• Tuisblad
  • Johannes
  • Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien

Johannes 9:1–41 – Jesus maak ook my oë oop om Hom as Here raak te sien

RUS

  • Die Here seën my op die oomblik met insigte en moontlikhede in terme van ons gemeente.  Ek dank die Here vir sy voorsiening en sorg.

HOOR

  • Ek lees die verhaal van die blinde man – het onlangs ook daaroor gepreek.
  • Die volgende aspekte tref my:
Onthou dat Jesus reeds in hoofstuk 8 gepraat het oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is.  Hier word die tema van lig voortgesit, in terme van die lig wat Jesus bring in die lewens van mense, fisies deur blindheid te genees, maar ook geestelik deur die blinde man te laat raaksien dat Hy inderdaad die Seun van die mens is, en die man in Hom kan begin glo.

Soos egter regdeur die evangelie die geval is, is daar ook die mense wat ten spyte van alles kies om in die duisternis te bly, en nie te sien nie.

Ons sien  vier hoof rolspelers in hierdie gedeelte oor wie Johannes uitbrei oor wat hulle gesien het – die dissipels, Jesus, die Fariseërs en die blinde man:

Die dissipels – 9:1-2: Die dissipels wil by Jesus weet of die man se blindheid vanweë sy eie sonde of sy ouers s’n is.  Die Jode het steeds geglo dat sonde agter siekte sit, óf die ouers s’n (Eks 20:5) óf die individu s’n (Jeremia 31:29-30; Esegiël 18).

Jesus – 9:3-12: Hoe mooi staan dit nie in vers 1 nie: “Terwyl Jesus wegstap (van die dreigende steniging af!), sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was.” In die druk van die teenstand sien hy steeds iemand in nood raak en neem inisiatief om na die man uit te reik en genade aan hom te betoon.

Jesus korrigeer ook sy dissipels se perspektief op die blindheid van die man – die siekte is nie die gevolg van die blindgebore man of sy ouers se sonde nie.  “Maar hy is blind, sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”  Hy wat die lig vir die wêreld is, gaan lig vir dié man bring deur sy blindheid te genees.

Daarom maak Jesus met spoeg en grond ’n bietjie klei aan, smeer dit op die blinde se oë, en gee opdrag dat hy hom in die Siloambad moet gaan was.  Dit bring vir hom genesing, maar vir die bure en ander mense wat hom as bedelaar geken het, sowel as vir sy ouers, verwarring.

Terloops: Johannes praat van 2 poele in sy evangelie.  In hoofstuk 5 noem hy die poel van Betesda en hier in hoofstuk 9 praat hy van die poel van Siloam.  Volgens nuwe navorsing (Ronny Reich) is dit moontlik dat dié 2 poele albei gebruik is vir rituele reiniging, voordat jy na die tempel toe is.  Albei het trappe wat na ’n platform toe lei, wat ooreenkom met ander sulke bekende plekke (mikvoth) in Jerusalem.

Dit beteken dat Jesus se opdrag aan die blinde man om hom by die poel van Siloam te gaan was, het hom in kontak gebring met die pelgrims wat hulle daar kom reinig het.  Maar sy uiteindelik verbanning uit die sinagoge het die deur na die tempel waarskynlik ook vir hom toegemaak.

Die Fariseërs – 9:13-34: Die Fariseërs ondervra die eens blinde man.  En in plaas van blydskap oor ’n wonderlike gebeurtenis, ondersoek hulle die godsdienstige implikasies van sy genesing en kom tot ’n negatiewe gevolgtrekking.  Dit is ’n probleem dat die man op die sabbatdag genees is.  Dit beteken ook vir hulle dat Jesus nie van God af kan kom nie, anders sou hy nie op die sabbatdag genees het nie.  Wat eintlik gebeur is dat hulle in Jesus ’n bedreiging vir hul godsdienstige mag sien.  Hulle het dus geen kapasiteit om deur God verras te word, of om te aanvaar dat God iets nuuts kan doen in Jesus nie. Daar is darem dié wat voel dat as Hy ’n sondaar was, sou Hy nie wondertekens kon doen nie, maar hulle is in die minderheid.

Hulle ondervra ook die man se ouers.  Let op hoe hulle vis vir enige moontlikheid dat die man miskien nie blind was nie.  Hulle wil hulle aanname bewys dat hier niks spesiaal gebeur het nie.  Die ouers weet egter hulle loop die risiko om uit die sinagoge geban te word: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”

Dan loods die Fariseërs ’n laaste aanslag op die man.  Hy word eintlik half gedwing om met hulle saam te stem. Volgens hulle het Jesus die wet oortree, en kan daarom niks anders as ’n sondaar wees nie.  As die eens blinde man dus nie met hulle saamstem nie, kies hy die kant van ’n sondaar.

