:1] en moontlik selfs 5:1).  Daaruit kan ‘n mens aflei dat Jesus se bediening waarskynlik tussen 2 en 4 jaar duur, terwyl die ander evangelies net van een reis na Jerusalem vertel, waaruit ’n mens kan aflei dat sy bediening nie veel langer as 1 jaar geduur het nie (Mark 10:32; Matt 16:21; Luk 9:51).

Geldwisselaars was nodig omdat die Jode nie hulle eie geldeenheid kon gebruik nie, en die Romeinse geldeenheid vir die Jode se gevoel lasterlik was deur die kop van die keiser te vertoon wat vir die Romeine goddelike eienskappe gehad het.  Die geldeenheid van Tirus kon egter gebruik word, waarvoor jy dan Romeinse geldstukke kon ruil (Beasley-Murray).

Jesus se aksie is duidelik nie gemik teen die aanbidders self nie, maar net teen die verkopers en geldwisselaars wat van God se huis ‘n handelsplek maak.

Die vraag na ‘n teken deur die Jode was waarskynlik as ‘n toets bedoel, om agter te kom of Jesus die gesag het om te doen wat Hy doen.  Jesus antwoord met ‘n raaisel wat eers na sy opstanding reg verstaan sou kon word, soos Johannes dit tereg verwoord.

Johannes verwys waarskynlik in vers 17 na Psalm 69:10.  Dit is interessant dat die Psalm juis ook daar oor die lyding praat van dié een wat lief is vir God se huis – ‘n heel gepaste aanhaling in die lig van Jesus se raaisel-teken wat op sy eie lyding dui.

LEEF

  • Dit is vir my roerend om dié gedeelte te lees terwyl ons in die Paasfeestyd is (die fees het 7 dae geduur).  Dat Jesus met die water-in-wyn van gister die oorvloed wat Hy bring demonstreer, word deur hierdie gedeelte onmiddellik ook aan sy lyding en opstanding gekoppel.  Hy, die Lam van God, bring oorvloed deur sy lyding heen.
  • Dit tref my en bring rus in my gemoed – as Hy soveel vir my gedoen het, kan ek vasstaan en Hom vertrou vir my lewe.

 

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

NG Kerk Somerstrand

  • Psalm 93 - Hemelvaart
    Inleiding Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Ons bely vandag dat dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf en op die derde dag uit die dood opgestaan het, nou “aan die regterhand van God die Vader” is en dus saam met die Vader regeer oor die ganse skepping. Ek wil vandag dus iets sê oor God se koninkryk, oor die feit d […]
  • Berei jou kind voor vir Nagmaal
    Laat die dokument (2.3MB) met riglyne om jou kind voor te berei vir Nagmaal, hier af.  […]

Read feed

Communitas

  • Verder geluister: 1 Johannes 5:9-13
    Sewende Sondag na PaseDie fokus op die ewige lewe en spesifiek v12 se aanname naamlik wie die Seun het, het die ewige lewe en wie die Seun nie het nie, het nie die ewige lewe nie, sal nie na almal wat na ons preke luister ewe maklik kom nie.Daar is elke Saterdag in Die By ‘n onderhoud met ‘n bekende persoon. Dieselfde reeks vrae word aan almal gevra, waarvan […]
  • Verder geluister: Psalm 93
    Vir baie lank was Hemelvaart die Kerklike fees wat die minste aandag getrek het.  ‘n Groot rede hiervoor is ons ongemak met  die hemel en die bo-natuurlike wyse waarop Jesus opgevaar het na die hemel. Vir ons modern lewensingesteldheid is hier ‘n hele aantal dinge wat ons nie kan verklaar nie, en daarom vind ons dit moeilik om daaroor te praat met mekaar. Da […]

Read feed