Maar, dan begin die man hom loswikkel uit hulle greep, en vra met ’n sweem van sarkasme, of die Joodse leiers hom nou só uitvra omdat hulle Jesus se dissipels wil word!  Ironies genoeg antwoord die geneesde dat Jesus se herkoms net van God af kan wees, anders sou Hy nie hierdie dinge kon doen nie.  Hy bely dus wat die geestelike leiers nie kan insien nie, selfs voor Jesus regtig sy oë oopmaak!  En, soos ’n mens kan verwag, die Fariseërs word kwaad en gooi die man wat genees is uit die sinagoge en tempel.

Hoe verskriklik is dit  nie.  Diegene wat meen dat hulle kan sien, is eintlik blind.  God sal altyd by die menslike verstaan hou van hoe die reëls werk, meen hulle.  Hulle wat meen hulle kan sien, en spesifiek namens ander sien, is eintlik blind.

Die blinde man – 9:35-41: Let op hoe die verhaal afsluit met die feit dat die blinde man se sig nie net fisies herstel is nie, maar leer om Jesus as die Gestuurde van God (Siloam beteken gestuurde) raak te sien.  Let op hoe sy begrip van Jesus groei deur die gedeelte:

  • Eers praat hy van die “man met die naam Jesus” – ’n neutrale begrip (vers 11).
  • Dan in die gesprek met die Fariseërs noem hy Jesus ’n profeet (vers 17).
  • In die loop van die gesprek bely hy dat Jesus “van God af kom” (vers 33).
  • En wanneer Jesus hom weer ontmoet, help Jesus hom om in die Seun van die Mens te glo, en bely en aanbid hy Jesus as Here (vers 38).

So sien die blinde man twee keer die lig.  Eers word sy fisiese oë geopen.  Dan word sy geloofsoë geopen.  Hy herken die Lig vir die wêreld.

LEEF

  • ‘n Mens kan enige rolspeler se perspektief op jouself van toepassing maak.  Ons kan ook miskien soos die dissipels in teologiese debatte vasval.  Of soos die Fariseërs dink aan die implikasies vir jou eie godsdienstige posisie.  Of Jesus toelaat om jou visie algaande te verdiep dat jy Hom as God en Here raak sien en aanbid.
  • Ek dank die Here dat Hy ook vir my die lig is, en van my ’n ligdraer maak, soos ek ook gister gebid het.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment


+ 1 = two

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk

    O ja, en sommer ‘n kort opmerking oor die “broers” waarvan hier gepraat word. Die algemene gebruik in die Griekse literatuur van daardie tyd was om die Griekse adelphoi as ‘n versamelterm vir “broers en susters” in ‘n familiekonteks te gebruik. Dit is dan ook wat Jesus hier bedoel met die term “broers”. Hy praat van die hele familie van gelowiges, almal wat sy volgelinge is, mans en vrouens, seuns en dogters.

  • Chris van Wyk

    Iemand vra my of die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 nie tog ook van die geringstes in die algemeen praat aan wie barmhartigheid bewys moet word nie?

    Daar is heelwat geleerdes wat dié teks só interpreteer, en wat dan verwys na ander Matteus tekste wat bv. oor vyande praat wat lief gehê en voor gebid moet word (Matt. 5:43). Maar dan lees hulle die betekenis van ander – weliswaar geldige – aksente in die Skrif in in ‘n teks wat vir my gevoel ‘n ander doel het. Daar is ook nog ander geleerdes wat dink dat Jesus eintlik hier verwys na die Jode – dws sy volksgenote – in onderskeid van die skape (Christene wat barmhartig is teenoor Jode) en die bokke (díe wat nie barmhartig is teenoor die Jode nie). Dit is ‘n interpretasie wat egter vir my heeltemal vreemd is aan hoe ek die teks lees.

    Die teks sê: “wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.” Ek dink dat Jesus hier van die geringstes as deel van die gemeenskap van gelowiges praat, meer nog, dat Hy van die dissipels praat, dié wat Hy binnekort weer gaan uitstuur om die Groot Opdrag van evangelieverkondiging te gaan uitvoer. Ek dink ‘n mens moet die teks dus nie te algemeen interpreteer nie, want dan mis jy die impak wat die teks op die dissipels gehad het wat hierna geluister het. Hulle het hier gehoor dat God mense (skape) sal gee om hulle te vertroos in hulle sending, en dat dié wat hulle in die proses ignoreer (bokke) die lewe sal mis. Hulle het ook gehoor dat hulle só teenoor mekaar moet optree. Dit korreleer dan ook met die uitsending van die twaalf vroeër in die evangelie waar die vrede wat God gee gebly het op dié wat ontvanklik daarvoor is, en dit het beteken dat hulle die dissipels met gasvryheid ontvang het. En dit beteken dat ons vandag ook meer moeite moet doen met kinders van die Here wat dit swaar het in hulle gehoorsaamheid ter wille van die Here Jesus.

    Daar is natuurlik baie ander gedeeltes in die Bybel wat praat oor vreemdelinge aan wie barmhartigheid bewys moet word, en vyande wat lief gehê moet word, wat genoegsaam sê dat barmhartigheid aan almal bewys moet word. Dit is immers hoe die Skrif God teken, wat vir almal goed is, die goeies en die slegtes. ‘n Mens het nie Matteus 25 nodig om dít te kan sê nie.

    Matteus 25 het dus vir my ‘n spesifieke boodskap van barmhartigheid aan die dissipels, binne die groter boodskap van barmhartigheid aan almal – selfs donkies van jou vyand moet uit die put gehelp word! Altans, dit is waar ek nou in my interpretasie is. Sal graag verder hoor hoe julle hieroor dink.

    Ek het verlede week ‘n getuienis van een van ons lidmate gehoor wat vir my ‘n Matteus 25 storie is. Ek haal my weergawe daarvan op ons Facebook bladsy vir julle aan ( https://www.facebook.com/ngkerksomerstrand):

    Wat sou jy maak as jy in gietende reën net na die dorpie Paterson ry en jy sien langs die pad drie jongmense met net die gesigte wat uitsteek onder hulle reënjasse?

    Een van ons lidmate, Cornell Lamprecht, het besluit om te stop al was haar motor vol van plante en honde op pad na hulle kleinhoewe in Riebeeck-Oos. Hulle storie het vir haar vreemd geklink. Die jongmense is daar met niks geld, klere of selfone nie, maar hulle volg die pad wat die Here hulle lei. Ma wat Cornell is, laai sy hulle egter in, en neem hulle saam, waar Manie, haar man, ook betrokke raak.

    Stadig ontvou die storie. Die jongmense is van Global Challenge in Jeffreysbaai, waar vorige lidmate van ons Marietjie en Johann McFarlane nie net by dié opleiding betrokke is nie, maar ook die skool bestuur. Ná ‘n vinnige oproep na my toe en ‘n gesprek met Johann blyk hulle storie waar te wees. Hulle is besig met die Lukas 10 projek. Hulle word in groepe uitgestuur en gaan waarheen die Here hulle lei.

    Die gemeenskap in Riebeeck-Oos het die vrede wat die jongmense gebring het, ontvang, en op die ou end het die hele gemeenskap ‘n wonderlike naweek met die 3 jongmense gehad en is almal deur hulle geraak. Almal is die Sondag saam klipkerk toe waar Ds Murray sy dissipelskap preek onmiddelik aangepas het in Engels om die Botswana meisie te akkommodeer.

    Al drie was toe ook nie so jonk nie, omtrent 25 jaar oud, nagraads gegradueer en het al gewerk. Eric is eintlik n proponent van ons kerk! Hulle is op pad Suid Amerika toe. Eric is ook toevallig (Godsvallig!) goeie vriende met die McFarlane tweeling. Die Here werk voorwaar op merkwaardige wyses! Hulle het ook vanoggend ‘n lift tot in Jeffreysbaai gekry saam met ‘n plaaslike boervrou.

    Die volgende keer dat jy iemand langs die pad sien … of iemand by jou huis aanklop … onthou dié storie!

  • Chris van Wyk

    En daar is ‘n skatkis van woorde in die biblioteek wat God vir ons met al die boeke van die Bybel gegee het! Geniet!

  • Carel

    Dit is net merkwaardig hoe die woord van God n mens telkemale onder alle omstandighede ,versterk en insig gee in jou lewe wanneer jy dit die nodigste het

    Groete en seenwense

  • Carol

    Baie dankie…sal gaaf wees as dit ook in gedrukte vorm verkrygbaar kan wees en sal op die uitkyk wees daarvoor. Sterkte en dankie vir al die moeite, tyd en energie wat hierin gegaan het en nog gaan.